• Login
  • Search Icon

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

September 2016

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

PETRU FOURIE, navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis: Graan SA

Die 2015/2016-produksieseisoen is ‘n jaar wat in almal se gedagtes vasgepen sal bly omdat die ergste droogte, sedert rekordhouding in 1904 begin het, Suid-Afrika getref het. Die somersaaigebiede het onder erge droogte toestande gebuk gegaan en weens dié knellende droogte tydens die planttyd van somergrane en ‘n tekort aan ondergrondse vog, kon graanprodusente nie dít plant wat hulle oorspronklik beplan het nie.

Weens die gebeurtenisse waarna hierbo verwys word, moet groot hoeveelhede graan ingevoer word en het plaaslike graanpryse rekordhoogtes bereik.

Fokuspunt vir die komende seisoen

Die nuwe plantseisoen vir somer gewasse is om die draai wat beteken dit is weer tyd om sommetjies te maak.

Die volgende boodskap word vanaf diverse platforms uitgebasuin en die erns daarvan moet nie ligtelik deur produsente opgeneem word nie:

Weervoorspellers is optimisties oor die komende seisoen nadat bekend gemaak is dat ‘n La Niña-patroon besig is om te versterk. ‘n La Niña kan ‘n redelike goeie reënvalseisoen oor die somerreënvalgebied tot gevolg hê. Weens dié hoë waarskynlikheid van bo-normale reënval, kan goeie oeste geproduseer word – wat die huidige seisoen se rekord-graanvlakpryse teen strooptyd tot uitvoerpariteitsvlakke kan laat daal.

Met die risiko dat ‘n normale jaar kan voorkom en dat Suid-Afrika ‘n surplus kan produseer (wat pryse tot uitvoerpariteitsvlakke kan laat daal), is dit krities om die huidige pryse ten volle te benut om sodoende ‘n inkomste te verseker en te beskerm.

‘n Vergelyking van die winsgewendheid van somergewasse – Noordwes-Vrystaat

‘n Begroting moet nie as ‘n rigiede, vaste plan beskou word nie, maar wel as ‘n bestuurshulpmiddel tydens besluitneming. Produksiekoste verskil radikaal van buurman tot buurman weens elke graanprodusent se eie unieke stelsel, die tipe boerderyeenheid en die produksiepraktyke wat gevolg word.

In hierdie artikel word gepoog om ‘n aanduiding van die verskil in winsgewendheid tussen die verskeie somergewasse uit te beeld en om ‘n algemene prentjie te skets.

Die winsgewendheid (bruto marge) van verskillende somer gewasse in die Noordwes-Vrystaat-omgewing, vir die 2016/2017- produksieseisoen, word in Grafiek 1 aangetoon. Slegs veranderlike koste is in ag geneem en die bruto marge-syfers is bereken voor vaste koste verhaal word.

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Opbrengsscenario’s is gebou op grond van aannames vir dié spesifieke streek se omstandighede. Die moeilikste deel met die oog op die opstel van die vertakkingsbegroting, is om die opbrengs en prys van die kommoditeit vir die komende jaar te voorspel.

Die Safex-vooruittermynkontrak wat in die berekeninge gebruik is, is soos volg (4 Augustus 2015):

  1. Mielies vir lewering in Julie 2017 = R2 700/ton
  2. Sorghum vir lewering in Julie 2017 = R3 400/ton
  3. Sojabone vir lewering in Mei 2017 = R5 800/ton
  4. Sonneblom vir lewering Mei 2017 = R5 600/ton
  5. Grondbone vir lewering = R12 000/ton (keurgraad) (konserwatiewe syfer)

Weens die huidige relatiewe hoër vooruittermynkontrakpryse is die bruto marges, soos aangedui in Grafiek 1, heelwat hoër as die vorige paar seisoene. Dit is duidelik dat grondbone die beste bruto marge vir die komende produksieseisoen toon, gevolg deur mielieverbouing op hoër potensiële opbrengsgrond en verminderde bewerkingspraktyke (vyf jaar).

Sojabone en sonneblom se winsgewendheid blyk beter te wees as mielies s’n (by ‘n gemiddelde opbrengs).

Produksiekoste vir die 2016/2017-produksieseisoen

Verskillende aannames is met die saamstel van die begrotings gemaak – hetsy vanaf pryslyste van insetverskaffers, vooruitskattings met behulp van toekomstige rand/dollar-wisselkoerse en ruoliepryse en/of inflasie-aanpassing, waar nodig. ‘n Produsent wat só ‘n begroting gebruik, moet bewus wees daarvan dat begrotings en die aannames wat daarmee saamgaan, gedurig kan verander.

In Tabel 1, Tabel 4 en Tabel 7 word die koste om graan in die westelike, oostelike en sentrale dele van die land te verbou, aan gedui. Die begrotings is saamgestel deur veranderlike en vaste koste in berekening te bring.

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Sedert die instelling van die vryemark moet produsente self besluit of die Safex-prys voldoende is om te produseer al dan nie. Slegs deur alle koste te bereken, kan ‘n sinvolle besluit vir volhoubare produksie geneem word.

Westelike produserende streek
In Tabel 1 word die produksiekoste van Bt-mielies, sonneblom en sojabone in die westelike streek vir die komende seisoen getoon. Let daarop dat Graan SA se begrotingsmodel volledig is en grotendeels alle koste wat deur produsente aangegaan mag word, in ag neem.

Gegewe die verwagte produksiekoste is dit duidelik dat oliesade se produksiekoste laer as dié van mielies is, maar dit is baie belangrik om die verandering in produksiekoste en die verwagte prysbewegings noukeurig te monitor.

