Previous Page  46 / 48 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 46 / 48 Next Page
Page Background

Januarie 2019

44

Beste Grootneef

o

u Neef, gisteraand met die ou jaar in die wieke, het die

gedagtes pad gevat tot by Tsodilo. Tsodilo is nie ’n plek

nie, dit is ’n reis. In toeka se dae moes jy jou eie water

en brandstof saamneem, want dit was ver en afgeleë. ’n

Tweespoorpaadjie na Tsodilo kronkel van die Delta deur

gebroke mopanie- en doringveld. By party kolle moes jy

vet gee om deur die sand te kom.

En dan skielik, deur bosse, begin jy Tsodilo op ’n afstand sien. Drie

bykans loodregte soliede klipheuwels wat uit die vlaktes verrys. Jy

kan nie anders as om ’n oomblik te stop en die grootsheid van die

natuur in te drink nie, want hierdie is Afrika se Notre-Dame.

Die legende van Tsodilo is dat die drie heuwels ’n gesin voorstel:

Die vader, moeder en kind. Die Tsodilo-heuwels is besaai met skeure

en holkranse, met verskeie skilderykranse vol kunsuitstallings

van die San wat deur die eeue hul merk hier kom maak het. Die

ou mense vertel dat Tsodilo vir die San-swerwers ’n plek van

aanbidding was. Hier het hul ’n wyle vertoef om verhale van jagtogte

en reise in die holkranse te boekstaaf. Oerkuns, in dowwe kleure

met eenvoudige hale van oker op klip.

Ou Neef, op die een plek in ’n geslote vallei vind jy vele potskerwe

in die vlak sand – elke skerf ’n stille getuie van ’n beskawing wat

eens daar was. Selfs ou vishoeke van been is daar uitgesif. Aan die

oostekant van die heuwels kan jy spoelklippe sien van die groot

waters wat eens op ’n tyd tot teen Tsodilo se voete gespoel het.

Daar word vertel dat ná die verskuiwing van Afrika se grondplate,

die water ’n ander pad na die Delta gevind het, waar dit nou tot in

die middel van Botswana stoot.

Ons het die middag laat die tent so ’n entjie van die klipgesin

opgeslaan. Met die vuurtjie aan die brand, was die son se laaste

strale uit die weste ’n skouspel van rooi en roesbruin oor Tsodilo se

loodregte klipkranse. Van die ander kampeerders het hul tente knus

in die vallei tussen die rotskoppe opgeslaan.

Ou Neef, op daardie wintersaand was ons in die eensaamheid

van ’n Afrika-nag omgeef deur die helderste van die sterre in die

hemelruim. Met die laaste flikker van die vuur het ons ingekruip. Dit

was ’n lang dag.

Dit was omtrent so twee-uur die nag toe ons die vreemde oer-

kreun die eerste keer gehoor het. Eers sag en fluisterend ver en toe

dringender tot ’n oorweldigende bulderende dreuning. En toe buig

die tent vooroor op sy penne onder die aanslag van die wind met

sand, blare en takke wat die tentseil meedoënloos geslaan het. Ons

het die wind verder oor die vlaktes hoor weghardloop die weste in en

die kinders geroep om in ons tent te kom skuil.

Die aarde het ná hierdie kragvertoon stil gewag – totdat die volgende

kerm en klag uit Tsodilo se rotse weerklink het. Eers veraf soos ’n

dier in pyn en later met die kreet van siele in nood wat jy aan

niemand kan oorvertel nie. Die volgende windstoot met blare en

sand het ons daarna met volle geweld getref. Na elke windstoot, kon

ons hoor hoe die wind westekant toe oor die vlaktes wegjaag – tot

dit weer stil geword het in afwagting op die volgende stormwind wat

Tsodilo laat kreun het.

Die volgende oggend met eerste lig is die omvang van die wind se

krag eers besef. Tafels en kampstoele het die wêreld vol gelê. Van

die mense wat in die Tsodilo-vallei tussen die koppe kamp opgeslaan

het, se tente was totaal vernietig. Die oostewinde is in ’n sleur tussen

die heuwels vasgedruk, wat die wind daar nog erger gemaak het.

Die meeste van die mense het die nag in hul voertuie deurgebring.

Die veldwagter het dit later so verduidelik: Met ’n koeëldoppie voor

sy lippe het hy saggies in die doppie geblaas en toe harder, met ’n

een-toon fluit wat eers saggies en later skerper uit die doppie

weerklink het. Sy antwoord was dat Tsodilo net so werk. Wanneer

die wind van die Delta sterk genoeg waai, fluit dit deur Tsodilo se

holkranse en skeure. En so word die drie heuwels ’n magtige kliporrel.

Soms dink ek weer aan die nag by Tsodilo met die wind se skouspel

deur die ou klipskeure. En oor die San wie lank reeds van Tsodilo

weggetrek het, maar wie se stemme daardie nag helder weerklink

het, terwyl hulle die eeuoue woestyndans op die maat van die

oostewind doen.

Ou Neef, 2019 lê voor ons. Die wind gáán waai en die storms sál

woed. Maak seker dat jou lewenstent by die Vaste Rots opgeslaan is.

Op jou eie kan jou tentwoning uitmekaar gepluk word.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

E-POSSE

aan Groot neef

Tsodilo se kliporrel

Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by

kleinneef@graingrowers.co.za.