• Login
  • Search Icon

Flink werktuie maak grondbone lonend

February 2012

ALBERT COETZEE, TAKBESTUURDER, GAUTENG, ROVIC & LEERS (PTY) LTD

Baie Suid-Afrikaanse produsente skram weg van die verbouing van grondbone omdat die persepsie bestaan dat dit arbeidsintensief is. Meganisasie verander die prentjie nogal baie. Geld kan gemaak word uit hierdie gewas, maar dan moet die produsent die regte toerusting vir die taak inspan. Grondbone vereis meer bestuurtyd as mielies, maar die rendement is ook aansienlik beter.

Verby is die dae toe arbeisintensiewe grondboontrekkery ‘n opsie vir die produsent was. Trouens, vele produsente het grondboonproduksie heeltemal gestaak eerder as om met duur, ondoeltreffende metodes te sukkel. Afgesien van die inkomste van die oes, het grondbone ook ‘n waardevolle wisselbouvoordeel. Die opbrengs en gehalte van ander gewasse, gewoonlik koring, is net soveel beter op grondboonlande.

Die toerusting vir die uithaal van grondbone word vir sekere rywydtes vervaardig en verkeerde aanplantings kan nie in sulke omstandighede met uithalers uitgehaal word nie. Noord-Amerika is die grootste verbouer van grondbone, daarom word meeste van die meganisasie -toerusting daar ontwerp en vervaardig.

Hulle omstandighede stem nogal baie ooreen met dié van Suider-Afrika en Rovic Leers is die verspreiders van die KMC grondboontoerusting in Suid-Afrika. Dit word deur die Rovic Leers handelaarsnetwerk gerugsteun en baie toerusting word in Suider-Afrika verkoop.

image

Waar moet die grondboonprodusent begin as hy wil meganiseer?

Om te meganiseer is dit belangrik dat die regte implemente aangeskaf word wat by mekaar pas. Die implemente sal bepaal wat en hoe geplant moet word. Met die meganisering van grondboonverbouing is die planter, uithaler, skudder en grondboonstroper baie belangrik.

Die plant van grondbone

Die plant van grondbone word nog altyd met die gewone Kuhn konvensionele planters gedoen. Kuhn grootsaad vakuumplanters word gebruik waar net die rywydtes verander word. Al wat dus verander, is die rywydte en die plaat wat die plantestand bepaal. Die saad moet net nie beskadig word met die plantproses nie.

KMC omkeeruithaler

By die uithaal van die grondbone, is waar die meeste veranderings op meganisasiegebied die afgelope paar jaar plaasgevind het en waar baie arbeid uitgeskakel word. Om grondbone meganies uit te haal, is nie net kostedoeltreffend nie, maar verseker ook ‘n beter eindproduk, vermorsing word beperk en jy kan ‘n premie vir jou produk vra. Die KMC uithalers is tans in ‘n twee-, vier- en ses-ry beskikbaar. Die tweery uithaler hanteer gewoonlik een bedding in ‘n wydte van 900 cm tot 950 cm breed waarin twee rye grondbone geplant word.

Hoe werk die KMC grondboon omkeeruithaler?

Die KMC omkeeruithaler se skuinsgeplaaste lemme sny die grondboonwortels net onder die peule af en starre stawe lei dit sagkens, maar ferm na die kettingrak, wat die oortollige grond doeltreffend afskud.

’n KMC uithaler se doel is om die grondbone uit die grond te haal en dit in windrye te plaas. In die proses van uithaal word die grondboonplant omgedraai sodat die peule weg van die grond na bo wys.

Die uithaler moet die ranke van die grondbone in digte, kompakte windrye plaas sodat die stroper eenvormig gevoer word. Windrye het ten doel om te sorg dat die grondbone gouer afdroog en om te keer dat grondbone van hul kwaliteit verloor as dit ontydig reën. Die kettingtipe bly die gewildste en werk meer effektief. Verder help goed gevormde windrye dat jou KMC stroper optimaal funksioneer.

‘n KMC omkeeruithaler se voordeel is dat sy windry so geplaas word dat die peule baie hoog van die grond af is. Die windrye los genoeg oop grond sodat die trekkerbande nie die grondbone beskadig nie. Jy kan met die ketting-tipe die meeste vreemde materiaal verwyder.

