• Login
  • Search Icon

Bestuurslede vir bydrae erken

October 2014

JOHAN SMIT, SA Graan/Grain redaksie; foto's: ALZENA GOMES, skakelbeampte: Graan SA

“In elke organisasie is daar mense wat bereid is om duisende kilometers af te lê en honderde vergaderings by te woon. Graan SA moet erkenning gee vir diegene wat bereid was om dit te doen – asook die vroue wat hul mans in staat gestel het om hierdie opofferings te maak vir ‘n groter saak.”

Dit was mnr Louw Steytler, voorsitter van Graan SA, se boodskap tydens ‘n geleentheid op 29 Julie te NAMPO Park, waar afskeid geneem is van uitgetrede lede van die Hoofbestuur. Hy sê die tyd het aangebreek dat goeie, gematigde Suid-Afrikaners moet sê wat gesê moet word, want alle mense het aspirasies en het ‘n behoefte om ‘n toekoms vir hul kinders te skep. Daarenteen is politici besig om die samelewing te beduiwel. Hulle hou aan om, soos in die verlede, kiesers te vertel wat hul wil hoor. “Die stem van redelikheid sal egter altyd seëvier,” het hy bygevoeg.

Mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA) het gaste uitgedaag om ‘n nuwe toekoms vir landbou te help skep, óf om bloot helde van die verlede te wees. Graan SA het 'n verantwoordelikheid om voort te gaan om leierskap in die bedryf te demonstreer. “Ons beleef ‘n nuwe seisoen in landbou. Kom ons begin deur iets beter vir die toekoms te skep deur nie net ons eie belange te dien nie, maar ook die mense van hierdie land,” het hy gesê.

Die funksie is ‘n jaarlikse instelling en word moontlik gemaak deur die ondersteuning van Monsanto. Mnr Kobus Steenekamp, besigheidsbestuurder van Monsanto, het gesê dit is 'n voorreg om geassosieer te wees met Graan SA as hul belangrikste vennoot in Suid-Afrika. “As ons terugsit, gaan ons verloorders wees,” het Steenekamp as deel van sy boodskap aan die landbouers gesê.

image

image

image

image

Publication: October 2014

Section: Grain SA

Search