• Login
  • Search Icon

In die kring van spotters

April 2012

– April 2012

grootneef

Beste Grootneef

Een van die bymekaarkomplekke om stories uit te ruil, is die bandeplek op die dorp. Verlede week sit ek lekker op die houtstomp voor die toonbank en kyk hoe die manne met hul bandeskete inklok. Hier ‘n stadige lek op ‘n agterwiel en daar weer ‘n afgeloopte band om weer in balans getrek te word. My eie en verskeie ander se ellende: ‘n slaggat wat ‘n gat in ‘n band gehap het. Danksy slaggate blom die bandebesigheid, ek sê jou.

Op die ou end sit ons in ‘n kring en stories ruil oor die mieliestand, speenkalfpryse, jakkalse wat lammers uitvang en wat nog. Dit is toe dat die ding uitkom wat algar opstroppelis maak.

Nee kyk, waar is die dae van ‘n handskud met ‘n kode van “jou woord is jou eer”. Lyk my die gees van hebsug het soos vrot suurdeeg tot tussen ons eie mense ingesyfer. Die manne in die kring het almal hul storie van hoe hul ingeloop is, nie deur vreemdes nie hoor, maar eie gemeentelede.

Mý deposito vir springbokke loop nou nog in die Nood-Kaap rond, die goed is nooit afgelewer nie. Sowaar, nie almal in die wildbedryf is skelm nie, maar al die skelms is in die wildbedryf. So het elk sy storie van lapwerk wat nie gehou het nie of ‘n ding wat afgelewer is wat nooit behoorlik aan die werk kon kom nie, of wat ook al.

So tussen die klank van wieldoppe wat val en bande wat afblaas, was renosters volgende op die sakelys. Kan jy glo, volgens die geelbladsye word ‘n renoster elke 17 uur gestroop! In die eerste twee maande van vanjaar is al meer as 70 vir hul horings geskiet. Skande man, ek sê jou. En die veldwagters in die Kruger sit op hul jisse en staak, terwyl toeriste op die een na die ander dooie renoster afkom. Oom Paul draai in sy graf. So staak ons onsself in die groot vier in.

Soos dit nou maar gaan met ‘n kring van spotters, is daar ‘n natuurlike vloei van pratery na rugby. Die Blou Bulle met hul pienk truie het die oë laat rek. Dit lyk egter of niemand té kwaad is daaroor nie, so lank die klomp net in die pienk truie doer onder bly wen. ‘n Cheetah in ‘n pienk trui? Nee wat, daarvoor was daar nie aptyt nie.

Grondsake? Dit is so half stil op die front oor hierdie netelige ding. Die manne is wel verward oor die president se uitspraak dat gewillige kope en verkope kwansuis nie sou werk nie. Dit werk dan vir alle ander transaksies waar die staat se amptenary nié by betrokke is nie! Hoe gemaak met die groenskrif weet niemand nie en almal wag oor nuus hoe die dinge vorentoe gaan werk.

Die volgende draai vat aan die reën wat so kol-kol val. Die nuutste statussimbool is om met ‘n bakkie vol modder Sondae by die kerk te kom. Die jaloersbuie wat deur die distrik trek, omtower sommige landerye in mielieplantasies, terwyl net ‘n paar myl verder aan, veld en aanplantings lyk asof dit omtrent nog niks in hierdie seisoen gereën het nie. Die reën maak vanjaar almal deurmekaar.

Ou Neef, op dié noot het ek verneem dat my twee nuwe bande voorop is, als gebalanseer en gespoor, reg vir die pad. Só is ek dan vort uit die kring van spotters. Net vinnig by die koöperasie langs vir ‘n paar soutblokke vir die wildskamp, dan terug plaas toe. Hoop daar val ‘n paar druppels vanmiddag.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: April 2012

Section: E-mails

Search