• Login
  • Search Icon

Beplande kuddegesondheid en -produksie

March 2012

– nuut in die pyplyn

DR DANIE ODENDAAL, V-PLAN

Daar was ‘n groot toename in die voorkoms van veesiektes gedurende die afgelope drie jaar met spesifiek Slenkdalkoors wat baie verliese veroorsaak het. Die tendens is ook uitgewys deur die sisteem waardeur privaatveeartse siektes op ‘n maandelikse basis deur die land gerapporteer het. Só ook is daar baie besprekings gevoer omtrent inentings wat volgens produsente
nie suksesvol was nie.

Die feit van die saak is dat ons nie oor ‘n stelsel in Suid-Afrika beskik waar-
deur veeprodusente op ‘n gereëlde basis ingelig kan word omtrent siekte-
tendense en die verandering in die voorkoms van spesifieke toestande wat gesondheid of produksie kan benadeel nie.

Vordering in die voorkoming van veesiektes ten opsigte van die ekstensiewe veebedrywe, was baie min. Elke individuele veeprodusent hanteer maar die saak so goed hy/sy kan, sonder ‘n gestruktureerde ondersteuningsdiens.

Totaal die teenoorgestelde ontwikkeling het plaas gevind in die meer inten-
siewe vark- en hoenderbedrywe, waar beplande gesondheids bestuur en produksieprestasie geweldig toegeneem het. Die Varkgesondheid skema het sowat 25 jaar gelede begin deur ‘n inisiatief wat deur die destydse Vleisraad ondersteun is en tans word dit met baie groot sukses bedryf deur privaat veeartskonsultante.

Daar is ook goeie samewerking tussen die Varkprodusente Organisasie en die veeartskonsultante. Soveel so, dat ‘n nuwe siekte wat die bedryf ‘n paar jaar gelede bedreig het, relatief vinnig uitgeroei is op ‘n nasionale basis en dit is deur die Varkprodusente Organisasie self gefinansier.

Die rede vir die stadige ontwikkeling en vordering in die ekstensiewe veebedrywe is tweeledig. Die veekomponent is wel ‘n baie belangrike bron van kontantvloei vir saaiprodusente asook ‘n hulpmiddel waardeur oesreste omgeskakel kan word in ‘n verkoopbare produk, maar dit is ook voor die hand liggend dat die bestuur van dié boerderysegment afgeskeep word omdat saaiprodusente hoofsaaklik hulle beskikbare tyd toedeel aan die bestuur en beplanning van hul hoofboerderyaktiwiteit.

Veeartse se diens is hoofsaaklik gerig op die noodbehandeling van siek diere wanneer hulle deur ‘n produsent uitgeroep word (Figuur 1) of die uitvoering van voor afgereëlde vrugbaarheidsondersoeke. As gevolg van ‘n tekort aan tyd kan daar dan maande verbygaan waar daar geen kontak tussen die veearts en sy/haar veeprodusentkliënt is nie.

image

In albei gevalle is daar ‘n tekort aan tyd en elektroniese stelsels om gesondheids- en produksiebestuur op ‘n beplande basis toe te pas. Op
‘n maandelikse basis is daar geen bestaande kontak tussen die veearts
en veeprodusent om laasgenoemde te herinner aan bestuursaksies wat uitgevoer moet word om kuddegesondheid te behou nie.

Ontwikkeling in kommunikasietegnologie bied nou die geleentheid om hierdie tekortkoming te oorbrug deur die vestiging van direkte en gereëlde kommu-
nikasie tussen die veeprodusent en die veearts. Só ‘n stelsel werk op die basis dat die produsent seisoenaal ingelig word omtrent siektetendense
en dan meer spesifiek op ‘n maandelikse grondslag herinner word aan die belangrike bestuursaksie wat uitgevoer moet word ten einde die kuddege-
sondheidstatus en –produksie te onderhou of verbeter.

Praktiese plan vir elke produsent

Elektroniese inligtingstegnologie maak dit nou ook moontlik dat daar
‘n basiese gesondheids- en produksiebestuursplan vir elke individuele veeprodusent opgestel kan word. Die plan moet slegs fokus op dit wat prakties van belang is.

