• Login
  • Search Icon

Hernubare energiegeleenthede in landbou

November 2011

EUGENE MULLER, BESTURENDE DIREKTEUR, FARMSECURE CARBON

Om by te dra tot Farmsecure se visie van “volhoubare en winsgewende landbou”, is Farmsecure Carbon hard besig om geïntegreerde energie-oplossings in plek te sit.

Farmsecure Carbon, ‘n deel van die Farmsecure groep van maatskappye, se hernubare energie-besigheidsfokus wissel van primêre landbou en bosbou-biomassa tot kleinskaal hidro. Hierdeur word bygedra tot die vervulling van die wyer doel, naamlik die bevordering van volhoubare en verbeterde omgewingsbestuurspraktyke wat bydra tot die plaaslike ontwikkeling in die gemeenskappe waarin Farmsecure bedrywig is.

Meganisme

Farmsecure Carbon fokus hoofsaaklik op die herwinning van biomassa vir hernubare energieprojekte, die verhandeling van koolstofkrediete deur kweekhuisgasvermindering en die verwerking van byprodukte na kunsmis. Om dít te bereik word ‘n volle reeks professionele dienste gelewer wat ‘n bydrae tot volhoubaarheid en verbeterde omgewingsbestuur maak.

Die projekte word ook geregistreer om koolstofkrediete via die Verenigde Nasies (VN) se Skoonontwikkelingsmeganisme (Clean Development Mechanism, CDM) te verdien. Dié meganisme staan koolstofkrediete toe aan groen-tegnologieprojekte in ontwikkelende lande wat hulle weer op die internasionale koolstofmarkte as gesertifiseerde vrystellingsvermindering (Certified Energy Reductions, CER’s) kan verkoop om sodoende ‘n inkomste daaruit te genereer.

Projekte

Farmsecure Carbon het tans ‘n portefeulje van meer as 20 afval-tot-energieprojekte in verskillende stadiums van ontwikkeling, met meer as 30 MW se hernubare energieprojekte wat ekonomies is om te implementeer.

Die grootte van die ekonomies lewensvatbare projekte begin by so klein as 250 kW en die kapitale koste wissel na gelang van die tegnologie wat gebruik word om die biomassa te verwerk. Die gekose tegnologie verskil ook en is gebaseer op die aard van die materiaal wat as bron gebruik word om dit na metaangas as energiebron om te skakel.

Die maatskappy vorm gewoonlik ‘n gesamentlike onderneming met die kliënt op wie se perseel die biogas-projek gebou word. Wins uit die verkoop van elektrisiteit, koolstofkrediete en bemesting as neweproduk, word gedeel.

Daar is ook ‘n navorsingseenheid in Pretoria waar tegnologie getoets word om veemis en biomassa in gas om te skakel. Hier is die fokus om gasproduksie te verbeter en om werklike inligting in te win rondom die afval wat gebruik gaan word in die eerste projekte.

Vordering

Daar is onder andere reeds met omgewingsimpakstudies vir sewe projekte in Suid-Afrika begin waar veemis asook geskikte biomassa (soos voedselafval en graangewasse) na metaangas of produseerdersgas, vir kragopwekking of as hittebron, omgeskakel gaan word.

Die eerste fase van projek-implementering sluit in die aktiewe ontwikkeling van 15 MW se projekte waarvoor daar reeds ‘n kragvoorsieningsooreenkoms onderhandel is om die elektrisiteit te verkoop.

Die teiken is om 100 MW se hernubare energieprojekte oor die volgende vyf jaar te ontwikkel. Hierdie projekte is regoor sub-Sahara Afrika geleë en wissel tussen voerkrale, melkerye en vark- of hoenderboerderye tot saagmeulens, sowel as groente- en vrugte-afval.

Energiegewasse

Gewasse wat verbou word kan omgeskakel word in energie wat op die plaas benodig word. Dit is in teorie moontlik om die kragbehoefte van ‘n besproeiingstelsel te voorsien deur 10% van die graangewasse daarvoor in ‘n anaerobiese verteerder te gebruik.

Afhangende van die spesifieke gewas wat verbou word, kan verterings- of verbrandingstegnologie toegepas word. ‘n Lewensiklusanalise (Life Cycle Analysis, LCA) wys dat albei roetes op ‘n volhoubare wyse geïmplementeer kan word indien die effek op die aarde, mense en winsgewendheid in ag geneem word.

Groter eenhede soos dié is ook moontlik indien daar ‘n afset beskikbaar is vir die energie wat opgewek word. Die energie kan aangewend word as elektrisiteit, hitte of selfs alternatiewe brandstof wanneer die gas skoongemaak en saamgepers word.

Die ekonomie van só geleentheid hang grootliks af van die koste waarteen so ‘n gewas oor die lang termyn aan die aanleg voorsien kan word.

Farmsecure Carbon se kennis en begrip van die moontlikhede is ver gevorder en daar is loods-skaalprojekte in plek wat gebruik word om die potensiaal (gewasopbrengs asook gasopbrengs) van verskillende gewasse te bepaal. Die energiegewasse wat oorweeg word, sluit in:

  • gewasse met ‘n hoë persentasie droë materiaal, soos grasse en bome;
  • gewasse met ‘n hoë suikerinhoud, soos suikerriet en -beet; en
  • gewasse met ‘n hoë olie-inhoud, soos sonneblom en sojabone.

Farmsecure Carbon se krag lê in sy holistiese en wetenskaplike benadering ten opsigte van landbou, wat dit moontlik maak om op ‘n volhoubare wyse ‘n bydrae te maak tot voedselproduksie asook energieverskaffing en verminderde groenhuisgasvrystellings na die atmosfeer wat tot voordeel is vir die omgewing.

Publication: November 2011

Section: Input Overview

Search