• Login
  • Search Icon

WISSELVALLIGHEID

February 2012

image

Die jaar het baie opwindend afgeskop en tog ook baie wisselvallig. Ek praat van ‘n nuwe dinamika wat in die graanmarkte nuwe uitdagings bied; wisselvalligheid van die somergewasse se aanplantings; en die reën.

Hierdie wisselvalligheid kom ook in die regerende party voor in die aanloop tot die leierskapverkiesing wat moontlik ook op ‘n wisseling kan uitloop. Graan SA verwag self ‘n wisseling in die leierskap as mnr Neels Ferreira aan die begin van Maart 2012 by die Kongres die tuig gaan neerlê.

Dié soort wisselvalligheid lei tot onsekerheid. Onseker heid se boetie is risiko; en risiko’s ken ons almal en dit laat ‘n mens se hare regop staan, want risiko kos geld. Risiko’s bring egter ook groter geleenthede om beter winste te maak, indien dit reg hanteer word.

Graan SA se primêre strategiese doelwit is winsgewende, volhoubare produksie van graan en oliesade in ‘n vryemark-beleidsomgewing. Daarom is dit dalk nodig dat ons in die nuwe jaar weer opnuut na die wisselvallighede kyk en ons risiko’s op ‘n wyse bestuur en hanteer wat volhoubaarheid voorstaan.

Wat die wisselvalligheid en nuwe dinamika in die mark betref, sal ek graag volgende maand meer wil skryf. Die wisselvalligheid van die reënpatrone hierdie jaar tydens ons someraanplantings voorspel niks goeds vir graanproduksie nie. As hierdie patrone die resultate van klimaatsveranderings is, lê daar nog baie moeilike tye voor. Die saadtelers sal ook hiervan moet kennis neem om hierdie situasies beter te kan bestuur.

Ons navorsers sal ook sulke weerpatrone moet bestudeer en ons produsente van raad bedien aangesien dit ou, gevestigde praktyke kan verander. Ons kennis oor klimaatsverandering is nog nie behoorlik in plek nie en dit kan ‘n jaar of drie se data verg om nuwe oplossings te soek.

Die stryd om die leierskap in die regerende party loop die gevaar dat daar baie populêre uitsprake en korttermynsienings kan kom. Dit strook gewoonlik nie met volhoubaarheid nie. Die ander nadeel is dat daar baie senior staatsamptenare is wat weens hulle politieke affiliasies met die leier (en nie net met die ANC nie), geen groot besluite wil neem nie, want hulle kan dalk hulle poste verloor as daar ‘n wisseling in die leierskap kom.

‘n Voorbeeld in die onlangse verlede was toe president Zuma vir mnr Mbeki opgevolg het. Die hele topstruktuur is byna oornag vervang en het tot baie lae produktiwiteit en powere dienslewering in die staats diens gelei. Op baie plekke sit ons steeds oopmond en kyk na die gevolge daarvan. Een genade is dat die proses minstens op ‘n demokratiese basis geskied en nie geweldadig deur ‘n staatsgreep of burgeroorlog nie.

Dis belangrik tydens só ‘n veldtog om verhoudinge met almal goed te hou en nie partydig te raak in die aanloop tot die verkiesing nie. Baie van die kontinuïteit raak dan gesetel in ons institusionele kapasiteit soos Graan SA en dit bied weer nuwe geleenthede om ‘n beter beleidsomgewing te skep.

Wat die wisseling in leierskap van ons eie organisasie betref, is daar beslis minder risiko vir produsente. Daar is genoegsame diepte in ons leierskap en die strategiese doelwitte is vir ‘n paar jaar vasgemaak. Die personeel is gefokus en het nie ‘n onsekerheid oor wat van hulle verwag word nie. Die demokrasie sal sy pad loop en niks van die huidige momentum sal verlore gaan nie. Dit bly maar ‘n kroon op ons mense se werk as dinge só oorgegee kan word. Goed gedoen, Neels!

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: February 2012

Section: Editorial

Search