• Login
  • Search Icon

BUFFELS: 'n LNR-KGI besproeiingskultivar wat koring-insetkoste kan verlaag

April 2012

WIMPIE DU TOIT, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT

Saadkoste beloop normaalweg tussen R1 000/ha en R1 600/ha van koring onder besproeiing se produksiekoste. Dit vergelyk baie gunstig met somergewasse se saadkoste, maar dit plaas steeds die produsent in versoeking om saad terug te hou vir eie gebruik.

Koringsaad se pryse het ongelukkig die afgelope aantal jare dramaties gestyg en waar koringproduksie in ‘n ernstige koste-knyptang vasgevang is as gevolg van lae produsentepryse, dwing dit die produsent om na besparingsmaatreëls te kyk. Een van die faktore wat oorweeg kan word, is om saadkoste te verlaag deur na laer saaidigthede oor te skakel. ‘n Besproeiingskultivar wat uitstekend by dié beginsel inpas, is die nuwe kultivar, Buffels.

In ‘n proef wat uitgelê is om die effek van plantdigtheid op opbrengs te toets, was Buffels een van die kultivars. Ses saaidigthede, naamlik: 100, 150, 200, 250, 300 en 350 sade per vierkante meter in 17 cm rye is oor verskillende seisoene, op verskillende plekke aangeplant. In Tabel 1 kan gesien word hoeveel kilogram saad per hektaar benodig word by elke saaidigtheid, uitgewerk volgens die duisendkorrel massa (dkm). Hiervolgens wissel die hoeveelheid saad wat per hektaar benodig word tussen 42 kg en 140 kg.

image

Die opbrengsdata word in Grafiek 1 weergegee. Hieruit is dit duidelik dat by al vyf proewe wat hier weergegee word, daar ‘n afnemende tendens in opbrengs is met ‘n toename in die saaidigtheid van Buffels. By die twee proewe (of seisoene) wat die laagste opbrengs het (proewe 2 en 4) is die tendens die duidelikste. Waar die opbrengs hoër is, raak die verskille tussen saaidigthede kleiner, maar die negatiewe effek bestaan steeds.

image

Uit die data is dit duidelik dat die saaidigtheid van Buffels verminder kan word sonder om opbrengs in te boet en dit kan gebruik word om saadkoste te verlaag. Met Buffels kan met gemak 50 kg tot 80 kg saad per hektaar bespaar word, wat ‘n aansienlike bydrae kan lewer tot die verligting van koring se koste-knyptang-effek.

Hierdie navorsing is moontlik gemaak deur die finansiële bystand van die Wintergraantrust en die LNR.

Publication: April 2012

Section: Input Overview

Search