• Login
  • Search Icon

Hoe word datawetenskap in die VSA toegepas?

December 2015

LANDI KRUGER, datawetenskapkoördineerder: Graan SA

Datawetenskap is ‘n konsep wat die afgelope tyd al meer op die voorgrond getree het, veral van toepassing op die landbousektor. Hoewel die implementering en presiese werking van dié wetenskap op die huidige stadium meer vrae as antwoorde inhou, is dit definitief ‘n wetenskap om mee rekening te hou in die toekoms.

Hoe word datawetenskap in die VSA toegepas?

Vroeër vanjaar het ek die geleentheid gehad om te gaan kyk hoe die VSA die gebruik van datawetenskap in die landbousektor toe pas danksy ‘n borgskap van Monsanto en Graan SA. Ek deel graag in hierdie artikel ‘n paar waarnemings met ons lesers.

Monsanto is toegewyd tot toenemende produksie en bewaring van hulpbronne en het die afgelope drie jaar meer fokus geplaas op die gebruik van tegnologie en hoe dit produsente se risikobestuur kan verbeter en produktiwiteit kan verhoog. Die maatskappy het in hierdie tyd in drie organisasies belê wat spesialiseer in verskeie fasette van presisieboerdery en datawetenskap.

Climate Corporation (St Louis, Missouri) lewer unieke sagteware, hardeware en versekeringsdienste aan produsente. ‘n Produsent kan al sy landerye op die webblad registreer, waarna hy elke keer ingelig word wanneer en hoeveel dit op die spesifieke land gereën het. Weersimulasies kan per land gesien word – wat handig te pas kom wanneer daar gespuit moet word.

Die program kan verder gebruik word om satellietbeelde van die landerye te sien wat op ‘n weeklikse basis opgedateer word en dit wys ook areas in die land uit waar tekorte of siektes ontstaan. Dit stel die produsent in staat om vinnig daarop te reageer en regstellings aan te bring indien moontlik.

Toediening van die regte hoeveelheid stikstof, op die regte tyd, is ‘n groot uitdaging vir die meeste VSA-produsente en Climate Corporation spreek dié uitdaging aan deur ‘n stikstofaanbeveling te maak. Inligting wat in ag geneem word, is die grondtipe, bewerkingsmetodes, vorige gewas op die land, plantdatum, plantpopulasie en teikenopbrengs.

Die program neem weervoorspellings en beplande stikstoftoedienings in ag en bereken of die plant te min, te veel of die regte hoeveelheid stikstof gaan ontvang. Die doel van die program is om die produsent van akkurate inligting te voorsien, wat sy besluitneming ondersteun en in staat stel om probleme te identifiseer en daarop te reageer voor dit die opbrengs beïnvloed.

Precision Planting (Tremont, Illinois) fokus ook op tegnologie met spesifieke verwysing na presisieboerderytoerusting. Hul produkreeks sluit meganiese produkte, monitors en wolk (cloud)-oplossings in. Nie net maak hul akkurate data-insameling en -verwerking moontlik nie, hul meganiese produkte stel die produsent ook in staat om die aanbevelings te implementeer.

Die maatskappy beskik oor ‘n inbelsentrum waar hul kliënte se vrae en probleme in ‘n kits uitsorteer. Die persone aan die ander kant van die foon is bekwaam, ken hul toerusting en het die toerusting byderhand om dieselfde probleem te simuleer en die produsent te help om dit spoedig op te los. Suid-Afrikaanse produsente kan self van hul produkte bekom deur Cerealis Precision, hul plaaslike agent.

Hoe word datawetenskap in die VSA toegepas?

640 laboratoriums (Chicago, Illinois) is onlangs deur Climate Corporation oorgeneem en het ‘n toestel ontwikkel wat aan die trekker of stroper gekoppel word om sodoende dieselfde inligting in te samel wat deur ‘n monitor ingesamel sou word. Die voordeel van dié toestel, die Fieldview Drive, is dat dit op masjinerie van verskeie vervaardigers aangewend kan word. Selfs al is die produsent nie self op die trekker nie, ontvang hy sms- of e-posverslae en kan die monitor dophou van ‘n afstand of enige ander toestel (soos tablet of slimfoon) af. Die integrasie van dié drie organisasies maak samewerking en vloei van inligting baie makliker.

