• Login
  • Search Icon

Wolwerkers beywer hulle vir meer skape en meer wol

October 2014

LEON DE BEER, bestuurder, Nasionale Wolwerkersvereniging van Suid-Afrika

Suid-Afrika se Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) is een van die oudste produsente-organisasies in die land. Dit bestaan reeds sedert 26 Mei 1926, toe daar by ‘n wolkongres op Middelburg, Oos-Kaap, besluit is om ‘n eie produsente-organisasie vir wolprodusente te stig.

Sedertdien het die organisasie gegroei en spog vandag met bykans 5 000 kommersiële produsente en sowat 15 000 kommunale produsente as vrywillige lede.

Die NWKV se missie is om winsgewende en volhoubare wol- en skaapproduksie te bevorder. Vandaar ook die slagspreuk: “Meer skape: Meer wol!”

image

Die doelwitte van die organisasie is die bevordering van ‘n vriendelike beleids- en wetgewende omgewing vir die bedryf; die skepping van ‘n doeltreffende produksie-omgewing; die daarstelling van ‘n beter markomgewing; en die totstandbringing van ‘n volmagtige, institusionele omgewing ter ondersteuning van die wolbedryf.

Om dié doel te kan bereik, is die NWKV by die verskillende strukture van georganiseerde landbou betrokke en het ‘n noue skakeling met die toepaslike nasionale en provinsiale regeringsdepartemente oor aspekte rakende wetgewing.

Die NWKV kan met reg as die “stem” van die wolboer beskryf word, omdat dit wolboere op verskillende organisasies en forums verteenwoordig, waaronder die Wolforum, Agri SA, die Veediefstalforum en die Roofdierbestuursforum. Die NWKV se voorsitter, mnr Harry Prinsloo, is ook voorsitter van die Roofdierbestuursforum.

Voorts is die organisasie by die Dieregesondheidsforum betrokke, waar belangrike aspekte rakende biosekuriteit, soos bek-en-klouseer, Slenkdalkoors en Johne se siekte, aangespreek word.

Omdat Johne se siekte so ‘n groot probleem vir skaapboere geword het, is daar op die onlangse nasionale kongres van die NWKV ‘n beskrywingspunt aanvaar dat kopers van lewende hawe moet aandring op ‘n verkopersverklaring wat inligting verskaf rakende die risiko wat die koper loop deur ‘n dier in sy kudde in te bring wat moontlik met die siekte besmet is.

Advies en opleiding

Die NWKV is deur Cape Wools SA (‘n vereniging sonder wins-oogmerk) gekontrakteer om 'n produksie-adviesdiens aan kommersiële, kommunale en opkomende produsente te lewer. Die hoofdoel van dié diens is om produsente van advies te bedien en oor die jongste tegnologie en boer derymetodes in te lig om hul doeltreffendheid en winsgewendheid te verhoog.

Deel van die diens aan kommersiële produsente is ‘n ekonomiese adviesdiens. Dit behels die ontleding van ‘n boerdery waarna aanbevelings gemaak word oor hoe die produsent sy bestuurspraktyke kan aanpas om sy winsgewendheid te verhoog.

Vir dié doel word daar ook demonstrasieplase in verskillende gebiede gevestig waar die beste praktyke gedemonstreer kan word en as voorbeeld vir ander produsente kan dien.

Die produksie-adviseurs help voorts om ekonomiese studiegroepe op die been te bring sodat produsente vergelykings kan maak en ook hier inligting kan inwin oor hoe om hulle bestuur te verbeter. Speenpersentasie kan byvoorbeeld baie van plaas tot plaas wissel en die resultate van die ekonomiese studiegroepe verskaf bruikbare gegewens.

Die NWKV het voorts ‘n uitgebreide predasiebestuursopleidingsprogram en het reeds 30 moniteringsplase onder leiding van roofdierkenner mnr Niel Viljoen gevestig. Dié inisiatief word in samewerking met die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) en die Sybokhaar-produsentevereniging bedryf.

