• Login
  • Search Icon

'n Nuwe Garsstudiegroep skop af in die Wes-Kaap

October 2014

LIANA STROEBEL, provinsiale koördineerder, Graan SA

Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) het onlangs ‘n nuwe inisiatief naamlik “Better beer, better barley” in die Wes-Kaap van stapel gestuur waar hulle ondermeer ontwikkelende produsente en kleinboere ondersteun om moutgars te produseer.

Graan SA is genader om hierdie produsente met die nodige tegniese asook bestuursinligting te ondersteun ten einde ‘n hoëgehalte produk te voorsien. Graan SA beoog dus om dié produsente deur middel van prakties-georiënteerde studiegroepvergaderings en opleidingskursusse van hulp te wees. Die eerste studiegroepvergadering het op 23 Junie vanjaar plaasgevind en is goed by gewoon.

Mnr Toit Wessels (ledebemarker: Kaapprovinsie) het die vergadering geopen waarna hy die produsente ingelig het rakende die doel van die stigting van hierdie studiegroep asook oor Graan SA se rol in die proses. Mnr Richard Krige (Graan SA hoofbestuurslid vir streek 27) het ‘n voorlegging gegee oor die verskeie risikofaktore waarvoor produsente moet uitkyk en klem gelê op ‘n ‘pro-aktiewe benadering deur middel van voorkoming en deeglike beplanning. Daar was ‘n sterk fokus op onder meer die verskillende groeifases van die garsplant, insek- en siektevoorkoming en -beheer, weerstand, chemiese regulasies en produkkwaliteit. Mnr Roelie Steyn (Profert) het verder ‘n holistiese benadering in terme van kunsmistoediening met die produsente gedeel waar die kern van sy voorlegging oor die balans tussen die grond, klimaat en die plant se behoeftes gehandel het.

Me Liana Stroebel (provinsiale koördineerder, Graan SA) het produsente meer vertel oor Graan SA se opleidingskursusse en hulle uitgenooi om die volgende finansiële bestuurskursus by te woon. Die vergadering is afgesluit waarna die groep ‘n garsland besoek het, waar die gesprekke voortgesit is. Verskeie vrae en onsekerhede het opgeduik, wat dadelik aangespreek kon word.

Verdere behoeftes word aangespreek deur middel van persoonlike skakeling en plaasbesoeke na afloop van hierdie tipe vergaderings. Ons glo dat die eerste Garsstudiegroepvergadering as ‘n groot sukses bestempel kan word en sien uit na die pad wat voorlê.

image

Publication: October 2014

Section: Grain SA

Search