Met die aankoop van toerusting moet spesifiek gevra word of die uithaler onkruid of vreemde gewasse kan hanteer. Dit is elke produsent se droom om onkruidlose lande te hê, maar gewoonlik is daar onkruid wanneer uitgehaal word. Binne twee en ‘n half tot drie dae, kan die grondbone gestroop of “gepluk” word.

KMC grondboonskudder

Hierdie grondboonskudder is baie effektief om die grondbone wat reeds in ‘n windry geplaas is, weer droog te maak sou dit nat reën. Die afgelope paar seisoene, met die laat somerreëns is die noodsaaklikheid van skudders beklemtoon. Die skudder tel die windry sagkens op en soos die materiaal oor die skudders beweeg, word die windry deurlug en vreemde voorwerpe uitgeskud. Dit verlaag ook die slytasie op jou stroper as die windrye eers geskud is.

Die KMC grondboonskudder is in Suid-Afrika net in die ses-ry beskikbaar waarvan die een die opvou (863 mm - 965 mm)-model is. Die vastebalk (762 mm), wat ook ses rye kan hanteer, is egter goedkoper en die meer gewilde keuse.

Die KMC stroper

Die KMC grondboonstroper, soms ook die plukker genoem, is gewoonlik in vier- en ses-ry modelle beskikbaar. Hierdie stropers word met ‘n trekker gesleep en dryf met die kragaftakas aan. Sekere funksies word hidroulies beheer. By die KMC stroper is dit belangrik dat die produsent kennis neem dat dié stroper maklik hanteer, nie verdigtingslae veroorsaak nie, lae kilowatts gebruik en nie peule mors nie.

Tipiese kenmerke van die KMC grondboonstroper

  • ‘n Effektiewe opteldrom met ‘n klein deursnit en veerbelaaide vingers om die materiaal sagkens, maar sonder vermorsing, op te tel.
  • Verstelbare stropers en ‘n skeisif met verstelbare lugvloei ver seker doeltreffende skeiding van peule en strooi. Die KMC stroper blaas sy strooimateriaal in so ‘n windry dat balers dit later kan optel en baal. Stropers wat hul materiaal na die kant uitblaas is nie so effektief nie, omdat strooi nie opgetel kan word nie.
  • Die KMC stroper het die beste verhouding van verlies van los, doplose pitte teenoor vol peule.
  • Die opteldromhoogte, opteldromspoed en awegaarspoed kan hidroulies vanuit die operateur se sitplek in die trekker se kajuit verstel word.
  • Die KMC grondboonstroper het ‘n gepatenteerde kortdraairatkas wat hantering geweldig vergemaklik.
  • ‘n Groot voordeel van die KMC is die enkel stel bande, teenoor tandem-aste, wat hantering geweldig vergemaklik.
  • Sy groot, breë bande sak nie so maklik in die grond weg nie en verminder verdigtingslae.
  • Die KMC stroper is maklik hanteerbaar, bekostigbaar en goedkoop om te onderhou.
  • KMC stropers het ‘n massatenk van 9 m³ en die dravrag is 2 700 kg en hy gooi die peule met ‘n hidrouliese kantelaksie oor in ‘n sleepwa.

 

Wanneer ‘n grondboonprodusent besluit om te meganiseer, moet hy sy huiswerk baie goed doen en slim besluite maak om dit suksesvol te doen. Koop die KMC produkte by Rovic Leers, wat vir jou die hele reeks van toerusting kan verskaf. Dit maak dit net soveel makliker, want een KMC implement komplimenteer altyd die ander. Rovic Leers se diensverskaffing is ook deurgaans goed en onderdele is altyd in Suid-Afrika beskikbaar.

Omdat alle grondboon-implemente in of naby die grond werk en beweeg is instandhouding baie belangrik. Die regte instandhouding volgens die vervaardiger se riglyne moet gevolg word. Koop ook egte onderdele wanneer dit vervang moet word. Vals onderdele, waarvan die eienskappe dalk net afwyk van die oorspronklike, kan jou baie ekstra brandstof of staantyd kos.

Wees ook baie versigtig om tweedehandse toerusting te koop wat ingevoer en herbou is. Soos genoem, werk hierdie soort toerusting in die sand en slytasie vind oral plaas. Gewoonlik is daar ‘n opsie om die toerusting hidroulies of met die kragaftakas aan te dryf. Die meganies aangedrewe, kragaftakas-model is egter meer gewild, want dit is gewoonlik goedkoper en kan maklik van trekkers verwissel sou jou trekker probleme gee.

Publication: February 2012

Section: Input Overview

Search