• Login
  • Search Icon

Fokus op die mielie-uitvoermark

June 2012

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Suid-Afrika het gedurende die 2011/2012-bemarkingsjaar 2 442 493 ton mielies uitgevoer. Die suksesvolle uitvoer van die mielies na veral Meksiko en die Verre Ooste kan toegeskryf word aan die unieke wêreld vraag en aanbod-situasie wat in hierdie wêrelddele geheers het.

Vir die huidige bemarkingseisoen behoort Suid-Afrika nie meer as 1,4 miljoen ton mielies vir uitvoere beskikbaar te hê nie. In hierdie artikel word die jongste wêreld vraag en aanbod-projeksies van die USDA en FAO onder oënskou geneem.

Wêreld en VSA vraag en aanbod

Mielie-aanplantings in die VSA loop gedurende Meimaand tot ‘n einde. Na verwagting gaan die produksie van mielies wêreldwyd met meer as 75 miljoen ton uitbrei wat daartoe gaan bydra dat die wêreldoordragvoorraad met 19,4% vanaf 128 miljoen ton op 31 Augustus 2012 tot 152 miljoen ton op 31 Augustus 2013 kan toeneem.

Die grootste produksietoename vind in die VSA plaas. Let op dat die groter VSA oes vanaf September 2012 gelewer word. Na verwagting sal die produksie in Suid-Afrika en Argentinië (die belangrikste uitvoerlande) gesamentlik teenoor die vorige seisoen met 5 miljoen ton toeneem, terwyl die verbruik van die belangrikste invoerlande sker per toeneem as produksie. Die verwagte groter wêreld- en VSA voorrade vanaf September 2012 kan pryse negatief beïnvloed.

Suid-Afrikaanse mielie-uitvoere

Suid-Afrika het gedurende die 2011/2012-bemarkingsjaar ongeveer 2 442 493 ton mielies uitgevoer. Hiervan het witmielie-uitvoere 1 731 243 ton beloop en geelmielie-uitvoere 711 250 ton. Suid-Afrikaanse mielie-uitvoere sal egter vanaf September met die groter wêreld- en VSA voorrade begin meeding om die bestaande diepsee uitvoermarkte te behou.

image

image

Witmielie-uitvoere in 2011/2012

Volgens Tabel 2 was die grootste invoerders van Suid-Afrikaanse witmielies, lande uit Suid-Amerika. Die grootste gedeelte van Suid-Afrika se witmielies was bestem vir Meksiko (1 162 100 ton) en Venezuela (31 000 ton) wat gesamentlik 69% van Suid-Afrika se totale witmielieuitvoere in 2011/2012 opgeneem het.

Meksiko

Meksiko het gedurende 2011 ‘n ernstige droogte beleef wat die land genoop het om witmielies vir tortillaverbruik in te voer. Alhoewel klimaatkundiges van mening is dat Meksiko oor die langer termyn ‘n droë weersiklus binnegaan, is dit nie ‘n uitgemaakte saak dat Meksiko soortgelyke omstandighede as in 2011/2012 gaan beleef nie. Na verwagting sal die produksie van witmielies in 2012/2013 tot vorige vlakke voor die droogte herstel. Invoere sal egter steeds meer as 1 miljoen ton hoër wees as voor die droogte (Tabel 1).

Geelmielie-uitvoere in 2011/2012

Volgens Tabel 2 was die grootste invoerders van Suid-Afrikaanse geelmielies lande uit die Verre Ooste. Die grootste gedeelte van Suid-Afrika se geelmielie-uitvoere was bestem vir Korea (302 259 ton), Taiwan (161 550 ton) en Japan (48 880 ton) wat gesamentlik 72% van Suid-Afrika se totale geelmielie-uitvoere in 2011/2012 opgeneem het.

Korea

Suid-Korea is ‘n netto invoerland van mielies. Na verwagting behoort invoere met ‘n miljoen ton teenoor die vorige bemarkingsjaar toe te neem.

Dié land ervaar lae beginvoorrade en ‘n verwagte toename in voerverbruik. Hulle het nie voldoende voedselvoorrade nie; die uitermatige wintertoestande het ‘n laer koringproduksie tot gevolg en die opgebergde aartappelvoorrade het ook skade gelei. Onlangse vloede het verdere oesskade veroorsaak (Tabel 3).

image

Produksietoestande in Afrika

Suid-Afrika het mielies suksesvol na die volgende lande wat steeds in ernstige voedselnood verkeer, uitgevoer. Die FAO webblad lys ook ander Afrikalande met voedselnood.

