• Login
  • Search Icon

Winsgewende mielieproduksie feitlik onmoontlik teen huidige lae mieliepryse

September 2017

Petru Fourie, navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis, Graan SA

Die huidige seisoen se rekordmielie-oes plaas geweldige druk op mieliepryse wat winsgewende mielieproduksie die komende seisoen feitlik onmoontlik maak. Daar heers kommer oor ‘n groot aantal graanprodusente se finansiële stand, want dié lae pryse volg nadat produsente vir twee seisoene lank met geweldige droogtetoestande gekonfronteer is en in ‘n diepe finansiële verknorsing gelaat is. 

Die komende plantseisoen beloof inderdaad om ‘n uiters uitdagende een, in terme van winsgewendheid, te wees. Dit is opvallend dat produsente kop krap en somme maak vir die planttyd wat voorlê: Kommer heers oor of inkomstes koste sal kan dek weens die toenemende styging van insetkoste en die lae mielieprys.

Met die finansiële druk wat tans ervaar word, raak die samestelling van produksiebegrotings, voor die aanplant van gewasse, al meer noodsaaklik. Dit moet nie ligtelik opgeneem word wanneer produksiebesluite geneem word nie.

Graanprysbestuur begin by ‘n gedetailleerde koste-ontleding van elke graanvertakking en in dié artikel word slegs gepoog om die produksiekoste vir die algemeenste produksiepraktyke vir verskillende streke voor te hou. Produsente se praktyke verskil uitermate van mekaar en daarom moet elke produsent sy eie berekeninge deeglik doen.

Beraamde mielieproduksiekoste en gelykbreekpunt
Tabel 1
dui die beraamde produksiekoste vir mielies vir die komende seisoen (2017/2018) vir verskillende produserende gebiede aan. In die westelike dele van die land word die produksiekoste vir ‘n gemiddelde opbrengspotensiaal asook ‘n hoër opbrengspotensiaal getoon, terwyl al die ander streke se koste op slegs ‘n gemiddelde opbrengspotensiaal bereken is.

Volgens Graan SA se produksiekosteberekeninge wissel die ver­anderlike koste van mielies vir verskillende produserende streke byvoorbeeld vanaf R8 046 vir ‘n 4,5 t/ha-opbrengsmikpunt in die Sentraal- en Noordwes-Vrystaat, R10 186 vir ‘n 5,5 t/ha-opbrengs in Mpumalanga tot R27 638 vir ‘n 14 t/ha-opbrengsmikpunt vir mielies onder besproeiing in die Noord-Kaap. Alhoewel vaste koste drasties van produsent tot produsent verskil, word ‘n x-bedrag daarvoor voorsiening gemaak om ‘n beraamde totale produksie­koste te bereken.

Indien slegs veranderlike koste bestudeer word, kan die afleiding gemaak word dat produsente, teen die huidige Safex-pryse, in die meeste van die streke nie hul veranderlike koste sal kan dek nie – en vaste koste is dan nog nie eers in ag geneem nie. Die Julie 2018 Safex-prys (R2 000) is dus minder as die meeste streke se ver­ander­like koste (R/ton) vir mielieproduksie.

Die Safex-gelykbreekprys (vaste plus ver­anderlike koste) vir die genoemde pro­duk­­sie-omgewings wissel heelwat hoër as die huidige Julie 2018 Safex-prys. Volgens Graan SA se produksiekoste­berekeninge wissel dié Safex-gelykbreekprys tussen R2 533/ton en
R2 942/ton – afhangende van die omgewing.

Die Safex-gelykbreekprys was slegs laer as die Julie 2018 Safex-prys vir die hoër opbrengsmikpunt van Sentraal- en Noord­wes-Vrystaat. Dit beteken in kort dat mielies, wat die komende seisoen op margi­nale gronde aangeplant word, nie winsgewend behoort te wees nie.

Teen die heersende mieliepryse behoort tot topproduksiegebiede nie ‘n wins te maak nie, omdat die mielieprys laer as die produksiekoste daarvan is. Die oordragvoorrade is eenvoudig net te groot – wat pryse onbepaald tot en met die komende seisoen onder druk kan hou.

