• Login
  • Search Icon

Wegbreeksessies sit koppe bymekaar oor aktuele sake in bedryf

April 2017

SA GRAAN/GRAIN REDAKSIE

Ingrypende veranderings wat aan die rabatstelsel vir diesel beoog word, was een van die belangrikste besprekingspunte tydens wegbreeksessies op die afgelope Graan SA Kongres. Al die werkgroepe is ingelig dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) beoog om rabatte in die toekoms slegs toe te staan op diesel wat vir produksie gebruik word – en nie meer op totale dieselverbruik op die plaas nie. (Sien volledige artikel hieroor op bladsy 47 van hierdie uitgawe). Droogtebestande kiemplasma het heelwat aandag by die Mieliesessie geniet, terwyl invoertariewe onder die loep gekom het by die Wintergraansessie. ‘n Moontlike tantieme op produksie is by die Sojaboonsessie bespreek, terwyl plantsiektes by die Sonneblom- en Sorghumsessie aandag gekry het.                                               

 

Wintergraan

Mnr Andries Theron (voorsitter: Wintergraanwerkgroep) het as voorsitter opgetree.

Omdraaistrategie
Die omdraaistrategie vorder goed, maar daar is nog verskeie uitdagings wat die mikpunte betref. By die onlangse onderhandelings is ooreengekom dat die bedryf die omdraaistrategie in klein pakkies en doelwitte gaan aanpak. Die eerste daarvan is natuurlik die teling- en tegnologieheffing wat produsente die geleentheid bied om nuwe kultivars te plant. Die tweede een is om die invoerprysdiskonto, prysbepaling van grade en graadgewaarborgde kontrakte te hersien. Dit is reeds verwys na die JSE Advieskomitee. Die volgende stap sal dan wees om te gaan kyk na die gradering van koring. Dr Dirk Strydom (bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA) het aangedui dat die heel belangrikste dryfveer moet wees om kultivars te kry wat opbrengs lewer, maar wat nog steeds mededingend met invoere kan wees.

Koring-voorteelprogram
Dr Marinda Visser (bestuurder: Grain Research and Policy Centre, Graan SA) het verduidelik dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in samewerking met Graan SA ‘n ooreenkoms probeer bereik met die GRDC in Australië omdat hulle ons voor is wat na vorsing in die koringbedryf betref. Daar word beoog om navorsing met hulle te deel en só toegang tot hul navorsing te verkry.

Dr Visser spreek waardering uit vir die Departement van Wetenskap en Tegnologie se befondsing vir wintergraannavorsing. Die afgelope drie jaar is R8 miljoen van R13,8 miljoen reeds aan die Universiteit van Stellenbosch oorbetaal. Die kiemplasma wat só ontsluit word, word tot voordeel van drie saadtelers, naamlik die LNR, Sensako en Pannar, beskikbaar gestel.

Koringinvoertarief
Dr Strydom noem dat Graan SA konstante werk gedoen het om aan die International Trade Administration Commission of South Africa (ITAC) die belangrikheid van beskermde invoere te verduidelik, maar dat wetlike implikasies uitdagings inhou. Daar was ook nog geen vordering met ‘n aankondiging van ‘n aanpassing op metodiek nie.

Produsente spreek hul kommer uit oor die feit dat hulle die skuld kry vir broodpryse en dit in werklikheid nie hul skuld is nie. Die voorsitter beklemtoon dat sou die koringtarief wegval, dit groot implikasies sal inhou vir die koringbedryf en dit produsente onder groot druk gaan plaas. Die produsente het ook sterk aangedui dat die fondse verkry vanaf die tariewe weer in die bedryf herinvesteer moet word in terme van navorsing en ontwikkeling.

Markinligting
In- en uitvoerrapportering
Dr Strydom gee terugvoer dat die in- en uitvoerrapportering ingedien is en dat die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) ontvangs erken het. Teen die skryf van die artikel was dit reeds gepubliseer in die staatskoerant vir kommentaar.

Verwysingspunte
Dr Strydom verduidelik dat die liggingsdifferensiaal steeds ‘n knelpunt is en dat ons opnuut daarna moet kyk. Die wegbreeksessie het saam besluit dat die liggingsdifferensiaal nie maklik verwyder gaan word nie, maar dat daar eerder gekyk moet word na die effektiwiteit van die differensiaal en seker gemaak word dat dit wel reg toegepas word. ‘n Ondersoek moet ook gedoen word oor moontlike nuwe inligting en verwysingspunte. Dr Strydom het verder ver duidelik dat daar reeds navrae deur Graan SA gedoen is vir addisionele inligting, maar hulle wag tans vir goedkeuring vanaf die Mededingingskommissie.

In besprekingspunte later binne die groter Kongres het mnr Hennie Visser ook ‘n voorlegging gedoen oor die koringbedryf en die probleme wat ervaar word binne die bedryf. Visser het dit duidelik gemaak dat die koringbedryf drastiese verandering nodig het anders gaan die produsente in die nabye toekoms nie kan produseer nie. Hy het ‘n uitleg van die hele waardeketting gemaak en tot die slotsom gekom dat die waardeketting te lank is en dat die produsent te ‘n klein deel uitmaak van die hele ketting. Visser het ook aangedui dat sy streek baie bekommerd is oor die volhoubaarheid van die koringprodusent.

