• Login
  • Search Icon

Wilde eende tussen die mielies

February 2011

Beste Grootneef

Ou Neef, met al die lofsange oor die matriekuitslae, sêg my buurman dit smaak hom hoe meer die onderwysers staak, hoe beter doen die matrieks! Ek meen, as jy kyk na laasjaar se sokkerjol en groot stakings daarna, is dit ‘n wonderwerk dat ‘n groter gros matrikulante vanjaar die wa deur die drif getrek het. Hoe dit ook al sy, geluk aan algar wat deur is. En sterkte. Want dit gaan beter met jou terwyl jou pa nog vir jou sorg...

Maar kan jy glo, volgens nuusberigte is daar by 18 skole in die Republiek nie een matriek deur nie. By een van die 18 skole het 238 leerlinge die eksamen afgelê, maar nie een het die pyp gerook nie (by wyse van spreke). Dit moet een of ander rekord wees...‘n Mens se hart gaan egter uit na hierdie kinders, want duidelik is daar ‘n groot skroef by die skole los.

Gegewe die prentjie hierbo, is die onbesonge helde van 2010 beslis daardie onderwysers wat ongeag die ontwrigtende stakings deur hul kollegas, gefokus het om hul klasse vir die eindeksamen te slyp.

Ou Neef, amper 40 dae en 40 nagte...Die groot reën het net na Kersfees begin uitsak en aangehou tot in die nuwe jaar. Soms is die reën van ver met ongelooflike stormwinde, donderweer en blitse oor die vlaktes aangejaag. Ander kere het die donker wolke sonder aankondiging, maar met ‘n dringende reëlmaat, op die sinkdak uitgesak. Water soos jy lanklaas gesien het. Elke drif en dam tot boordens toe vol. En ‘n dankbare veld met rooigras wat vol in die saad bot. Selfs op die ou brandspoor van laasjaar het die veld herstel. Die Vrystaat is ‘n blomtuin.

Wanneer ek met die bakkie lande toe gly, vlieg die wilde eende tussen die jong mielies uit. Strepe water in elke ry. Toe die son uiteindelik deurbreek, kon jy behoorlik die mielies hóór groei. Die blare sommer so blou-groen. Hier en daar ‘n geel versuipkol, maar by ons darem nie te erg nie. Net jammer van daardie laat sonneblom wat ons nie kon insit nie.

Ek hoor egter dat in die distrik daar ook manne is wat baie skade het met versuipings. Tyd sal leer van watter hektare en tonne ons praat. As ek egter moet kies, kies ek beslis ‘n nat jaar bo ‘n droë jaar.

Ná die reën trap die lorries egter nou die paaie in ‘n slaggat-pappery in. Ons teerpad dorp toe stoot sulke walle teen die kante uit soos die oorlaaide vragmotors die dun lagie teer uitmergel. En van instandhouding kan jy vergeet. Die gate word elke dag net groter en dieper.

Ou Neef, met Nuwejaar het ons ‘n draai by die familie in die ou Pietersburg gemaak. Die aand braai ons ‘n vleisie en loer ek na die prys van die plaaslike slaghuis op die hoekie van die verpakking. Goeiste, vir ‘n lamsrugtjoppie betaal die mense daar ‘n hele R97,99/kg! Dis per kilogram duurder as brandewyn! Ek word toe vertel dat dit ook nie aldag is dat die slaghuis daar skaapvleis het nie. Die kere wanneer skaapvleis uitgesit word, waai dit vinnig.

Ou Neef, vergeet van die gebruiklike pakkies Quality Street as Kerspresente. Volgende jaar gee ons ‘n pakkie lamstjops weg, mooi met ‘n rooi lint opgemaak. En soos die manne die skaapboerdery verlaat, gaan skaapvleis, soos kreef, ‘n lekkerny word wat net met baie spesiale geleenthede op die rooster sal sis. Vir die bittereinders wat met skaapboerdery vasbyt ten spyte van die ongediertes en diefstal, wag beslis goeie tye.

Voorspoed en sterkte op die Oosgrens. Sluit maar die skapies toe in die nagte.

Kleinneef

Publication: February 2011

Section: E-mails

Search