• Login
  • Search Icon

Gesertifiseerde saad: Die deurslaggewende inset

March 2016

KOBUS VAN HUYSSTEEN, tegniese beampte: SANSOR Tegnologie

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) is ‘n bedryfsorganisasie wat die belange van die saadbedryf plaaslik sowel as internasionaal verteenwoordig, beskerm en uitbrei.

Die organisasie is ook sedert 1989 die aangewese gesag vir saadsertifisering in Suid-Afrika. Tot op daardie stadium is sertifisering behartig deur die destydse Departement van Landbou, waarna dit weens ekonomiese redes gerasionaliseer is.

Saadsertifisering geskied onder die riglyne en voorskrifte van die Suid-Afrikaanse Saadsertifiseringskema sowel as die Plantverbeteringswet 1976 (Wet 53 van 1976). Sertifisering is egter nie verpligtend nie, maatskappye neem self die besluit of hulle ‘n spesifieke saadproduksie wil laat sertifiseer of nie.

Wat is gesertifiseerde saad?

Gesertifiseerde saad: Die deurslaggewende inset Die feit dat ‘n lot saad deur ‘n geregistreerde onderneming verkoop word en dat daar ‘n ontledingsverslag daarvoor beskikbaar is, beteken egter nie dat daardie saadlot gesertifiseer is nie.

Sertifisering van saad behels ‘n volledige kontrolesisteem vanaf die vrystelling van die variëteit deur die teler daarvan tot en met die uiteindelike beskikbaarstelling van die saad aan die produsent. Dit geskied oor verskeie generasies van vermeerdering heen – wat gewoonlik drie na vier seisoene duur.

Gedurende elk van die onderskeie vermeerderingsfases word daar volledige kontrole uitgevoer, deurdat elke eenheid vir produksie van saad by SANSOR geregistreer word. SANSOR kontroleer eers die oorsprong en sertifiseerbaarheid van die ouersaad van die betrokke variëteit voordat die eenheid aanvaar word vir die produksie van saad vir sertifisering.

 

Tydens die groeistadium word die plante op vasgestelde groeistadiums deur SANSOR-opgeleide en -gemagtigde inspekteurs ondersoek om onder andere te bepaal dat die plante aan die voorgeskrewe minimum vereistes ten opsigte van die variëteitsegtheid en identiteit
voldoen.

Dit sluit in aspekte soos die kontrolering van isolasie-afstande,  vorige gewasse, opslagplante en aftipes wat moontlik die variëteitsegtheid van die saad kan kompromitteer. Vir elke inspeksie wat uitgevoer word, word daar verslag aan SANSOR gelewer – wat dan die bevinding op rekord plaas. Die inspeksieproses word deurlopend deur SANSOR, sowel as beamptes van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) gemoniteer.

Nadat die saad geoes is, word dit dan verwerk en verpak. Weer eens word daar kontrole uitgeoefen om te verseker dat daar geen vermenging plaasvind nie. Die houers waarin die saad verpak word, word dan met voorgeskrewe inligting wat op etikette, wat deur SANSOR verskaf word, gemerk.

Hoe word gesertifiseerde saad onderskei van ongesertifiseerde saad?

Gesertifiseerde saad: Die deurslaggewende inset Vir gesertifiseerde saad word uniek-genommerde blou etiket met die landswapen en die woorde SA GESERTIFISEERDE SAAD: SANSOR daarop gedruk, gebruik.

Elke houer word ook met ‘n SANSOR-seël, ook met ‘n unieke nommer daarop, verseël. Die saad word dan deur SANSOR-opgeleide en -gemagtigde monsternemers bemonster en deur ‘n geregistreerde saadtoets-laboratorium ontleed om die ontkieming en fisiese suiwerheid van die saad te bepaal. ‘n Verdere monster word ook deur die afdeling Variëteitskontrole van DLBV uitgeplant om die variëteit se identiteit met die verwysingsmonster van die betrokke variëteit te vergelyk.

Indien die betrokke saadlot aan al die minimum vereistes van die saadsertifiseringskema voldoen, insluitend dié vir variëteitsegtheid, sal SANSOR dan ‘n sertifikaat uitreik om die sertifisering daarvan te bevestig. Die kenmerklike blou seël, blou etiket en gepaardgaande sertifikaat dien dus as bewys dat ‘n spesifieke lot saad wel in terme van die Suid-Afrikaanse Saadsertifiseringskema gesertifiseer is.

Verskil tussen gesertifiseerde en ongesertifiseerde saad

Tabel 1 toon die verskil van die fisiese vereistes tussen gesertifiseerde en ongesertifiseerde saad.

Gesertifiseerde saad: Die deurslaggewende inset

‘n Verdere wesenlike verskil tussen gesertifiseerde saad en ongesertifiseerde saad is dat die variëteitsuiwerheid en -identiteit van elke produksie in die geval van ongesertifiseerde saad nie deur ‘n onafhanklike organisasie gekontroleer word nie – wat in die geval van gesertifiseerde saad wel deur SANSOR gedoen word.