Hierdie moniteringsplase het ten doel om verskillende predasiebestuurstegnieke toe te pas sodat die doeltreffendheid van elke metode gemeet kan word. Sonder predasiebestuur kan veeverliese tot 25% beloop. Met die regte tegnieke, kan verliese tot 4% beperk word. Op een moniteringsplaas het die eienaar met die aanvang van die studie 10% van sy vee weens predasie verloor. Nadat hy die ongediertebestuursprogram begin volg het, het sy verliese tot 2% gedaal.

Die NWKV is tans besig om ‘n handleiding vir predasiebestuur op te stel en beoog om in die toekoms ‘n geakkrediteerde kursus vir predasiebestuur te ontwikkel.

Vir die kommunale en opkomende produsente, wat hoofsaaklik in die voormalige Ciskei en Transkei boer, word daar sterk klem op opleiding, ontwikkeling en mentorskap gelê. Dit word gedoen deur middel van onder meer inligtingsdae, besoeke deur produksie-adviseurs, kuddekompetisies en kort kursusse.

image

Infrastruktuurontwikkeling

‘n Aspek waaraan eweneens baie aandag gegee word, is die ontwikkeling van infrastruktuur in dié gebiede. Dit sluit in die opknapping van bestaande en die oprigting van nuwe skeerskure, dipgeriewe en die voorsiening van byvoorbeeld sorteertafels.

Omdat die kommunale produsente se veekuddes gewoonlik redelik klein is, word hulle aangemoedig om hulle wol by hul naaste skeerskuur gesamentlik te skeer, voor te berei en te bemark.

Sedert die aanvang van die diens in 1997 is meer as 300 skeerskure gebou of opgeknap, terwyl ‘n groot aantal produsente opleiding ontvang het in dieregesondheid, veeteelt en die klassering en behoorlike verpak king van hul wol soos deur die mark vereis word.

Die NWKV het in dieselfde jaar ook ‘n genetiese verbeteringskema van stapel gestuur met die doel om die genetiese gehalte van die skape wat geteel en die wol wat geproduseer word, te verbeter. Die skema behels die jaarlikse aankoop van uitgesoekte ramme van kommersiële produsente wat naby die kommunale gebiede boer sodat die diere vir die omgewing aangepas is.

Swak ramme in die kommunale produsente se kuddes word dan met goeie ramme vervang. Altesame 36 830 ramme van gehalte is oor die afgelope elf jaar in kommunale gebiede gevestig. Die ramskema het wolproduksie en die gehalte van die wol in hierdie gebiede opmerklik help verhoog. Die skema word deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming befonds. In terme van die ooreenkoms met die departement, moet opkomende produsente ook betrek word en drie produsente is reeds geïdentifiseer om in die toekoms ramme vir die skema te teel.

Armoedeverligting

Produsente is ook gehelp om beter marktoegang te kry en hul wol deur middel van die formele mark (openbare wolveilings) te bemark waar hulle mededingende pryse ontvang, in stede van om aan smouse te verkoop wat uiters lae pryse betaal. Dit het tot ‘n dramatiese toename in die inkomste uit wol in die kommunale gebiede gelei.

Net 222 610 kg wol is in die 1997/1998-seisoen uit dié gebiede per veiling verkoop; wat aan die produsente R1,5 miljoen besorg het.

In die 2013/2014-seisoen het die volume wol wat op die veilings verkoop is, tot 3,8 miljoen kg gestyg en het die produsente se inkomste daaruit bykans R138 miljoen beloop – 'n aansienlike verhoging in die inkomste van die kommunale produsente vergeleke met die beginjare van die diens. Wol het gevolglik oor die afgelope elf jaar ‘n groot bydrae tot armoedeverligting in dié gebiede gelewer.

