• Login
  • Search Icon

Fokus steeds om tot diens van graanprodusente te wees

April 2016

TOIT WESSELS, ledebemarking en kommunikasiebeampte: Graan SA

Fokus steeds om tot diens van graanprodusente te weesTydens die afgelope Kongres het Graan SA terugvoer aan lede gegee wat die resultaat van die heffingsinkomste vir die 2015/2016-seisoen betref.

Alhoewel droogtetoestande oor die land heers en die meeste produsente se oeste skraal lyk, was daar steeds ‘n ongelooflike positiwiteit onder produsente en is die heffing vir die 2015/2016-jaar ook in dié gees ontvang.

Die 2015/2016-oes was slegs ‘n normale tot onder-normale oes  (veral in die Noordwes Provinsie en Swartland-gebied) en die ver hoging van die heffing in 2014 het verseker dat Graan SA se reserwes aangevul kon word om voorsiening te maak vir die tekorte wat gely gaan word weens die droogtetoestande vir die 2015/2016-bemarkingsjaar.

Inkomste

Graan SA het ‘n heffingsinkomste van R14,79 miljoen gerapporteer vergeleke met die vorige jaar se rekord van R18,76 miljoen. Hierdie daling is die resultaat van die droogte en die gevolglike minder tonne wat deur produsente gelewer is.

Die inkomste het egter vir ‘n surplus van ongeveer R1,7 miljoen op die heffingsfonds gesorg, hoofsaaklik as gevolg van drastiese besparings op uitgawes. Die surplus sal na die reserwes geallokeer word om die nodige tekorte vir die nuwe seisoen, wat ontstaan het weens die oorheersende droogtetoestande, te dek.

Agente

Die vordering van die heffing raak ‘n al hoe groter uitdaging soos wat die mark groei en meer kopers die mark betree. Dit verg dat Graan SA vennootskappe met al die kopers en handelaars aangaan. In die vorige jaar het die aantal agente vanaf 40 na 46 verhoog.

Mnr Andries Theron (visevoorsitter en Graan SA en voorsitter van die Bemarkingswerkgroep) het ‘n woord van dank uitgespreek aan agente wat die invordering van die heffing deur hulle kanale bewerkstelling.

Ledetal

Graan SA se fokus is om sy lede van diens te wees. Die droogte het definitief bygedra tot ‘n klein afname in opbetaalde lede – van 3 063 tot die huidige 2 745. Die totale bydraende lede is effens minder as die vorige jaar.

Met ‘n totale ledetal van 4 930 is dit duidelik dat Graan SA ‘n goeie verteenwoordiging van graanprodusente in Suid-Afrika het.

Fokus steeds om tot diens van graanprodusente te weesHeffing

Theron het kennis gegee dat daar volgende jaar tydens Kongres aandag gegee sal word aan moontlike veranderde heffings op die kommoditeite. Vir die hede word al die heffings onveranderd gelaat. Dit is vervat in Tabel 1.

Dankie

Graan SA is ‘n produsente-organisasie en die heffingsinkomste is die hartklop van die instansie en verseker dat hy sy werksaamhede kan voortsit. Theron het ook sy dank teenoor lede uitgespreek vir die getroue bydrae wat hulle lewer en hul die nodige gerusstelling gegee dat die fokus steeds daarop is om graanprodusente in Suid-Afrika van diens te wees.

Publication: April 2016

Section: Grain SA

Search