• Login
  • Search Icon

Die wêreld is boos

September 2011

Beste Grootneef

Ou Neef, as jy in die annale van die wolbedryf gaan kyk, sal jy sien dat die boere al van 1927 af met brandsiekte sukkel. Kyk jy na die Suid-Kaap, maak die duinemolle die boere gedaan. Noord-Vrystaat se nagmuise vreet hektare mielies op. Bek-en-klouseer voer ‘n skrikbewind in die noorde en vlakvarke steur hul aan geen wildsheining nie.

Die graanboere het ook ‘n albatros om die nek. Die boere soek dit nie: by Kongresse het manne mekaar al amper aan die keel daaroor gegryp en sommiges in die ooste praat al van afstig – alles oor die differensiaal wat soos ‘n duinemol tonnel deur die boere se prys!

Soos oud-cowboy Bush gepraat het van oom Sadam as die spil van boosheid, só is die suiers van Randfontein vir ons as graanboere die spil van alle kwaad. Dit is van dáár dat die somme gemaak word wat boerepryse beneuk.

Ou Neef, ek hoor Safex se wyse manne het besluit om, ten spyte van Graan SA se herhaaldelike versoeke, nie die differensiaal af te skaf nie. Ek hoor dat die res van die Safexadvieskomitee, die “edele” ding gedoen het om namens graanboere te praat. Hoor nou net hoe grootmoedig – sêg dié manne dat as die differensiaal sou wegval, kan dit volgens hulle die graanboere benadeel en sodoende indirek “die bedryf”. Eintlik gaan dit dus weer eens nie oor die boere se belang nie, maar oor die vrese van die wyses oor hoe hul eie belang benadeel kan word!

Ook by hierdie vergadering was Graan SA weer eens die stem roepende in die woestyn, dat die differensiaal sal wegval. Praat van die tirannie van demokrasie, veral as mense besluite neem oor goed wat nie hulle eie gatsakke direk raak nie! Vir almal wat nou so gul namens graanboere praat – dalk is die tyd ryp vir ‘n boerereferendum oor die saak? Moet ons die JSE toetrek met al wat stroper, trekker en sleepwa is, totdat die differensiaal uitgesmyt word? Wat maak ons as rede op dowe ore val? Die wêreld is boos, sê ek jou...

Die enigste positiewe krummel wat van die Safex-tafel val, is dat die onderneming gegee is dat daar darem nie weer in die toekoms syfers uit die lug uit gegryp sal word nie, maar dat eers met Graan SA en die Advieskomitee oor die berekening van die differensiaal gepraat sal word.

Ou Neef, op ‘n meer positiewe noot. Uitvoere loop op ‘n drafstap. Dit lyk of Graan SA en die uitvoere-kokkedore die uitvoerwiele behoorlik geolie het. Luister ‘n bietjie hierna: 58 000 ton mielies per week word tans uitgevoer! As dinge so aangaan, kan ons teen einde April volgende jaar alle mieliesurplusse weggewerk hê. Wat die goeie nuus selfs nog beter maak, is dat die mielies nie net in Afrika invloei nie – dit is diepwater-uitvoere!

Tot en met einde Julie vanjaar het ons reeds meer as 341 000 ton witmielies na Meksiko uitgevoer. Dit wil gedoen wees, om in die Yanks se agterplaas stof in hul oë te skop! Daar is ook ‘n klompie wittes tot in Italië, ‘n hele 33 000 ton! Wat hulle met witmielies daar gaan maak, weet ek nie, vraag is net of die Europeërs nou hul fiemies vir  GMO-mielies verloor het, of was die prys skielik reg? Van die ander uitvoere loop tot in Suid-Korea en Taiwan.

Ou Neef, as my rigting nou reg is, is Korea en Meksiko aan weerskante van die aardbol en dit sê eenvoudig net dat ons uitvoermielies tans die goedkoopste op die planeet is en beslis die goedkoopste in die heelal. Vir volgende jaar se produksieplanne maak ek egter steeds my somme op uitvoerpariteit, want produseer die kán ons, meer as wat ons eie mense kan opeet.

Die skalie-gas onder die Karoo is nou vir jou ‘n ding. Klink my as die breking doer onder Moeder Aarde skeefloop en water en gas meng, proe die water soos paraffien en sit geen bok of skaap sy bek daaraan nie. Dit deug nie eens om by brandewyn te gooi nie! Ou Neef, behoud van die natuur het nog nooit ‘n stok in “ontwikkeling” se speke gesteek nie. Kyk maar hoe lyk die hele Mpumalanga van steenkoolgroewe. Soos besigheid in elk geval in ons landjie gedoen word, kan jy maar weet dat van die sous tot in familietrusts drup om kontrakte deur te kry. Sterkte vir die Karoo-manne. Hier uit die Vrystaat uit lyk dit of die wind wes waai vir hulle. As daar regtig gas in die Karoo-dieptes is, gaan niks die oliebore keer nie.

Mooi loop op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: September 2011

Section: E-mails

Search