• Login
  • Search Icon

Wes-Kaapse plaaspersoneel ontwikkelingsdag motiveer produsente se regterhande

December 2014

LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder, Graan SA

Vanjaar se weergawe van die jaarlikse plaaspersoneel ontwikkelingsdag, het op 2 September by twee afsonderlike proefplase in die Wes-Kaap plaasgevind. Die eerste byeenkoms is die oggend by die Roodebloem-proefplaas buite Caledon aangebied en die tweede byeenkoms, gedurende die middag by die Sensako-proefplaas op Napier.

Die opkoms by hierdie twee sessies was baie goed en is deur ongeveer 300 plaaswerkers van regoor die Wes-Kaap bygewoon. Die doel van die dag is om plaaswerkers bymekaar te bring, opleiding te gee, hul te motiveer en ook ‘n bietjie te bederf.

In werklikheid vorm hierdie mans en vroue die fondasie van die graanbedryf en het 'n astronomiese impak op die winsgewendheid en volhoubaarheid van landboubesighede. Produsente kan nie sonder hierdie werknemers boer nie.

Die hoofspreker van die dag was mnr Cobus Oosthuizen van LifeXchange, wat ‘n praatjie gelewer het oor: “My potensiaal, ek is beter as wat ek dink!” Sy interaktiewe voorlegging is baie goed ontvang en het die gehoor van die begin tot einde geboei.

Oosthuizen het deur middel van verskeie praktiese metodes en op ‘n baie natuurlike, dog reguit manier, werkers gemotiveer om dieper te dink, selfondersoek te doen en om hul potensiaal te besef en uit te leef. Hy het werkers ook gemaan om beheer te neem oor hul prioriteite, hul lewens en om na onafhanklikheid te streef.

Die tweede spreker, mnr Thomas Skietekat (van Saambou Boerdery buite Heidelberg), 'n plaaswerker en suksesvolle ontwikkelende produsent, het aan werkers ‘n terugblik oor sy eie lewe gegee en vertel wat hom motiveer. Hy het vertel dat hy ‘n bewys is van wat 'n mens met harde werk en deursettingsvermoë kan bereik.

Hy was jare gelede maar ‘n gemiddelde werker en grof om die rante, maar hy het ‘n kopskuif gemaak om alles wat hy doen tot die beste van sy vermoë te doen, in terme van sy werk en om na sy gesin om te sien. Hy het vertel dat ‘n nuwe wêreld vir hom oopgegaan het en dat hy nou ook ‘n baie spesiale verhouding met sy mentor, mnr Neels Uys van Skeiding Boerdery, het. Hy het al so ver gevorder om homself en sy sin van verantwoordelikheid te bewys, dat Uys die vrymoedigheid het om vir Skietekat in beheer van sy hele boerdery te plaas wanneer hy soms vir lang periodes nie op die plaas kan wees nie.

Verdere sprekers het ‘n afgevaardigde van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ingesluit, wat vir werkers meer vertel het oor onderhoud en die regte van ‘n kind; waarna mnr Pierre Vlok van BKB ‘n baie interessante praatjie oor wolbesoedeling gelewer het. Hy het werkers gemaan om versigtig te wees wanneer wol verwerk word en om veral attent te wees op werksaamhede rondom die wolpres. Hy’t ook ‘n prentjie geskets rakende die nagevolge van onsuiwerhede in wolbale, veral wol wat uitgevoer word.

Na afloop van hierdie interaktiewe voorleggings het werkers in twee groepe verdeel om die demonstrasies by te woon. Die een groep het die geleentheid gehad om proefpersele te besigtig en is meer van verskillende kultivars, plantmetodes, onkruid en siektebeheer vertel, terwyl die ander groep hoofsaaklik gesprekke gevoer het oor die bestuur en gesondheid van vee.

Graan SA wil graag vir Overberg Agri en al die borge wat bygedra het om hierdie jaarlikse geleentheid moontlik te maak, hartlik bedank en gelukwens met hierdie uitstekende inisiatief om plaaspersoneel bymekaar te bring om sodoende waarde tot hulle lewens asook tot die bedryf te voeg. Graan SA sal graag wil deel bly van hierdie pragtige byeenkoms.
 

image

Publication: December 2014

Section: Relevant

Search