Dit is duidelik dat winsgewende mielieverbouing onder geweldige druk is en produsente nog dieper in finansiële verknorsing gedompel kan word. Met die inagneming van dié totale produksiekoste is dit feitlik ontmoontlik dat produsente mielies winsgewend teen dié lae mielieprys kan aanplant. Hierdie situasie kan produsente se vermoë om produksiekrediet vir die komende seisoen te bekom, beperk.

Winsgewendheidsvergelyking tussen gewasse
Die winsgewendheid (bruto marge) van verskillende somergewasse vir die Sentraal- en Noordwes-Vrystaat-omgewing vir die 2017/­2018-produksieseisoen word in Grafiek 1 getoon. ‘n Pro­dusentprys (vervoerdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie is in ag geneem) en direkte veranderlike koste is gebruik om die bruto marges te bereken. Vaste koste, wat gewoonlik uitgawes verteenwoordig wat aange­gaan moet word of daar geproduseer word of nie, is nie hier in berekening gebring nie.

Die Safex-vooruittermynkontrak wat in die berekeninge gebruik is, is soos volg:

  • Mielies vir lewering in Julie 2018 = R2 000/ton;
  • Sorghum vir lewering in Mei 2018 = R2 700/ton;
  • Sojabone vir lewering in Mei 2018 = R4 820/ton;
  • Sonneblom vir lewering Mei 2018 = R4 900/ton; en
  • Grondbone vir lewering = R13 500/ton (keurgraad).

Die opbrengsscenario’s is gegrond op aannames vir produksie-omstandighede in die Noordwes-Vrystaat. Grafiek 1 is saamgestel om ‘n aanduiding van die verskil in winsgewendheid tussen die ver­skeie somergewasse uit te beeld,maar dit is belangrik om daarop te let dat hierdie syfers van produsent tot produsent mag verskil. (Let wel: Die grafiek bevat verskillende bruto marge­voorbeelde vir mielies.)

Grondbone het die beste bruto marge vir die komende pro­duksieseisoen, gevolg deur sojabone, mielies op hoër opbrengs-potensiaalgronde en dan sonneblom. Dit wil voorkom asof selfs graansorghum in meeste van die gevalle meer winsgewend as mielies behoort te wees. Produsente moet egter daarop let dat sorghum nie sonder ‘n kontrak aangeplant moet word nie.

As die gemiddelde bruto marge vir mielies ontleed word, is dit duidelik dat die hoër potensiële opbrengsgronde en die verminderde bewerkingspraktyke (vyf jaar) beter as die ander mieliescenario’s presteer, alhoewel die kosteknyptangsituasie waarin die wins­gewendheid van mielieproduksie homself bevind, nie vermy kan word nie.

Volgens Grafiek 1 is die verwagting dat daar in Suid-Afrika se nasionale aanplantingsyfers ‘n skuif weg van mielies na die meeste van die ander gewasse kan plaasvind – hoofsaaklik omdat sonneblom en sojabone se winsgewendheid hoër as dié van mielies is. Klem word weer eens daarop gelê dat sorghum nie sonder ‘n kontrak aangeplant moet word nie.

Produksiekoste-uiteensetting vir die 2017/2018-produksieseisoen
In Tabel 2 en Tabel 3 word die koste om graan in die westelike en oostelike dele van die land te verbou, geïllustreer. Dit is saamgestel deur beraamde veranderlike en vaste koste in berekening te bring. Dié berekenings is op ‘n algemene basis gedoen en kan heelwat anders vir ‘n individuele produsent wees. Alhoewel slegs die twee areas se kostes bespreek word, is die ander streke se produksie­kostes op Graan SA se webblad by www.graansa.co.za beskikbaar.

Die Safex-vooruittermynkontrak wat in die berekeninge gebruik is, is R2 000 vir mielies (Julie 2018), R4 900 vir sonneblom (Mei 2018) en R4 820 vir sojabone (Mei 2018). Vervoerdifferensiaal, hanterings-koste en bemarkingskommissie is in ag geneem om ‘n produsent­prys te bereken.

Westelike produksiestreek
Mielies

In die eerste kolom van Tabel 2 word die begrote produksiekoste van droëlandmielies vir die 2017/2018-produksieseisoen uiteen­gesit. In die tabel is die produksiekoste van drie opbrengsmikpunte aangebring. Die totale veranderlike koste vir ‘n 3,5 t/ha-opbrengsmikpunt beloop rondom R6 816/ha vir ‘n Bt-mieliekultivar. Indien ‘n beraamde vaste koste van R2 611/ha bygetel word, beloop die totale produksiekoste rondom R9 427/ha.