  • Lesotho: Die nasionale graanproduksie in Lesotho het gedurende 2010/2011 skerp afgeneem. Die laat en swak verspreide reënval wat gedurende 2011/2012 voorgekom het, het die situasie in Lesotho vererger. Die land het 139 001 ton vanaf Suid-Afrika ingevoer.
  • Zimbabwe: Droogte, laat in 2011 en vroeg in 2012, het gewasproduksie in die suidelike produksiegebiede van Zimbabwe geknou.
  • Kenia: Ongeveer 3,75 miljoen mense verkeer in voedselnood (plus 520 000 vlugtelinge) in die noordelike gebiede vir die afgelope drie jaar. Kenia het vroeër groot hoeveelhede mielies vanaf Suid-Afrika ingevoer.
  • Mosambiek: Produksiegebiede wat vroeg in 2012 onder siklone deurgeloop het, verkeer in voedselnood.
  • Senegal: Produksietekortkominge en hoë voedselpryse lei tot swakker voedselsekuriteitstoestande in dié land.
  • Somalië: In Somalië verkeer 2,3 miljoen mense in nood weens ernstige droogtetoestande en die voortslepende konflik.

 

Die mielieproduksie in Suider-Afrika sal na verwagting ongeveer 900 000 ton kleiner wees as gedurende 2011 (Tabel 4).

Produksie in Malawi, Mosambiek, Zambië en Zimbabwe is deurgaans laer as die vorige jaar. Die totale verlaging in produksie tussen hierdie vier lande beloop nagenoeg 1,2 miljoen ton.

image

Sjina en Argentinië

Die Suid-Afrikaanse regering het bilaterale gesprekke rakende marktoegang vir Suid-Afrikaanse mielies met die land gevoer en is in afwagting op Sjina se terugvoer of die land aan Suid-Afrika marktoegang kan verleen. Na verwagting behoort Sjina se invoerbehoefte vanaf 5 miljoen ton tot 7 miljoen ton in 2012/2013 te styg (Tabel 5).

Argentinië het toegang tot die Sjinese mark. Volgens Tabel 6 word verwag dat die land se uitvoere vanaf 13,5 miljoen ton tot 16,0 miljoen ton kan styg. Argentinië se mielieproduksie styg vanaf 21,5 miljoen ton tot 25,0 miljoen ton.

image

Beskikbare uitvoere vir die 2012/2013-seisoen

Volgens Graan SA se projeksies het Suid-Afrika ‘n voorraad van 1,4 miljoen ton mielies vir uitvoerdoeleindes vir die 2012/2013-bemarkingsjaar beskikbaar. Gedurende die 2011/2012-bemarkingsjaar was daar 339 551 ton witmielies en 99 900 ton geelmielies na die BLNS-lande toe uitgevoer. Indien die BLNS-uitvoersyfer weer sou realiseer, beteken dit dat Suid-Afrika ongeveer
440 000 ton mielies na die BLNS-lande toe kan uitvoer, terwyl die verskil van ongeveer 960 000 ton vir diepsee uitvoere beskikbaar is.

Suid-Afrika word saam met Argentinië as ‘n belangrike mielie-uitvoerland in die Suidelike Halfrond beskou. Die Noordelike Halfrondlande se mielies word vanaf September gestroop en Mei tot Augustus is dus ‘n belangrike tydperk wat vir uitvoerdoeleindes benut moet word.

Bronnelys

GIEWS. 2012. Southern Africa; A review of the 2011/2012 cropping season, 14 May 2012, [AANLYN] Beskikbaar by: http://www.fao.org/giews/english/shortnews/SouthernAfrica14052012.pdf, [Toegang verkry op 22 Mei 2012].
Graan SA, 2012, SAGIS: Weeklikse invoere en uitvoere van mielies, [AANLYN] Beskikbaar by: http://www.grainsa.co.za. [Toegang verkry op 22 Mei 2012].
USDA, 2012, Commodity forecasts; world supply and demand estimates, [AANLYN] Beskikbaar by: http://www.usda.gov/oce/commodity/wasde/. [Toegang verkry op 22 Mei 2012].

Publication: June 2012

Section: Markoorsig

Search