Die NWKV se programme vir kommunale en opkomende produsente word deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming ondersteun. Die organisasie is tans ook besig om koöperasies in die kommunale gebiede te vestig.

Van die beste ter wêreld

‘n Skeerderopleidingsprogram om skeerders vir die bedryf op te lei word ook deur die NWKV bedryf. Die organisasie werk hard daaraan om meer Suid-Afrikaanse burgers in die skeerspanne te kry en die werkskeppingsprogram van die regering te ondersteun. Tot onlangs het die meerderheid skeerders uit Lesotho gekom. Die skeerderopleidingsprogram is ook by die AgriSETA geakkrediteer.

Suid-Afrika se skeerders vergelyk goed met skeerders in ander lande. Ons handskeerders is van die beste in die wêreld en oorheers reeds sedert 1996 die handskeerafdeling op die Golden Shears Wêreldskaapskeerkampioenskappe wat elke twee jaar gehou word. By die jongste byeenkoms wat in Mei vanjaar in Gorey, Ierland, gehou is, is die Suid-Afrikaners weer as wenner en naaswenner in die handskeerafdeling gekroon. Skeerders uit 27 lande het deelgeneem. Om die kroon te span, het ‘n Suid-Afrikaner ook die handskeer in die ope-afdeling van die Ierse Nasionale Skeerkampioenskappe, wat terselfdertyd gehou is, gewen.

Effektiewe kommunikasie

Die NWKV kommunikeer met sy lede deur middel van sy webtuiste, ’n tweemaandelikse tydskrif – die Wolboer – en ‘n maandelikse elektroniese nuusbrief.

Die Wolboer is ‘n glanstydskrif met ‘n wye verskeidenheid artikels wat wissel van biosekuriteit, algemene veesiektes, roofdierbestuur, verskillende produksie-aspekte tot markinligting, wolbevordering en nuus uit die belangrikste markte vir wol.

Dit bevat ook ‘n tweemaandelikse boerderybestuurskalender met ‘n lys van bestuursaksies wat as belangrik vir die komende twee maande beskou word en die produsent kan help om sy veekudde beter te bestuur.

Ingeskrewe lede van die NWKV ontvang die tydskrif gratis; die elektroniese nuusbrief is ook gratis aan alle belangstellendes beskikbaar.

Benewens jaarvergaderings in die onderskeie streke, hou die NWKV ook ‘n jaarlikse kongres in Port Elizabeth waar sake van belang bespreek word.

Verder is die NWKV ook betrokke by die International Wool Textile Organisation (IWTO) en woon die vergaderings by. Die IWTO is die oorkoepelende liggaam wat die internasionale wolbedryf verteenwoordig, standaarde daarstel en wol bevorder. Die NWKV was ook betrokke by die internasionale Merino-konferensie wat vroeër vanjaar in Stellenbosch gehou is.

‘n Sosiale gewete

Die vereniging beywer hom vir die welsyn van diere en volhoubare boerderymetodes, wat belangrike kwessies vir die verbruiker geword het. Verbruikers begin toenemend aandring op naspeurbaarheid en wil weet wat die oorsprong van die diereprodukte is wat hulle koop, hetsy dit klere of vleis is. Die NWKV was instrumenteel met die ontwikkeling van ‘n Kode vir Beste Praktyke wat riglyne aan produsente verskaf om wol te produseer wat omgewingsvriendelik en volhoubaar is en na die welsyn van die skape om te sien.

Om dierewelsyn verder te ondersteun en te bevorder, is die NWKV lid van die Livestock Welfare Co-ordinating Committee (LWCC) wat 35 jaar gelede gestig is met die doel om wreedheid by abattoirs te voorkom, maar nou ‘n wyer rol het en onder meer kodes vir beste praktyke vir die verskillende veerasse opstel.

Kontak NWKV se hoofkantoor by 041 365 5030 of besoek www.nwga.co.za.

Publication: October 2014

Section: Focus on

Search