• Login
  • Search Icon

Groter stroperkapasiteit beteken meer voordele vir produsente

August 2013

— maar groter uitdagings vir graaninname
 

image

WESSEL LEMMER, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Verandering in die graan- en oliesademarkte vind soms so geleidelik plaas dat dit ongemerk verbygaan sonder verdere nadenke. Een hiervan is die feit dat produsente toenemend stropers aanskaf met ‘n groter stroopkapasiteit en stropers wat ook groter vragte kan dra.

Dit is nie net die stroopkapasiteit van nuwe stropers wat ‘n rol speel nie, maar ook die spoed waarteen gestroop word.

Stropers kan tot 12 km/uur stroop indien die produksieterrein of kwaliteitbeperkings (gebreekte pitte) ‘n groter stroperspoed as 8 km/uur toelaat. In die VSA het die bedryf voldoende bekostigbare drogingsfasiliteite en mielies kan teen ‘n voginhoud van 20% gestroop word, wat ‘n hoër stroperspoed toelaat.

Droër mielies word in Suid-Afrika gestroop, wat meer gebreekte pitte kan oplewer indien die strooptempo aggressiewer gemaak word – dit kan kwaliteit beïnvloed. In die VSA word minder aandag hieraan gegee omdat die geelmielies vir die voermark bedoel is, mielies weens die klimaat en droogfasiliteite natter gestroop kan word, en die produk uitsluitlik vir die veevoermark bedoel is.

Ingevoerde gedroogde voermielies het al ‘n gruisinhoud van tussen 25% tot 30% gehad. Alhoewel ingevoerde stropertegnologie vir plaaslike behoeftes aangepas word, maak dit ook nie sin om in kapasiteit te belê wat nie benut kan word nie.

Tabel 1 tref ‘n vergelyking in die verandering in stroperaankope tussen 2002 en 2012. Gedurende 2012 is 338 eenhede verkoop teenoor 182 in 2002. 2002 was ‘n droë jaar wat stroperaankope negatief kon beïnvloed. Daar is 85,7% meer stropers in 2012 as in 2002 verkoop.

image

Daar is ook nie net ‘n groter aantal stropers verkoop nie, maar ook groter stropers. Die gemiddelde kraglewering van die totale aantal verkoopte stropers het 187,3 kW in 2002 beloop, terwyl die gemiddelde kraglewering 259,2 kW in 2012 was. Die gemiddelde stropergrootte wat in 2012 deur produsente aangekoop is, se kraglewering is 38,4% meer.

Groter kraglewering, hoër doeltreffendheid en ‘n groter aantal stropers beskikbaar, hou vir produsente die volgende voordele in:

  • Die stroopseisoen is korter en produsente kan gouer met voorbereidings vir die volgende aanplantings begin.
  • Tydwaarde van geld is ‘n belangrike faktor omdat kapitaaldelging op ‘n bestaande lening groot rentebesparings kan inhou. Waar ‘n produsent byvoorbeeld vroeër drie maande geneem het om te stroop, kan die tydperk potensieel na ‘n maand of korter verkort word.
  • Meganisasie maak dit moontlik om byvoorbeeld drie kleiner 8-ryplanters met een groot 24-ry-planter te vervang. Dienooreenkomstig word byvoorbeeld twee kleiner stropers met een groot stroper vervang wat kapitaal- en arbeidsdoeltreffendheid verhoog.
  • Indien graan vroeg afgedroog en gestroop kan word, kan vroeë prysgeleenthede in die markplek benut word omdat binnelandse oorddragvoorrade meer knap is as in die verlede.
  • Nog ‘n groot voordeel is die feit dat graan tydig teen die vereiste voginhoud gelewer kan word en produsente in staat is om vogverliese tot die minimum te beperk.
  • Die tydigheid van stroop en risiko met kwaliteitsverliese weens reën in die strooptyd van koring word grootliks verminder met ‘n stroper met ‘n groter stroopkapasiteit. Die gevaar om oeste op die land weens brande te verloor, word ook verminder.
  • Een van die belangrikste voordele is dat die vensterperiode vir plaaslike uitvoere, voordat die jaarlikse VSA mielie-oes op die mark kom, met meer as ‘n maand verleng is.

