• Login
  • Search Icon

Grondboonproduksiekalender vir Meimaand

May 2013

image

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Meimaand hou baie uitdagings vir die grondboonprodusent in. Met aanplantings wat eers laat Novembermaand tot diep in Desember plaasgevind het, raak produsente nou kriewelrig om grondbone uit te haal. Die algemene gevoel tussen produsente is dat sodra Paasnaweek verby is, kan die grondboonuithalers maar land se kant toe staan. Dié jaar geld hierdie reël egter glad nie.

Laat aanplantings het veroorsaak dat oestyd met meer as ‘n maand geskuif het. Die produsent moet ook besef dat laat aanplantings nie die opbrengspotensiaal gaan hê as wat vroeër aanplantings het nie. Die grootste vraag bly: Wanneer is die regte tyd om hierdie laat grondbone uit te haal?

Die antwoord hierop is glad nie maklik nie. Daar is grondbone wat weens droogte stilgestaan het en eers ná onlangse reënbuie ankers begin maak het. Die besluit in dié geval is ook geensins maklik nie. Daar moet besluit word of daar genoeg tyd sal wees vir die peule wat wel gevorm is om volwassenheid te bereik en of dit beter sal wees om eerder die aanplanting vir voer te gebruik.

Ryp gaan beslis in dié maand ‘n rol speel wanneer dit by uithaal gaan kom. Indien daar wel ryp voorgekom het, moet daar dadelik uitgehaal word om uitermatige blaarverlies te voorkom. Waak teen spoed tydens die uithaalproses. Die spoed van die skudtafel op die uithaler self moet ooreenstem met die spoed waarmee uitgehaal word. As die skudtafelspoed te hoog is, is daar ‘n neiging tot groot peulverliese aangesien die plante geruk en pluk word en nie uitgelig word nie.

Tydens die plukproses moet daar gelet word op die vogpersentasie waarby gepluk word en of daar in die sak gewerk word, of is die beplanning om in massa te lewer aan ‘n verwerkingsaanleg? Onthou dat die vogpersentasie by massalewering ‘n groot invloed het op die tydsduur van die droging. Produsente moet maatreëls in plek kry om oesverliese tot die minimum te beperk. Elke pit en peul is dié seisoen goud werd.

‘n Voorspoedige oestydperk word jou toegewens.

Publication: May 2013

Section: Input Overview

Search