• Login
  • Search Icon

WIT OLIFANTE

April 2012

image


Wanneer ons deur sekere dele van ons land ry, is daar heelwat monumente wat gebeurtenisse van die verlede uitbeeld. Daar is monumente wat oorloë herdenk wat geveg was en daar is ‘n apartheidsmuseum om ons te herinner aan ons land se ontwikkeling. Ek wil nie vandag daarmee besig raak nie, maar ek wil na die ekonomiese monumente verwys.

Die ekonomiese monumente is leë fabrieke, pakhuise en selfs spookdorpe wat weens die apartheidsbeleid en desentralisasiebeleid ontstaan het aangesien hulle op die verkeerde plekke gevestig is. Selfs dit is nie waarmee ek wil besig raak nie, want dit is water onder deur die brug.

Vandag wil ek voorgenoemde wit olifante vergelyk met die onvoldoende dienste wat die staat lewer wat tans die mark dwing om soortgelyke verkeerde vestigingsbesluite te neem. Deur die onbeskikbaarheid van noodsaaklike dienste, soos elektrisiteit, water en paaie, is besighede geforseer om op minder gunstige plekke te belê en te vestig, bloot omdat die infrastruktuur by die mees mededingende plek nie voldoende is en volhoubaar gelewer kan word nie.

Só noem ‘n besigheidsman dit die ander dag teenoor my dat die enkel grootste liggingsfaktor vir die vestiging van hulle verwerkingsaanleg, die beskikbaarheid van ondergrondse water was, want hulle kon nie genoegsame versekering van die plaaslike owerhede kry dat daar genoeg water tot hulle beskikking sou wees, om die beste keuse te kon uitoefen nie.

‘n Ander onlangse voorbeeld is van ‘n uiters noodsaaklike oliesadeverwerkings- aanleg en veevoerfabriek wat by die tweede beste liggingspunt gevestig moes word omdat die elektrisiteitsvoorsiening nie genoegsaam was by die optimumpunt nie.

Die saak waarmee ek hier doenig is, is dat dit nie vandag ‘n wet (apartheid) of ‘n desentralisasiebeleid is wat die ekonomie forseer om wit olifante op te rig nie, maar wel die onbeholpenheid van die staat om dienste, soos elektrisiteit, water en paaie te voorsien wat tot gevolg gaan hê dat ons dalk weer oor 20 jaar by spookdorpe en leë fabrieke met stukkende vensters en spinnerakke gaan verby ry weens verkeerde ligging.

Ons het nou volhoubare en die mees winsgewende beleggings nodig wat werksgeleenthede vir die lang termyn kan skep. Suid-Afrika het met groot dringendheid en prioriteit wette geskraap om met oneffektiwiteit van die verlede weg te doen, maar dieselfde erns word nie daarmee gemaak om te verhoed dat onvoldoende infrastrukture dieselfde gevolge herhaal nie. Beleggings is nie iets wat jy vandag kan skuif sodra die diensverskaffers in plek is nie. Die beleggings is veral nodig in die platteland waar werkloosheid selfs so hoog as 78% is.

Met beter dienste in stede is daar ‘n nuwe “wet” wat liggingsbesluite so oorskadu dat dit oor tien jaar dalk (weer?) totaal onekonomies kan wees. Die huidige tendens werk eerder in die hand van verstedeliking, wat beslis nie ons beleid van ontwikkeling in die platteland voorstaan nie.

Landbou speel ‘n uiters belangrike rol in die ontwikkeling van die platteland en die huidige swak dienste gaan nuwe beleggings ‘n gevoelige knou toedien.

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: April 2012

Section: Editorial

Search