• Login
  • Search Icon

Geintegreerde onkruidbestuur is presisie-onkruidbeheer

September 2015

CHARLIE REINHARDT, buitengewone professor in Onkruidwetenskap, Universiteit van Pretoria en dekaan: Villa Academy

"Presisieboerdery” is ‘n slim konsep, veral waar dit gemik is op die versekering van effektiewe, winsgewende
landbouproduksie. “Presisie” verwys na die verfyning van praktyke – iets wat landbou broodnodig het. Dit verklaar ook waarom ons al hoe meer van “onkruidbestuur” in pleks van “onkruidbeheer” hoor, maar is daar ‘n verskil?

Dit is maklik om te motiveer waarom onkruid uitgeskakel moet word, want produsente weet watter skade dit by ‘n gewas aanrig. Belangriker om van kennis te dra, is die maniere waarop en mate waartoe onkruid met gewasgroei en -ontwikkeling inmeng, want eers as dít na behore verstaan word, kan ‘n suksesvolle onkruidbestuurstrategie ontwikkel word.

Die hoofdoel van só ‘n strategie moet wees om soveel as moontlik beheermetodes te kombineer, maar wel op ‘n geïntegreerde manier en slegs indien toepaslik, met die oogmerk om die gewas maksimaal te bevoordeel ten koste van onkruid.

Met ander woorde, die lukrake saamvoeging van verskillende beheermetodes is nie die naam “geïntegreerde onkruidbestuur” werd nie – behoorlike kennis en beplanning moet daarmee gepaardgaan.

Elke gewas het ‘n “genetiese plafon” wat betref opbrengspotensiaal. Onkruid is maar net een van die vele faktore wat altoos dreig om hier die potensiaalplafon af te druk na iets minder as ideaal. Een ding is seker, onkruid is ‘n konstante faktor wat nie kom en gaan soos plantsiektes en insekte nie; wat des te meer rede is om goed daarvoor te beplan in ‘n bestuurstrategie.

Integrasie van beheermetodes vereis goeie bestuursvermoë van die produsent

Daar is basies vier metodes van onkruidbeheer waarmee ‘n bestuursprogram saamgestel kan word: Chemies (= onkruiddoders), biologies, verbouingspraktyke en meganies (= implemente). Voeg daarby die menslike faktore van tegnologiese hulpmiddels en bestuur en ons het die noodsaaklike elemente van geïntegreerde onkruidbestuur in plek.

Die keuse van ‘n onkruidbeheermetode is primêr afhanklik van die betrokke gewasstelsel, byvoorbeeld: Meganiese beheer is nie ‘n opsie in ‘n geenbewerkingstelsel nie; biologiese beheer in sy klassieke vorm (natuurlike vyande is beheeragente) is vir verskeie redes onprakties in gewasstelsels; onkruiddoders word nie in “organiese” gewasproduksie toegelaat nie.

Belangrike oorwegings behels die volgende: Tipe gewas, gewasrotasiestelsel en onkruidspektrum. Die gevoeligheid van nie alleenlik die huidige gewas nie, maar ook die opvolggewas in die rotasiestelsel is belangrik by die keuse van onkruiddoders en vanselfsprekend moet die gekose middels geskik wees (= geregistreer kragtens Wet 36 van 1947) vir die betrokke gewas en onkruidspektrum.

Geintegreerde onkruidbestuur is presisie-onkruidbeheer

Verfyning van praktyke

Verdere verfyning van bestuurspraktyke behoort in te sluit:

  • Gewas- en kultivarkeuse – sekere gewassoorte/kultivars kan onkruid sterker onderdruk as ander, byvoorbeeld die gewas of kultivar wat vinnig ‘n digte blaredak ontwikkel kan sterk met ligliewende onkruid kompeteer.
  • Aanpassing van plantdatum – skuif die plantdatum indien grondvog dit sou toelaat, om die gewas voor die onkruid te laat opkom. Hiervoor is kennis van die relatiewe ontkiemingsbehoeftes van die gewas en onkruid nodig asook onderskeidingsvermoë tussen meer en minder skadelike onkruidsoorte ter wille van prioritisering van onkruide vir beheer.
  • Plantdigtheid – waar moontlik, verhoog die getal gewasplante per eenheidsoppervlak om so min as moontlik “spasie” vir onkruid te laat. Onkruid kompeteer nie met die gewas vir “spasie” nie, maar vir die groeifaktore wat daarin voorkom, naamlik: Water, voedingselemente en lig.
  • Gewasreste (stoppels) as deklaag vir die onderdrukking van onkruid – hierdie praktyk is ‘n vorm van biologiese beheer wat nie alleenlik berus op die fisiese afskerming van lig nie, maar ook op die vrystelling van onkruid-onderdrukkende (fitotoksiese) biochemikalieë uit dooie plantmateriaal wat die deklaag uitmaak.
  • Vir meer inligting oor die gebruik van organiese deklae vir onkruidonderdrukking word lesers verwys na die skrywer asook dr Suzette Bezuidenhout (LNR, Cedara) en dr Mike Ferreira (Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, Wes-Kaap, Elsenburg) wat hierop navorsing doen in onderskeidelik die somer- en winterreënvalstreke.
  • Voorkom dat onkruide saadskiet – die onkruidsaadbank is in die meeste gevalle alreeds enorm groot, met slegs ‘n fraksie (rofweg 1% - 10%) van die saad in grond teenwoordig wat in ‘n bepaalde seisoen ontkiem en plante word. Die hoofstrewe in enige onkruid bestuursprogram behoort die uitputting van hierdie saadbank te wees.
  • Wanneer ‘n produsent kla oor swak onkruidbeheer, moet oorweeg word dat die beheer in werklikheid dalk 99% was en dat dit die oorblywende 1% van ‘n enorme saadbank is wat op die land sigbaar is.
  • Kennis van onkruid en hul biologie sal voorkom dat onkruide waarvan die sade jare lank in grond lewenskragtig kan bly, toegelaat sal word om nuwe saad tot die saadbank te voeg.
  • Die beste praktyk vir die uitputting van die onkruidsaadbank is om reeds voor-plant toe te laat dat onkruid opkom en dan nieselektiewe onkruiddoders met geringe tot geen residuele werking toe te dien – soos glifosaat en parakwat. Omdat hulle in ‘n tenkmengsel chemies reaktief is, moet hulle alleen of opeenvolgend toegedien word. Waar hulle as “dubbel-uitklop” (double knock) ingespan word, moet glifosaat eerste toegedien word en daarna, indien nodig, parakwat. Omdat glifosaat se werking berus op vrye translokasie binne-in plante, sal parakwat se kontak-aksie die werking van glifosaat verswak.
  • Onkruiddoders wat tydens-plant/na-plant of voor-opkoms toegedien word, is ‘n ekstra hulp vir voor-plant toegediende onkruiddoders omdat hulle effektiewe onkruidbeheer kan uitrek oor ‘n langer tyd in die groeiseisoen. Dit is veral belangrik in die geval van onkruide wat oor die hele seisoen ontkiem.
  • Na-opkoms toegediende onkruiddoders se hoofdoel behoort te wees om onkruid wat die aanvanklike behandelings ontsnap het te beheer asook om die periode van effektiewe onkruidbeheer verder te verleng.
  • Behalwe die vermoë om onkruide korrek te kan identifiseer, behoort gereelde verkenning van die land gedoen te word om die verspreiding en dominansie van verskillende soorte te monitor en bes moontlik, te karteer met die oog op spesiale aandag.

Onkruidweerstand teen onkruiddoders

Aangesien onkruiddoders steeds die mees koste-effektiewe beheermetode is en in geenbewerkingstelsels die enigste opsie is, word voorts hieraan aandag gegee, spesifiek wat betref die risiko dat onkruiddoderweerstand kan ontwikkel.

Die vyf “goue” reëls van onkruidweerstandbestuur verdien om hier herhaal te word:

  • Hou onkruidgetalle laag – verminder daardie “een in ‘n miljoen”-kans dat selfs ‘n enkele onkruidplant op ‘n natuurlike wyse weerstand teen ‘n onkruiddoder(s) opbou.
  • Voorkom dat onkruid saadskiet op enige stadium in die groeiseisoen, veral nie in situasies waar weerstand reeds bestaan nie.
  • Moenie ‘n enkele onkruiddoder, of meer as een onkruiddoder wat almal dieselfde meganisme van werking het, seisoen na seisoen of teen ‘n hoë frekwensie in ‘n seisoen gebruik nie. Span meer as een meganisme van aksie in – dit kan bereik word met klaargeformuleerde mengsels of met tenkmengsels van onkruiddoders met verskillende meganismes van aksie.
  • Vermy oordosering en onderdosering, want beide kan weerstand bevorder.
  • Integreer verskillende onkruidbeheermetodes waar toepaslik.

Die somerreënvalstreek van Suid-Afrika is tot dusver die probleme wat onkruiddoderweerstand inhou gespaar. Bewese gevalle van weerstand is beperk tot die Wes-Kaap, maar die voorkoms van dieselfde onkruidsoorte in die somerreënvalstreek, tesame met die gebruik van dieselfde onkruiddoders, hou ‘n risiko in.

Daarbenewens is daar verskeie onkruidsoorte in Suid-Afrika wat nog nie teen enige onkruiddoder weerstandig gevind is nie, alhoewel dieselfde soorte elders in die wêreld weerstand teen verskeie onkruiddoders opgebou het. Die goeie nuus is dat onkruidweerstand hokgeslaan kan word indien daar gehou word by bogenoemde vyf “goue” reëls.

imageTen slotte moet die produsent onkruidbeheer, spesifiek “geïntegreerde onkruidbestuur”, as ‘n vorm van “presisieboerdery” toepas, want met so ‘n benadering kan die kompleksiteite van onkruidbestuur op die beste manier hanteer word en sal dit bydra tot winsgewende en volhoubare gewasproduksie.

Kontak prof Charlie Reinhardt by 083 442 3427 of dr.charlie.reinhardt@gmail.comvir verdere navrae.

Publication: September 2015

Section: Focus on

Search