• Login
  • Search Icon

Die Vraag en Aanbod Ramingskomitee kom uiteindelik tot stand

July 2013

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Op Woensdag, 12 Junie 2013, het die Nasionale Landbou bemarkingsraad (NLBR) aangekondig dat die Vraag en Aanbod Ramingskomitee sal voortgaan om te funksioneer. Voldoende samewerking word uit die bedryf ontvang om ‘n projeksie van die vraag en aanbod van grane en oliesade op ‘n maandelikse basis bekend te stel.

Hul eerste amptelike vergadering en publisering van die graan en oliesade vraag en aanbod-beraming is vir Vrydag,
28 Junie 2013, geskeduleer. Die inligting sal maandeliks ná die bekendmaking van die Sagis-syfers en Oesskattingsyfers bekend gestel word.

Die totstandkoming van die Vraag en Aanbod Ramingskomitee volg nadat Graan SA gedurende November 2011 ‘n statutêre aansoek ingedien het ten gunste van die publisering van beoogde in- en uitvoere waarvoor daar reeds kontrakte aangegaan is.

Hierdie behoefte aan die inligting spruit voort uit die gebrek aan voldoende inligting in die markplek. Prysseine wat op deursigtige, akkurate inligting gebaseer is, kan tot ‘n vrye regulering van uitvoere lei wat voedselsekerheid in nasionale belang verhoog. Tweedens dra dit ook by tot beter pryse in die markplek wat die fundamentele faktore reflekteer en tydig aandui of produsente meer moet plant of produsenteverkope moet verhoog om prysgeleenthede te benut. Die prysinligting oor in- en uitvoere moet dus nie net beperk wees tot sekere rolspelers in die waardeketting nie.

Destyds het die NLBR kommentaar ter ondersteuning, maar ook teen Graan SA se statutêre aansoek, ontvang. Van die kommentaar was dat die rapportering van inligting nie net op die uitvoerbedryf eksklusief van toepassing gemaak kan word nie.

Die graanhandel, soos verteenwoordig deur SACOTA, het dit duidelik gestel dat die sektor ten gunste is van die vrye mark en die deel van markinligting in die markplek. Kommer het egter geheers dat die statutêre aansoek nie die verwagte uitkomste gaan hê nie, maar dat dit eerder tot groter prysvolatiliteit en prysrisiko kan aanleiding gee.

Die nuwe risiko’s wat handelaars aangevoer het, kan die volgende insluit, naamlik:

  • Die geloofwaardigheid van uitvoerkontraktering deur Suid- Afrikaanse handelaars kan daaronder lei.
  • Die mark kan deur die bekendmaking van voorgenome in- en uitvoersyfers gemanipuleer word.
  • Onbedoelde gevolge kan daartoe lei dat Suid-Afrika se reputasie as ‘n gerespekteerde uitvoerland kan skade lei.

Dit is beklemtoon dat die rapportering van voorgenome in- en uit voere asook ander inligting met betrekking tot vraag en aanbod op ‘n vrywillige basis moet geskied. Daar is tot die slotsom gekom dat indien die vrywillige benadering nie voldoende deelname aan die proses verseker nie, Graan SA met die statutêre maatreël aansoek sal voortgaan.

SACOTA het gevolglik in ‘n versoek aan die NLBR die inwerkingstelling van ‘n Vraag en Aanbod-komitee bepleit.

Graan SA het die organisasie se aansoek vir ‘n statutêre maatreël op 10 Mei 2012 teruggetrek met onder andere die voorwaarde dat ‘n Vraag en Aanbod Skakelkomitee en Vraag en Aanbod-komitee met die NLBR as sameroeper gestig word. Graan SA is van mening dat die nuwe voorstel beter resultate sal oplewer as die voormalige statutêre maatreël aansoek.

Die eerste vergadering waarvolgens die voorgestelde Vraag en Aanbod-komitee ingestel sou word, het op 27 Julie 2012 plaasgevind. Tydens hierdie vergadering is die terme van verwysing, samestelling van die komitee, proses, metodologie en vertroulikheid bespreek.

Hierna het die Vraag en Aanbod Skakelkomitee en Vraag en Aanbodkomitee verskeie kere vergader om die uitleg van die vraag en aanbod-verslag vir rapportering te finaliseer en om voldoende samewerking in die bedryf te bepaal. Samewerking met die Mededingingskommissie het ook gevolg om uitsluitsel te vind oor die twee komitees se werking.

Dit het daartoe gelei dat onpartydige individue wat nie as lede van die komitees voordeel uit deelname kon put nie, weer genomineer en aangestel moes word. Die Mededingingskommissie het verder bevind dat die instelling van die komitee tot groter mededinging in die markplek kan lei.

Ná ‘n onvoorsiene tydperk van 20 maande se harde werk, geduld, onsekerheid oor die Mededingingswet en bydrae uit die bedryf, word die eerste vraag en aanbod-verslag op 28 Junie 2013 gepubliseer.

Dit is belangrik om daarop te let dat voldoende vrywillige bydraes oor die vraag en aanbod-syfers, insluitende voorgenome gekontrakteerde in- en uitvoere noodsaaklik is vir die komitee om suksesvol te funksioneer. Indien die Mededingings kommissie se opinie korrek geïnterpreteer word, kan groter mededinging in die markplek deur daardie dominante ondernemings wat nie deelneem nie, beperk word.

Die doeltreffendheid van die komitee asook die samewerking uit die bedryf in terme van inligting wat voorgelê word, sal na ‘n jaar geëvalueer word. Graan SA wens die nuwe Vraag en Aanbod-komitee sterkte toe met die belangrike taak wat voorlê.

Publication: July 2013

Section: Markoorsig

Search