• Login
  • Search Icon

Wie is nommer 16 (en 17)?

August 2015

image

Wie is nommer 16 (en 17)?

Beste Grootneef

Kyk, teen dié tyd weet ons almal wie is nommer een! Maar almal wonder nog wie is nommer 16 en 17!

Ou Neef, kan jy glo, een soetkys vol note uit die Suidland na die Karibiese Eilande en die hele planeet se sokker is oorhoops. Dis natuurlik oral behalwe in die Suidland self, waar niemand nou van enige sout of water weet nie. Net goedheid en guns om sokker op die Karibiese Eilande ter wille te wees! Weet iemand waar is die Karibiese Eilande?

Terwyl ek al die nuus in die Volk se blad sit en lees, wonder ek tog waarom die sak vol geld só ver weg van ons eie mense uitgedeel is? Hoeveel sokkervelde kon nie vandag langs elke ou dorpie in die Vrystaat gepryk het nie. Met ons eie Bafana-span as 18de gelys in Afrika, hoef ontwikkeling nie in die Karibiese Eilande te begin nie. Dit lyk asof Oom Sepp nou meer probleme as Lesotho se vloot het...

Buurman sê die Amerikaners se EF-BE-AI kan sommer hier by ons in die Vrystaat ook kom kuier. Hier is genoeg fifa’s om hul ‘n leeftyd besig te hou. Hy sal reël vir die braaivleis en biltong en ‘n te-doen-lysie vir elke week.

Buurman sê die eerste kraaines wat hulle vir hom moet ontrafel, is om te kyk hoe ‘n swembad oornag ‘n brandblusser kan word. Hy wil ook graag weet waar die span is wat die pad Bultfontein toe moes regmaak. En hoekom die mislikepaal se owerste in ‘n groot kar kan ry, terwyl die pomp in die sliksloot laasjaar al gaan staan het.

Ou Neef, dis asof alles in die Suidland geplunder word. Sokker-fondse, renosters, tolgelde – alles is in die visier. Gulsigheid en bodemlose putte het geen einde nie. Tussen Jan Taks, tollenaars en die mislikepaal wat skep, gaan dit hotagter. Het ons maar in ons eie Suidland ‘n skerpioen met ‘n angel gehad! Net om te kyk dat ons belasting nie op vreemde eilande uitspoel nie...

Ou Neef, dit laat my dink aan die oom wie destyds vir Jan Taks ‘n tjek gestuur het, uitgemaak aan “die ontvanger van al my inkomste”. Die tjek is natuurlik bloot terugverwys, met die gevolg dat die keerdatum vir betaling gemis is. Die resultaat van die oom se grappie was ‘n stywe boete met rente op die koop toe!

Ons manne in die bedryfstrusts sal moet vasstaan om die geldkrane oop en toe te maak vir waarvoor dit bedoel is. Die geldjies is oor ‘n lang tyd en met baie moeite bymekaargemaak.

Kyk, ‘n boer maak ‘n plan, maar ‘n student het ‘n plan. Veral as dit by kreatiewe fondsinsamelings kom. Die ander dag stop ek by ‘n robot en dadelik is ‘n klompie studente om my. Met die bakkie se ruit afgedraai, vra die luidrugtige span of ek nie ‘n hardgekookte eier vir R10 wil koop nie. Vir ‘n eier het ek nie veel aptyt nie, maar vir ‘n goeie saak beslis. Die manne het eenparig laat weet dat die fondse vir ‘n baie goeie doel is, synde vir die komende “toer”.

Ek koop toe die eier en balanseer hom ewe mooi in die bakkie se asbak. By die volgende robot aangekom, was daar dadelik weer ‘n swerm studente om die bakkie. Weer draai ek die ruit af en wys selfvoldaan dat ek reeds ‘n hardgekookte eier by die vorige robot gekoop het. “Haai Oom, dis nou toevallig,” beduie die voorman, “ons wil graag hoor of Oom nie dalk ‘n eier vir die toerfonds kan skenk nie!”

Nou ja, so met die wegtrek kon ek in die truspieël sien hoe ‘n eerstejaar met die einste eier laat spaander, terug na robot nommer een.

Só was ek kortstondig die mede-eienaar van ‘n lopende pluimveesaak. Hoop tog net die manne kom veilig tuis, want op my vraag waarheen die toer beplan word, is met absolute eerlikheid geantwoord, “Bar toe, Oom.”

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: August 2015

Section: Features

Search