• Login
  • Search Icon

Die tweede Groot Trek - implikasies vir landbou

June 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

In die 1838 het daar ‘n beweging gekom vanuit die Kaap na die onbekende binneland – amper blindelings weens omstandighede wat so sleg was dat die onbekende beter sou wees.

In my Standerd 2 Geskiedenisboek is dit die Groot Trek genoem. Vandag lees ons in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) daarvan: Die verstedeliking van die mensdom. Die omstandighede in die platteland raak op plekke so sleg dat daar blindelings na die stede getrek word op soek na ‘n beter toekoms.

Volgens die NDP woon 60% van alle Suid-Afrikaners tans in stede en daar word verwag dat dit tot 70% kan styg teen 2030. Die implikasies daarvan vir stedelike infrastruktuur is massief, maar vir kommersiële landbou is dit eintlik ‘n wonderlike geleentheid!

Hoe meer mense verstedelik, hoe meer mense moet kos koop en kan nie vir hulself produseer nie. Die toekoms van bestaansboerdery is twyfelagtig teen hierdie tempo van verstedeliking. As ek so om my kyk, lyk dit asof die spoed van verstedeliking ook die spoed van grondhervorming oorskry.

Die een faktor wat ons egter fyn moet dophou, is die groei in produktiwiteit van graanproduksie wat vinniger moet bly as die spoed van verstedeliking, sodat voedselsekerheid gehandhaaf kan word. Dit op sigself is nie ‘n vulletjie nie.

In Suid-Afrika het ons ‘n groot afname in die getal mense in die armste kategorieë van ons bevolking gesien en ‘n amper gelyke toename in die middelklas – meestal stedelinge. Die groep mense wat uit die armer kategorieë gemigreer het, eet beslis nie meer pap en brood in dieselfde hoeveelhede as tevore nie.

Hulle eet hoender, eiers, suiwel en vleis (en drink bier!). Alles produkte wat vereis dat meer graan geproduseer word – waarskynlik nie deur bestaansboere nie, maar wel deur kommersiële produsente. Die “Groot Trek” van verstedeliking en klasmigrasie bied dus puik geleenthede vir kommersiële landbouers.

Wat egter tot kommer lei, is dat die gaping tussen ryk en arm oral in die wêreld aan die vergroot is. Dit lei tot meer en meer konflik en geweld. Mense wat soos destyds in 1838 ‘n onbekende toekoms ingetrek het, doen dit vandag nog: Daar was onlangs selfs meer mense wat die Middellandse See of elders in die wêreld ‘n oseaan probeer oorsteek het, roekeloos, in ‘n soeke na ‘n nuwe toekoms. Hulle vlug van armoede, geweld en onveiligheid.

Die xenofobiese geweld in Suid-Afrika was ‘n reuse-verleentheid vir ons land. Dit bly egter ‘n simptoom van probleme in ons samelewing wat verband hou met verstedeliking, armoede, swak infrastruktuur en swak dienste.

Ek luister die ander dag na ‘n leierskapsvideo waarin die spreker drie dinge uitlig wat nasies tot niet laat gaan: Die gaping tussen ryk en arm wat groter word; rassehaat; asook geweld/oorlog. Dit is amper asof hy van Suid-Afrika gepraat het. Hierdie probleme is besig om ons land te verinneweer.

Die vraag is wat landbou daaromtrent kan doen?

Die oplossings hiervoor is groot uitdagings, maar terwyl ons daarna soek, moet mense aanhou eet. Dit is ons behoud. ‘n Mens kan maklik skouers optrek en sê: “Dit is nie my verantwoordelikheid nie,” maar volstruispolitiek het nog nooit permanente oplossings vir ‘n mooi toekoms gebied nie.

Publication: June 2015

Section: Features

Search