Dit bete­ken dat die gelykbreekprodusenteprys R2 693/ton vir die 2017/2018-produksie­seisoen is, maar met die inagneming van die vervoerdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie moet die Julie 2018 Safex-prys R2 942/ton wees net om gelyk te breek – met ander woorde rondom huidige invoerpariteitspryse.

Indien slegs die veranderlike koste in berekening gebring word, is die Safex-gelykbreekprys R2 197/ton. Met die inagneming van hierdie totale produksiekoste, is dit feitlik ontmoontlik dat produsente mielies winsgewend teen dié lae mielieprys kan aanplant.

Sonneblom en sojabone
Die tweede en derde kolom van Tabel 2 toon die beraamde insetkoste om droëland­sonneblom en -sojabone aan te plant. Gegewe die begrote insetkoste (vaste plus veranderlike koste) en indien dit verwesenlik, moet ‘n minimum van 1,5 t/ha sonneblom en 1,75 t/ha sojabone in die westelike streek gestroop word om gelyk te breek.

Sonneblom en sojabone se winsgewendheid is derhalwe beter as dié van mielies en daar kan ‘n swaai in aanplantings na hierdie gewasse verwag word.

Oostelike produksiestreek
Mielies

Die produksiekoste van verskillende opbrengsmikpunte vir RR-mielies is in Tabel 3 aangebring. As voorbeeld is die totale veranderlike koste vir ‘n 6 t/ha-opbrengs rondom R10 557/ha en wanneer ‘n vaste koste van R2 543/ha daarby getel word, beloop die totale produksiekoste rondom R13 100/ha.

Indien dié Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (vaste plus veranderlike koste) realiseer, moet ‘n produsent vir daardie omgewing meer as 7 t/ha, wat ver bogemiddeld is, stroop om gelyk te breek. Met slegs die inagneming van die veranderlike koste (uitgesluit vaste koste) kan ‘n produsent teen ongeveer 6 t/ha gelykbreek.

Sojabone
Die tweede kolom van Tabel 3 illustreer die uiteensetting van inset­koste vir die verbouing van sojabone. Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente teruggehou is, terwyl die ander 50% gesertifiseerde saad is. Die begroting sluit ook ‘n koste vir N, P en K in. Gegewe die inset­koste (vaste plus veranderlike koste), soos wat in Tabel 3 aangetoon is en die gemelde Safex-prys, kan ‘n opbrengs van ongeveer 1,5 t/ha in die oostelike streek behaal word om gelyk te breek.

Produktiwiteit
Produsente is oor die algemeen prysnemers aan die inset- sowel as die uitsetkant en daarom kan daar nie veel aan insetpryse gedoen word nie. Maniere sal gevind moet word om insette optimaal aan te wend. Alternatiewe opsies sal oorweeg of toegepas moet word om produktiwiteit ‘n hupstoot te gee.

Nuwe produksiepraktyke wat op die beginsels van minder bewerking of bewaringsbewerking-aspekte geskoei is, vind al hoe meer plaas omdat winsgewende graanproduksie jaar na jaar ‘n groter uitdaging word. Bewaringsbewerkingspraktyke raak noodsaaklik om so­doende toekomstige produktiwiteit en produksie te bevorder.

Slotsom
Safex-pryse is onder geweldige druk en dit is onontbeerlik dat die mielieprodusent vir sy finansiële voortbestaan vernuwend sal moet dink. Daar is natuurlik nog heelwat wat in die mark kan gebeur, maar die belangrikste punt bly dat elke produsent die verantwoordelik­heid moet neem om sy eie persoonlike berekeninge te maak en daarvolgens besluite te neem. Produsente en ander rol­spelers kan die basiese produksiekoste op die Graan SA-webwerf besigtig, terwyl die model gratis aan alle opbetaalde Graan SA-lede beskikbaar is. Stuur ‘n e-pos na petru@grainsa.co.za tesame met jou Graan SA-lidnommer om die model te ontvang.

‘n Produsent sonder ‘n begroting is ‘n produsent sonder ‘n plan. He who fails to plan, plans to fail.

Publication: September 2017

Section: On farm level

Search