Volgende aan die beurt, was ‘n besoek aan John Deere (Moline, Illinois) wat self baie navorsing op dié gebied doen en produsente al ‘n geruime tyd van tegnologie verskaf om akkurate data-insameling op grondvlak te doen.

‘n Toename in sensors, monitors en ander tegnologiese toestelle kan verwag word hoe meer produsente die waarde van akkurate en volledige data-insameling besef. Du Pont Pioneer (Des Moines, Iowa) het ‘n produk bekendgestel genaam Encirca. Encirca View is ‘n program, gratis beskikbaar, waar produsente hul lande kan merk op ‘n satellietkaart en, wanneer hy in die land sekere waarnemings maak, foto’s daarvan neem en dit oplaai of notas maak wat vir daardie spesifieke land op dag en datum gestoor word.

Sulke notas behou waardevolle inligting en kan selfs oor jare heen gestoor word vir vergelykings. Encirca View Premium is ‘n opgradering van Encirca View en beskikbaar teen ‘n nominale fooi. Dit samel akkurate weer- en reënvaldata per land (deur weerstasies moontlik gemaak) in. Encirca View Premium bied ook die nuutste mark nuus en prysinligting aan produsente. Encirca Yield Stand bied weer data-ontledings dienste wat alle fases van die gewasontwikkeling monitor en aan die produsent inligting deurgee rakende die stikstofvlakke, grondinligting en vele meer. Die doel van die program is om produsente akkurate, tydige inligting te bied waarop hul vinnige besluitneming kan baseer.

Buiten die tradisionele landboumaatskappye wat in datawetenskap belê, is daar heelwat sagteware-ontwikkelaars wat hul fokus na die landbousektor verskuif en om te bepaal hoe hulle ‘n verskil kan bewerkstellig. Een van dié organisasies is Granular (San Francisco, Kalifornië). Hul program bied aan produsente die geleentheid om nou alle bestuursfunksies elektronies in te voer, te monitor en afwykings dadelik te identifiseer: Van die beplannings- en begrotingsfase regdeur al die plaasaktiwiteite wat op ‘n daaglikse basis plaasvind tot ‘n baie akkurate analisering aan die einde van die seisoen.

‘n Produsent is dus deurgaans op hoogte van sy produksiekostes en produksieskedule per gewas en die data is toeganklik op enige tablet of slimfoon.

Hoe word datawetenskap in die VSA toegepas?Die laaste bestemming op reis in die VSA was by ‘n organisasie genaamd Farmers Business Network (San Carlos, Kalifornië). In lyn met die ander verskaffers van datadienste, het produsente toegang tot baie data. Produsente kan hul monitors instel om inligting direk na Farmers Business Network te stuur sodat dit nie self ingevoer hoef te word nie.

Die program kan ook gebruik word om opbrengste te vergelyk met ander produsente wat van hul diens gebruik maak. ‘n Produsent se opbrengs kan op ‘n anonieme platform vergelyk word met ander produsente in dieselfde streek, met dieselfde grondtipes, wat dieselfde saad geplant het. Die produsent se inligting sal dus steeds privaat bly.

Hoe meer produsente inteken, hoe meer vergelykings kan gedoen word. Die doel van die program is om ‘n netwerk van produsente te vorm waar hul data kan lei tot nuwe insigte en besluitneming.

Al die bogenoemde organisasies asook ander waarvan ons nie eens bewus is nie, is besig om hul produkte uit te brei en te verbeter soos wat produsente dit begin gebruik. Dit is allermins ‘n nuwe oplossing in ‘n oogwink; die proses is soms frustrerend en bied sy unieke uitdagings.

Sommige produsente maak ten volle gebruik van die datadienste terwyl ander eers die kat uit die boom kyk. Datawetenskap is dalk tans ‘n vreemde konsep, maar is hier om te bly.

Namate organisasies in Suid-Afrika dié dienste aan produsente begin lewer, sal die werking en effek daarvan uitkristalliseer en kan dit dalk net die landbousektor soos ons dit ken, verander.

Baie dankie aan Monsanto en Graan SA vir die wonderlike geleentheid om die gebruik van tegnologiese ontwikkeling met betrekking tot datawetenskap in die landbou en die gebruik daarvan in die VSA te gaan ondersoek.

Verwysings

http://www.precisionplanting.com/
https://www.climate.com/
https://encirca.services.pioneer.com/
https://www.granular.ag/
https://www.farmersbusinessnetwork.com/

Publication: December 2015

Section: Relevant

Search