• Login
  • Search Icon

'n Kykie na die verspreiding van Russiese koringluis-biotipes in Suid-Afrika

April 2016

ASTRID JANKIELSOHN, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

Russiese koringluis (Diuraphis noxia [Kurdjumov]) het van sy oorspronklike habitat versprei na al die lande waar koring verbou word, met die uitsondering van Australië. Die Russiese koringluis is tans ‘n internasionale koringplaag en word as die primêre plaag op droëlandkoring in Noord-Amerika en Suid-Afrika beskou.

Russiese koringluis is ‘n uitheemse plantluisspesie wat in staat is om in lae getalle uiterste toestande vir ‘n relatiewe lang tydperk te oorleef (Foto 1). Wanneer die omgewing dan weer geskik is vir vermeerdering van populasies, kan uitbreke in nuwe gebiede verwag word.

'n Kykie na die verspreiding van Russiese koringluis-biotipes in Suid-Afrika

Weerstandsteling in koring is ‘n koste-effektiewe strategie om die populasiegroei van Russiese koringluis te beperk en sodoende die negatiewe effek as gevolg van voedingskade deur die luis op koring te verminder (Foto 2). Die voorkoms van nuwe Russiese koringluis-biotipes veroorsaak egter dat hierdie strategie tans nie meer so effektief is nie.

Daar is tans vier Russiese koringluis-biotipes in Suid-Afrika bekend. RWASA1 is die eerste biotipe wat vir die eerste keer in 1978 in Bethlehem, in die Oos-Vrystaat, opgemerk is. RWASA2, wat virulent is teen die Dn1-weerstandsgeen in koring, is in 2005, veral in die Oos-Vrystaat, opgemerk.

RWASA3, wat virulent is teen die Dn1- en Dn4-weerstandsgeen in koring, is in 2009 in die Oos-Vrystaat opgemerk. RWASA4, wat virulent is teen die Dn1-, Dn4- en Dn5-weerstandsgeen in koring, is gedurende 2011 in die Oos-Vrystaat opgemerk. Die skade op koring as gevolg van die Russiese koringluis sal dus nie net afhang van die genetiese weerstand (spesifieke weerstands geen) van die kultivar wat verbou word nie, maar ook van die verspreiding van die betrokke Russiese koringluis-biotipes in ‘n spesifieke gebied.

Die populasiedigtheid van sommige insekspesies, op die grens van hul geografiese verspreidingsgebied of in ‘n nuwe verspreidingsgebied, toon soms geweldige fluktuasies. Omgewingsveranderlikes het ‘n groot invloed op die populasiedigtheid van insekte.

Die Russiese koringluis-biotipekompleks verander dus afhangende van verandering in die omgewing. Aangesien die Russiese koringluis  ‘n betekenisvolle bedreiging vir die koringbedryf in Suid-Afrika is, is dit belangrik om die verandering in populasiedigtheid van die Russiese koringluis-biotipes te monitor.

Gedurende 2015 was die populasiedigtheid van Russiese koringluis in Suid-Afrika relatief laag. In die Vrystaat en Noord-Kaap het 32,35% van die lande wat gemonitor is, geen Russiese koringluisinfestasie gehad nie (Figuur 1). Die dominante biotipe in die Vrystaat was RWASA4, wat 19,12% van die biotipekompleks verteenwoordig het (Figuur 1).

RWASA1 en RWASA3 het elk 17,65% van die biotipekompleks verteenwoordig, terwyl RWASA2 13,24% van die biotipekompleks verteenwoordig het (Figuur 1). In die Sentraal- en Wes-Vrystaat en in die Noord-Kaap (Vaalharts-besproeiingsgebied) was die enigste Russiese koringluis-biotipe wat voorgekom het RWASA1 (Figuur 1).

Die ander biotipes (RWASA2, RWASA3 en RWASA4) was gekonsentreerd in die Oos-Vrystaat (Figuur 1). Hoewel RWASA4 nog steeds net in die Oos-Vrystaat voorgekom het, het die verspreidingsgebied verander van die vorige jare waar dit aanvanklik in die Lindleyomgewing voorgekom het.

Gedurende 2015 het RWASA4 versprei na die Reitz-, Bethlehem-, Fouriesburg- en Ficksburg-omgewing (Figuur 1). In die Wes-Kaap het 93,6% van die lande wat gemonitor is, geen Russiese koringluisinfestasie gehad nie en slegs RWASA1 was hier teenwoordig (Figuur 2).

'n Kykie na die verspreiding van Russiese koringluis-biotipes in Suid-Afrika

Hoewel die Russiese koringluis se populasiegroei relatief laag was gedurende 2015, moet ‘n mens onthou dat dit kan verander soos die omgewingstoestande verander en meer geskik raak vir die populasie groei van die plantluise.

Die verspreidingsgebied van hierdie biotipes kan ook verander soos die omgewing in verskillende gebiede verander en moontlik meer geskik raak vir die populasiegroei van spesifieke Russiese koring luis-biotipes.

imageDit is dus belangrik om die voorkoms en verspreiding van Russiese koringluis-biotipes te monitor om vroegtydig bewus te wees van nuwe Russiese koringluis-biotipes en ook van die verspreiding van bestaande biotipes na ander gebiede. Die sukses van teelprogramme vir Russiese koringluisweerstand in koring is afhanklik van hierdie inligting.

Navrae kan gerig word aan die outeur by 058 307 3431 of jankielsohna@arc.agric.za.

Navorsing moontlik gemaak deur die Wintergraantrust en Landbounavorsingsraad

Publication: April 2016

Section: On farm level

Search