Landboutoestande: Wes-Kaap

plugin
07 Sep 2017

LANDBOUTOESTANDE: SWARTLAND

Kaap-Agri omgewing

Alhoewel die graanopkoms oor die algemeen laat was is die stand (plante/vkm) oor die algemeen goed. Minder as 50% van die gemiddelde reënval het vanaf April tot September oor die algemeen voorgekom; in van die laer reënvalgebiede bv. Eendekuil & Piketberg het sommige graanaanplantings reeds skade opgedoen wat ongelukkig nie sal kan herstel nie. Die res van die Swartland lyk redelik tot goed, maar dis belangrik om kennis te dra dat die grondvog baie laag is met relatief jong grane. Die afgelope baie warm eerste 5 dae in September is baie ongunstig en veroorsaak verdere skade.

Die oesverwagting vir Noord-Swartland (areas noord van Porterville & Piketberg) asook gedeeltes van die Weskus is tans ondergemiddeld terwyl Suid-Swartland gemiddeld tot effens bogemiddeld is. Die volgende 4 weke se reënval en temperature is bepalend of voormelde oes gaan realiseer. Die kanola aanplantings in die Swartland is meer as verlede jaar met ‘n gemiddelde tot swak opkoms. Daar is enkele lande met baie swak stand. Bogenoemde, asook lae reënval dra by tot ondergemiddelde oesverwagting. Die verwagte soetlupienproduksie blyk ook ondergemiddeld te wees.

Overberg- Agri

Die huidige jaar in die Swartland is nie ‘n normale jaar is nie, en daar is groot rede tot kommer. Die eerste winterreën het eers op 7 Junie geval, ‘n maand later as normaalweg. Dit tesame met lae grondtemprature het tot gevolg gehad dat die huidige jaar sowat 4 tot 6 weke agter ‘n normale jaar is. Die reënvalverspreiding deur die afgelope reënseisoen was ook baie oneweredig wat groot verskille oor die streek meebring.

Die laat reën en koue temperature het aanleiding gegee tot ‘n aansienlik korter groeiperiode. Die lente het intussen aangebreek, wat beteken dat die plante nou besig is om in saadproduksie fase in te gaan. Die probleem is egter dat daar vanweë die uiters lae reënval ‘n baie groot tekort aan grondvog is. Daar is huidiglik reeds groot verliese oor sowat 20% van die aangeplante koring terwyl nog 30% vêr onder gemiddeld is. Die res het steeds ‘n gemiddelde opbrengspotensiaal, maar reënval in September is krities om hierby uit te kom anders kan die potensiaal ook nie realiseer nie.

LANDBOUTOESTANDE: SUID KAAP

Overberg-Agri omgewing

As gevolg van die laat aanvang van die seisoen en onder gemiddelde reënval is daar groot variasie in die stand en ouderdom van aanplantings. Weidings is uiters onder druk en meeste produsente voer nog aanmekaar om ooie se kondisie te probeer behou. Lammers word so vroeg moontlik gespeen en self afgerond of verkoop as slaglammers weens die tekort aan weiding.

Graan oor die grootste area van die Suid-Kaap, van Botrivier tot Riviersonderend/Ouplaas, het nog steeds ‘n gemiddelde potensiaal. Die reënval in September gaan bepaal of dit gaan realiseer of nie. Weens die ongunstige lae reënval vroeg in die seisoen is ongeveer 30% van die graan se stand oor die algemeen swakker as wat dit moet wees. Dit is veral die geval in graan wat vroeg aangeplant is. Graan wat later aangeplant is, se stand is goed met goeie potensiaal, maar kan slegs realiseer met goeie reën in September.

SSK-omgewing

Graangewasse is in sekere gebiede tot ‘n maand later as normaal aangeplant weens abnormale droogtetoestande wat voor en tydens planttyd (April-Mei) voorgekom het. Relatiewe goeie reën is eers Augustus maand ontvang wat meebring dat daar daar swak opkoms plek-plek was en gewasse het droogtestremming tydens die opbrengs-bapalende tyd van die plant gehad. Gewasse is korter met laer biomassa as ander jare so die beskikbaarheid van ruvoer mag dalk ‘n probleem wees vir suiwel boerderye wat staat maak op kuilvoer en strooi vanaf graanprodusente. Die laaste 2 weke se reën wat voorgekom het, het die gewasse laat herstel alhoewel die impak van die droogte onvermybaar is en tog sy tol geeis het en die opbrengste negatief beinvloed het. Daar is baie ongelyke opkoms van die gewasse. September se reenval sal bepaal indien daar goeie pitvul sal wees wat ‘n groot rol met gradering en opbrengste speel. September maand is wel bekend vir die maak-of-breek maand so voortdurende opvolgrëen bly noodsaaklik.  

Algemeen: Damvlakke (Wes-Kaap) gemiddeld steeds laer as 50% van kapasiteit en laer vs vorige jaar.

 

*Met dank aan verberg Agri & Kaap Agri  vir die informasie

plugin