Saad wat nie aan die vereistes voldoen nie

Alle saad van gewasse waarop die bepalings van die Plantverbeteringswet, 1976 (Wet 53 van 1976) van toepassing is (dit sluit al die belangrike akkerbou-, groente- en weidingsgewasse in), moet aan die vereistes voldoen wat deur die wet voorgeskryf word.

Indien ‘n onderneming, of enige persoon, saad verkoop wat nie aan hierdie minimum vereistes voldoen nie, is hulle aan ‘n misdryf skuldig en kan hulle in terme van die wet vervolg word.

Indien saad gesertifiseer is, moet dit addisioneel ook aan die vereistes van die skema voldoen.

Indien ‘n produsent ‘n klagte het rakende die kwaliteit van saad wat aangekoop is, moet hulle dit eerstens met die betrokke saadmaatskappy van wie die saad aangekoop is, opneem. Maatskappye het interne sisteme en prosesse in plek om saadklagtes te ondersoek en dit word dan dikwels vinnig en effektief afgehandel.

Indien dit egter nie tot bevrediging van die produsent afgehandel word nie, kan die klagte by DLBV aanhanging gemaak word. Beamptes van die Direktoraat Inspeksiedienste sal dan die saak ondersoek.

Daar moet egter daarop gelet word dat indien die klagte nie geregverdig is nie, die klaer vir die ondersoekkostes aangeslaan sal word. Ingeval van gesertifiseerde saad sal SANSOR dan ook betrokke raak, aangesien SANSOR volledig rekord hou van die geskiedenis van elke saadlot wat gesertifiseer word.

Dit is egter baie belangrik dat produsente die etikette wat aan die saadhouers geheg was, moet bewaar sodat die lotspesifieke inligting as verwysing tydens die ondersoek gebruik kan word.

Waarom gesertifiseerde saad plant of vestig?

Deur gesertifiseerde saad aan te koop, kan die produsent die gemoedsrus hê dat die betrokke saadlot deur meer as 90 kontrolepunte gegaan het voordat dit vir verkoop beskikbaar gestel is, dat die produksie van die saad deur ‘n onafhanklike instansie gemoniteer en gekontroleer is, dat daar ‘n volledige produksiegeskiedenis op rekord is en dat die betrokke saadlot voldoen aan vasgestelde minimum vereistes.

Gesertifiseerde saad is saad van konstante bekende hoë kwaliteit wat noodsaaklik is vir risikobestuur in moderne landbou.

Die SANSOR-administrasie

Gedurende die afgelope finansiële jaar is ongeveer 1 800 saadproduksie- eenhede van 31 verskillende spesies by SANSOR onder die voorskrifte van alle nasionale sowel as internasionale saadsertifiseringskemas geregistreer.

Van hierdie ongeveer 1 800 registrasies was sowat 380 eenhede vir pre-basissaad, 430 eenhede vir basissaad en 990 eenhede aangeplant vir die produksie van gesertifiseerde saad.

‘n Totale oppervlakte van 46 716 ha is aangeplant vir die produksie van gesertifiseerde saad van alle generasies. Gedurende dieselfde periode was ongeveer 3 900 sertifikate uitgereik vir die saadlotte met ‘n gesamentlike massa van byna 59 500 000 kg saad.

Hierdie syfers is verteenwoordigend van die gemiddeld wat jaarliks hanteer word. Alhoewel die binnelandse vraag na saad jaarliks varieer afhangende van heersende klimaattoestande en die aanvraag van produsente vir spesifieke gewasse, word die produksie van gesertifiseerde saad gestabiliseer deur die uitvoermark, wat dan ook ‘n belangrike deel van baie maatskappye se strategie is.

Vir die uitvoermark word saad hoofsaaklik ingevolge die internasionale Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) se saadskemas, waarvan Suid-Afrika ‘n deelnemende land is, gesertifiseer.

Ten slotte

SANSOR beskik oor die dienste van nagenoeg 230 gemagtigde inspekteurs en monsternemers wat saam hande vat in die enorme taak om kwaliteit saad aan produsente te verseker. Die organisasie is ook toonaangewend wanneer dit kom by internasionale verwikkelinge en tendense in die saadhandel deur hulle noue betrokkenheid by internasionale organisasies wat daarmee gemoeid is.

In tye waar voedselsekerheid en klimaatsverandering groot besprekingspunte is, kan produsente nie bekostig om kanse te vat met saad (die belangrikste hulpbron) wat nie van die hoogste moontlike genetiese sowel as fisiese kwaliteit is nie.

Saadmaatskappye voeg dus waarde by hulle eindproduk deur dit deur SANSOR te laat sertifiseer. Produsente en gewasverbouers trek direk voordeel uit saadsertifisering, deur saad van hoogstaande kwaliteit te bekom wat die eindproduk is van ‘n intensiewe kwaliteits beheerstelsel.

Publication: March 2016

Section: Focus on

Search