• Login
  • Search Icon

Wereld Sojaboon Navorsings - konferensie eersdaags in Suid-Afrika

November 2012

PETRU FOURIE, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

image

Dit is met trots dat Suid-Afrika volgende jaar as gasheer van die Wêreld Sojaboon Navorsingskonferensie (WSRC) kan optree. Hierdie geleentheid bied ‘n globale forum vir die wêreld se sojaboonnavorsers om inligting en navorsingsbevindinge voor te lê.

Verteenwoordigers van regoor die wêreld gaan saamtrek om dié konferensie, wat in Durban vanaf 17 tot 22 Februarie 2013 plaasvind, by te woon. Dit beloof om ‘n spogbyeenkoms te wees waar geleentheid gebied gaan word vir interaksie en netwerking tussen die wêreld se voorste sojaboonprodusente, -verwerkers, -navorsers en vele meer.

Hierdie vyfdag-konferensie word deur die Proteïennavorsingstigting (PNS) en die Olieen Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) georganiseer in samewerking met Paragon Conventions Afrika. Die tema van die konferensie is: From China to Africa – Can research close the gap between soy production and increasing global demand. Diverse onderwerpe sal bespreek word en sluit voedselsekerheid, volhoubaarheid, genetika en teling, akkerbou, gesondheid en voeding, verwerking, vervoer en berging sowel as ‘n oorsig van die kommoditeitsmark in.

Produsente

Sojaboonprodusente word aangeraai om 21 Februarie 2013 op hulle kalenders aan te teken omdat hierdie dag spesifiek vir hulle gereël word. Internasionale en plaaslike produsente gaan hier tyd kry om gedagtes en kennis uit te ruil en Graan SA moedig elke sojaboonprodusent aan om die dag by te woon; dit beloof om baie leersaam te wees.

Daar is nog verskeie borgskappe beskikbaar asook uitstalruimtes en advertensiespasie in die konferensieprogram.

Vir meer inligting oor die bywoning van die konferensie, uitstalruimtes en borgskappe, kontak me Cheryl Marsh (projekbestuurder) by (021) 555-4152 of wsrc@paragon-conventions. co.za of besoek die webtuiste by www.wsrc2013.co.za/ vir meer inligting oor die koste en registrasiedatums.

Die International Convention Centre in Durban, waar die Wêreld Sojaboon Navorsingskonferensie vanaf 17 tot 22 Februarie volgende jaar gehou gaan word.

Publication: November 2012

Section: Other Articles

Search