Produksiekoste van droëland GM-mielies (Bt)
In die eerste kolom van Tabel 1 word die begrote produksiekoste van Bt-mielies vir die 2016/2017-produksieseisoen uiteengesit. In die tabel word die produksiekoste van twee verskillende opbrengsmikpunte uiteengesit.

Die totale veranderlike koste vir ‘n 3,5 t/ha opbrengs beloop rondom R6 836/ha vir ‘n Bt-mieliekultivar. ‘n Berekende vaste koste van R2 379/ha word bygetel om ‘n totale produksiekoste van R9 216/ha te realiseer.

‘n Julie 2017 Safex-mielieprys van R2 700/ton is gebruik, wat min of meer R2 462/ton in die produsent se sak sal beteken ná inagneming van die vervoerdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie.

Indien hierdie prys teen die begrote insetkoste realiseer, moet die produsent vir Bt-mielies ‘n minimum van ongeveer 4 t/ha stroop om gelyk te breek (sien ook die sensitiwiteitsanalise in Tabel 2). Dié sensitiwiteitsanalise ondersteun ‘n produsent om te bepaal teen watter opbrengs en prysvlakke hy winsgewend kan produseer.

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Let wel: Weens die feit dat die huidige Julie 2017 Safex-pryse relatief hoog is en daar steeds ‘n beraamde 4 t/ha gestroop moet word om gelyk te breek, moet produsente deeglik kennis neem daarvan dat winsgewende mielieverbouing hewig onder druk kan kom spesifiek wanneer pryse na uitvoerpariteitsvlakke, soos verwag word, kan daal.

Produksiekoste van sonneblom
Die tweede kolom van Tabel 1 bevat die insetkoste vir die verbouing van sonneblom. ‘n Mei 2017 Safex-sonneblomprys van R5 600/ton is gebruik. Dit sal ‘n prys van ongeveer R5 296/ton in die produsent se sak beteken ná inagneming van die aftrekkings.

Mits die begrote insetkoste en prys realiseer kan ‘n netto marge van R104/ha gemaak word en indien 1,25 t/ha sonneblom in die westelike streek gestroop word (Tabel 3).

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Die sojaboonbegroting vir die westelike dele van die land gaan nie in detail bespreek word nie. Dit kan in Tabel 1 waargeneem word.

Oostelike produserende streek
In Tabel 4 word die produksiekoste van GM-mielies (RR) en sojabone in die oostelike streek vir die komende seisoen geïllustreer.

Produksiekoste van droëland GM-mielies (RR)
In die eerste kolom van Tabel 4 word die begrote produksiekoste van GM-mielies (RR) vir die 2016/2017-produksieseisoen vir die oostelike streke uiteengesit.

‘n Julie 2017 Safex-mielieprys van R2 700/ton is weer eens gebruik. In die tabel word die produksiekoste van ‘n 5 t/ha en 6 t/ha uiteengesit.

Vir ‘n langtermyn-gemiddelde opbrengs van 6 t/ha beloop die totale toegewese veranderlike koste R10 526/ha. Die berekende vaste koste is R2 295/ha. Die totale koste van produksie beloop dan ongeveer R12 821/ha, soos aangedui in Tabel 5.

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Indien dié Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (vaste en veranderlike koste) en gemiddelde langtermynopbrengs van 6 t/ha realiseer, beloop die netto marge R273/ha (Tabel 5).

Produksiekoste van sojabone
Die tweede kolom van Tabel 4 illustreer die uiteensetting van insetkoste vir die verbouing van sojabone. Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente teruggehou is, terwyl die ander 50% gesertifiseerde saad is. Die begroting sluit ook ‘n koste vir N, P en K in.

‘n Mei 2017 Safex-sojaboonprys van R5 800/ton is gebruik en aangesien sojabone geen vervoerdifferensiaalkoste het nie, kan ‘n moontlike prys van R5 741/ton in die produsent se sak realiseer nadat hanteringskoste en bemarkingskommissie afgetrek is.

Vir ‘n gemiddelde langtermynopbrengs van 2 t/ha, met ‘n totale produksiekoste (vaste plus veranderlike koste) van R8 773/ha, beloop die netto marge R1 354/ha (Tabel 6). Gegewe die insetkoste en die gemelde Safex-prys, moet ‘n beraamde opbrengs van ’n bietjie meer as 1,5 t/ha in die oostelike streek behaal word om gelyk te breek.

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Sentrale produserende streek
Tabel 7 toon begrote produksiekoste vir mielies, sonneblom en sojabone vir die sentrale dele van die land. Tabel 8 tot Tabel 10 dui die sensitiwiteitsanalise met verskillende produsentepryse en opbrengste van elk van dié somergrane aan.

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Winsgewendheid van somergraan: Bemarkingsplan essensieel vir nuwe seisoen

Slotsom

Volgens weervoorspellings kan die komende seisoen gunstige weerstoestande inhou, maar die groot uitdaging is daarin geleë dat plaaslike graanpryse onder druk kan kom en na uitvoerpariteitsvlakke kan daal – dit is noodsaaklik dat ‘n bemarkingsplan vir die komende seisoen in plek moet wees om risiko te bestuur.

Produsente en ander rolspelers kan die basiese produksiekoste op die Graan SA-webwerf besigtig, terwyl die model gratis aan alle opbetaalde Graan SA-lede beskikbaar is. Stuur ‘n e-pos aan petru@grainsa.co.zatesame met jou Graan SA-lidnommer om die begrotingsmodel vir jou omgewing te ontvang.

Voorspoed en seën aan elke graanprodusent in die komende seisoen!

Hierdie projek is moontlik gemaak deur die finansiële bystand van die Mielietrust.

Publication: September 2016

Section: On farm level

Search