Die metodiek wat gevolg word in die opstelling van so ‘n plan, is eenvoudig:

  • Bepaal en kwantifiseer eenvoudige produksiedoelwitte waarteen sukses gemeet kan word.
  • Identifiseer die kritieke beheerpunte in die twaalf maande produksie-
    en klimaatsiklus wat ‘n direkte invloed kan hê op die uitkoms van die gestelde produksiedoelwitte.
  • Identifiseer die belangrikeste bestuursaksies wat uitgevoer moet word tydens die kritieke beheerpunte om die produksiedoelwitte te behaal.
  • Beskryf elkeen van die bestuursaksies sodat die uitvoering daarvan eenvormig en doeltreffend op plaasvlak kan geskied.
  • Stel ‘n jaarplan en maandplan saam wat die veeprodusent en veearts op ‘n maandelikse basis vooruit herinner aan die bestuursaksies wat uitgevoer moet word. Hierdie jaarplan plaas bestuursaksies in die regte verhouding ten opsigte van die vier seisoene in die twaalf maande klimaatsiklus.

In die geval van ekstensiewe veekuddes, is die aantal aksies wat uitgevoer moet word in relatiewe terme baie min, maar dit is kritiek dat dit wel op ‘n gegewe tyd in die produksieof klimaatsiklus uitgevoer word, anders beïnvloed dit die produksieuitkoms dramaties.

Die fisiese uitvoering neem slegs een of twee dae per maand in beslag en kan dus veral deur saaiprodusente uitgevoer word om die gesondheid en produksie van hulle veekomponent optimaal te hou.

Figuur 2 is ‘n baie verkorte voorbeeld van die produksiedoelwitte, kritieke beheerpunte en bestuursaksies van toepassing op vleisbeeskalwers.

image

Nuwe kommunikasie- en inligtingstegnologie

Vir die afgelope 27 jaar wat ek as veearts werksaam is, het die doelwit altyd bestaan dat dieregesondheidsbestuur op ‘n beplande basis moet plaasvind. Koste en tyd was altyd die beperking wat nou tot ‘n groot mate uit die weg geruim is deur die ongelooflike ontwikkeling op die vlak van elektroniese kommunikasie- en inligtingstegnologie. ‘n Nuwe benadering tot voorkomende siektebestuur in ekstensiewe veekuddes gaan vanaf April 2012 aan veepro-
dusente bekend gestel word. Die basis van dié benadering berus daarop dat gereelde kommunikasie tussen die deelnemende veeartse en hul spesifieke veeprodusentkliënte gevestig en ondersteun moet word (Figuur 3).

image

Die V-Plan konsep

Hierdie konsep en werking van ‘n direkte en gereëlde kommunikasiekanaal tussen die veeprodusent en veearts, gaan deur V-Plan bedryf word. Dit is ‘n maatskappy wat in die lewe geroep is met die spesifieke doel om die konsep waaroor ons al baie lank net praat, in werking te stel.

Daar gaan van die nuutste databasistegnologie gebruik gemaak word
om veeartspraktyke te help sodat daar ‘n profiel opgebou kan word oor
die voorkoms van veesiektes binne elke praktyk (geografiese) area en dan die inligtingstegnologie daar te stel sodat veeartse ook ‘n profiel kan opbou en ‘n gesondheidsbestuursplan ontwikkel vir elkeen van hulle individuele veeprodusentkliënte wat wil deelneem aan die stelsel. Die stelsel van maan-
delikse kommunikasie met die individuele veeprodusentkliënte sal dan ook deur V-Plan ondersteun word.

Die konsep gaan aan veeartse bekend gestel word by hulle kongres in Maart en vanaf April sal daar begin word om die program in werking te stel by die eerste 20 deelnemende veeartspraktyke. Veeprodusente wat belangstel om meer inligting omtrent die V-Plan konsep te ontvang, kan vir dr Danie Odendaal kontak by registrasie@vplan.info.

Met die nodige samewerking en ondersteuning kan ons beplande gesond-
heidsorg en -produksie in die ekstensiewe veebedrywe ook op dieselfde vlak bring waarop die intensiewe veebedrywe bestuur word en die groot siekte-
uitbrake stop wat elke paar jaar uitgebreide verliese veroorsaak.

Direkte en gereëlde kommunikasie tussen die veeprodusent en veearts
is dus die sleutel tot sukses.

Publication: March 2012

Section: Input Overview

Search