Background Image
Previous Page  6 / 116 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 6 / 116 Next Page
Page Background

4

e

k sit en lees berigte oor die landbousektor in verskeie

lande en raak só bewus van ander produsente se unieke

probleme. Die droogte, politieke onstuimigheid en swak

ekonomiese toestande in Suid-Afrika het mos maar die

geneigdheid om jou net op jou eie dilemma te laat fokus.

Ek lees die betoog van die Britse produsente wat tot 55% van hulle

jaarlikse inkomste van die EU se subsidiesisteem gekry het. Dalk

is dit erger as ‘n droogte! Ek spot baie keer met die Europeërs en

Amerikaners só daaroor: “In South Africa we farm our land to get an

income and you farm your government to get an income.”

Die ironie is dat ons nou ‘n stryd het om daardie grond te behou

waarmee ons ons inkomste moet verseker en hulle weer het ‘n stryd

om hul regeringsubsidies te behou sodat hulle hul inkomste kan

handhaaf. Albei die situasies is sleg vir landbouers, maar wat is nou

eintlik die ergste?

‘n Professor van die besigheidskool in Genève, Switserland, het een-

dag vir ons in ‘n klas gesê dat beleid soos verkeersreëls behoort

te wees: Voorspelbaar. Jy moet met redelike sekerheid kan sê dat

alle motors gaan stop wanneer die verkeerslig na rooi toe oorslaan.

Dan weet al die padgebruikers min of meer wat om te verwag en

wat om te doen. Nou ja, nodeloos om te sê dat dit sy eerste be-

soek aan Suid-Afrika was en dat hy nog min ervaring van ons taxi-

bestuurders gehad het. Sy beginsel bly egter steeds soos ‘n paal bo

water staan.

Graanprodusente in Suid-Afrika beskik oor die vermoë om deur

droogtes te werk en ‘n plan te maak. Ons weet daar is sulke tye en

probeer voorsien en planne beraam, maar vir die onvoorspelbaar-

heid van beleid kan nie maklik voorsiening gemaak word nie.

Graan SA probeer daagliks om daardie voorspelbaarheid te verbeter

en om seker te maak dat beleidmakers die implikasies van lukrake

veranderinge beter insien.

Met die plaaslike verkiesings, hoë voedselpryse en groter-wordende

ongelukkigheid onder veral die werklose jeug, is die brandasem

beleidmakers baie opsigtelik in die vergaderings wat ons hier in

Pretoria bywoon. Dit is nie net hul onkunde oor die landbousektor

wat dan na vore kom nie, maar ook die ondeurdagte instruksies van

die politici wat net eenvoudig dit of dat nóú moet laat gebeur.

Baie keer moet die belaglike verwagtinge van sulke amptenare en

die uitkomstes wat daaraan gekoppel is, dan buig voor die natuur en

die seisoen: “Meneer, ons kan nie nou mielies plant nie – al het dit

gereën. Dit is winter in die Vrystaat. Ons plant eers weer in Novem-

bermaand!”

Hierdie buig voor die natuur (en nie soos hulle soms dink voor

hardkoppige produsente nie) maak ‘n deur oop om die gesprek oor

beleid te kan voortsit. Die harde realiteite van die droogte en die

uitwerking van hoë voedselpryse op die arm gemeenskappe is vir

beleidmakers ‘n reuse kopseer.

Daar is nie kitsoplossings hiervoor nie. Goeie langtermyn, voor-

spelbare beleid is al wat die negatiewe uitwerking kan versag. Ver-

sag ja, nie wegneem nie. Landbou is soos ‘n groot boot, jy draai dit

nie sommer in ‘n uur om nie.

As ek die manne in die suide reg aanhoor, dan lyk dit of die droë

jaar in die Swartland gedraai het en die wintergraanoeste mooi

aankom. Wat die noorde betref, is ons nou in die sessie na tee op

die vyfde dag van ‘n kriekettoets. Ons kolf vir ‘n gelykopuitslag.

Daar is nog so paar paaltjies in die bank, maar wen kan ons nie meer

nie. Vasbyt, manne! Ek raak saam met julle opgewonde en sien uit na

‘n nuwe, nat seisoen.

Daar is geen kitsoplossing

vir ons probleme nie

JANNIE DE VILLIERS,

uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Graan SA probeer

daagliks om daardie

voorspelbaarheid te

verbeter en om seker te

maak dat beleidmakers

die implikasies van

lukrake veranderinge

beter insien.

STANDPUNT

POINT OF VIEW

Graan SA

Augustus 2016