Groter stropers beteken egter dat produsente se weglaaikapasiteit vergroot. Dit vereis ‘n groter vervoermiddel vir die graan na die silo of groter vervoerkapasiteit wat deur vervoerkontrakteurs verskaf moet word.

image

Grafiek 1 tot Grafiek 3 is saamgestel met behulp van data wat deur SAGIS verskaf is. Die totale produsentelewerings het in 2002/2003 ongeveer 9,3 miljoen ton beloop. Dit was ‘n droë produksiejaar en die verwagting is dat lewerings vroeër sou plaasvind.

Die 2012/2013-produksiejaar (lewerings vanaf Maart 2012 tot einde Februarie 2013) het ‘n groter produksie van 11,7 miljoen ton as die 2002/2003-jaar opgelewer. Indien die betrokke jare se maandelikse lewe rings met mekaar vergelyk word, is dit duidelik dat die maand waarin die meeste produsentlewerings plaasvind, met een maand vervroeg het. Produsente in die Vrystaat lewer mielies oorwegend gedurende Junie in stede van Julie en produsente in Mpumalanga lewer die meeste van hul mielies in Mei in stede van Junie.

Die groter tempo waarteen die oes na silo’s stroom, het ook groot uitdagings aan opbergers gestel wat aanpassings moes maak om ‘n groter innametempo te voorsien. Dit is dus nie net ‘n groter hoeveelheid graan wat weekliks ingery kan word nie, maar ook die feit dat die graan vroeër gestroop en ingery kan word.

Van die aanpassings wat by silo’s gemaak word, sluit die volgende in:

  • Langer voertuie vereis langer weegskale.
  • Die dra-arms wat voertuie vir aflaai moet lig, vereis aanpassings en die roosters oor die aflaaiputte moet geverifieer word dat dit die groter vragte kan dra.
  • Sommige silo’s maak voorsiening om natter graan, byvoorbeeld mielies, tot ‘n 16% voginhoud in te neem sonder bykomende koste vir produsente. Die opbergers installeer beter deurlugting in silo’s.
  • Die verval van spoorinfrastruktuur het unieke uitdagings geskep omdat die uitlaai van graan op sylyne afgeneem het en in sekere gevalle is bykomende infrastruktuur nodig om ‘n toename in padvervoer aan die uitlaaikant te akkommodeer.
  • Indien die silo-infrastruktuur toegerus word met beter drogingsfasiliteite, bied dit aan die produsent die geleentheid om vroeë prysgeleenthede in die mark te kan benut. In die VSA word mielies teen ‘n voginhoud van 20% gestroop en afgedroog na die vereiste voginhoud vir opberging.
  • Die inname van graan met ‘n hoër voginhoud lei tot minder gebreekte pitte. Mielies val met inname tot 30 m in ‘n 7 000 ton tot 9 000 ton buis en veroorsaak ‘n groter persentasie gebreekte pitte.
  • Een van die aspekte wat die aflaaitempo kan vertraag, is wanneer die innamepunte beperk is en verskillende grane soos sonneblom en sorghum gelyktydig gelewer word. Wanneer graan gedroog moet word, kan dit ook die aflaaitempo beïnvloed en langer omdraaitye veroorsaak. Verskeie silo’s het byvoorbeeld vir die eerste keer begin om sojabone ook in te neem.
  • Die tempo waarteen monsters geneem en gegradeer word, is ook verhoog en meer volledig gemaak deur die inwerkingstelling van nuwe gemeganiseerde monsternemingsapparate.

Een van die duurder aanpassings wat nie maklik gemaak kan word nie, is dat die aflaaiputte oorspronklik ontwerp is vir kleiner en korter vragte soos 10 ton sleepwaens.

Sommige landboumaatskappye het reeds die nodige aanpassings gemaak wat daartoe bydra dat innames vinniger kan geskied en die langer wagtydperk en lang toue voertuie wat voorheen by silokomplekse waargeneem is, heelwat afgeneem het.

Die verhoogde strooptempo van nuwe stropers en stroopkapasiteit bied aan produsente spesifieke voordele wat tot ‘n groter mate ontsluit kan word met voldoende graaninnametempo’s by opbergers.

Publication: August 2013

Section: Input Overview

Search