Mielies

Mnr Jaco Minnaar (voorsitter: Mieliewerkgroep) het as voorsitter van die sessie opgetree.

Markte
Mnr Jacob Shayi van die Marktoesig Regulerende Beleidseenheid by die JSE, gee agtergrond oor die wyse waarop die mark gemonitor word. Hy het die sessie ingelig oor optrede teen handelaars wat hulle skuldig maak aan markmanipulasie en oor die monitering van posisiebeperkings en spekulatiewe posisies.

Die JSE migreer gedurende die vierde kwartaal van hierdie jaar na ‘n nuwe stelsel, Millennium IT, wat deur die kontant-aandelemark gebruik word.

Mnr Dawid Zeelie van Streek 10 het versoek dat die saak van basisverhandeling meer aandag moet kry. Daar is vordering, maar steeds nie ‘n bevredigende resultaat nie. Dit bly steeds ‘n Graan SA mandaat.

In- en uitvoere
Dr Dirk Strydom noem dat die aansoek vir die rapportering van in en uitvoere by die NLBR ingedien is.

Verwerkingsyfers
Die voorsitter meld dat verwerkingsyfers aangevra is en almal gewillig is om dit te verskaf. Dit is tans by die Mededingingskommissie. Dié inligting is belangrik om te bepaal waar die verbruikspunte is.

Commitment of traders report
Dr Strydom noem dat Graan SA aansoek gedoen het vir die “commitment of traders report”. Die JSE het ‘n voorlopige verslag opgestel. Die probleem met die verslag was dat daar aangedui moes word wie spekulante is en wie verskansers is. Die JSE kan dit nie vanuit ʼn kliënt se perspektief reguleer nie.

Uitvoergeleenthede
Mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder) gee terugvoer oor potensiële uitvoermarkte en uitdagings wat daar bestaan met sekere lande soos Viëtnam, Spanje en Iran. Daar is nog heelwat geleenthede in die wêreld, maar pryse is baie mededingend.

Kultivarevaluasie/strookproewe
De Villiers meld dat wanneer daar na statistiese proewe gekyk word, dit belangrik bly om onafhanklike data te kry wat al die opbrengste met mekaar vergelyk.

Die kultivarevaluasieproewe word hoofsaaklik deur die LNR aangeplant. ‘n Span is getaak om dié proewe te besoek om te bepaal wat die huidige stand van sake is.

Mnr Derek Mathews (Graan SA-hoofbestuurslid vir Streek 5) stel voor dat Graan SA steeds die noodsaaklike navorsing in plek hou en uitbrei. Sy voorstel word deur die sessie aanvaar.

GMO-kommoditeitsklaring
De Villiers verduidelik dat handelaars en meulenaars in Desember 2015 ‘n aansoek ingedien het om GMO-witmielies van Amerika af in te voer. ‘n Jaar later is wel goedkeuring gegee vir enkele invoere en witmielies is toe ingevoer – as ‘n tydelike maatreël. Hierdie tydelike maatreël behoort hersien te word.

Navorsing
De Villiers noem dat dr Marinda Visser, ‘n span navorsers en die Departement van Wetenskap en Tegnologie vergader het en daarna ‘n versoek gerig het dat Suid-Afrika kiemplasma wat baie meer droogte- en hittebestand is – veral vir mielies – inbring.

Verlede jaar is die eerste kiemplasma vir mielies van Mexiko se CIMMYT die land ingebring met fondse wat deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie beskikbaar gestel is. Dit sal nou deel vorm van ‘n verdere plaaslike navorsingsprogram om te selek teer watter tipe hitte- en droogtebestandheid reeds bestaan en watter dalk benut kan word. Die voorsitter stel dit duidelik dat daar nie in Suid-Afrika GMO-gebeurtenisse toegelaat kan word, wat nie uitgevoer kan word nie. Indien die korrekte droogte-geengevalle nie in Suid-Afrika geregistreer word nie, word die uitvoermarkte toegemaak.

Nuwe knelpunte
Verskeie sake word onder hierdie tema geopper en sal na Graan SA werkgroepeverwys word:

  • Dienslewering op die platteland.
  • Inbring van force majeure op kontrakte.
  • Spekulasie en verhandeling van fisiese mielies op Safex moet geskei word deur die skep van ‘n aparte platform vir fisiese lewerings.
  • Meulenaars se verwerkingsyfers moet weekliks gerapporteer word.
  • Winsgewendheid en verhoogde opbrengste.

 

Sojabone

Mnr Ralf Küsel (Graan SA-hoofbestuurslid vir Streek 14) het as voorsitter opgetree.

Produksie/Insette
Teling-en-tegnologieheffing
Mnr Corné Louw (senior ekonoom: Insette, Graan SA) het terugvoer gee in terme van die vordering wat gemaak word met die implementering van ‘n teling- en- tegnologieheffing vir sojabone. Daar word beoog om, tydens lewering van graan, op ‘n statutêre wyse ʼn tantiem te hef. Die model is soortgelyk aan dié een wat tans gebruik word om navorsingsheffings vir koring in te samel. Omdat daar met ‘n statutêre heffing gewerk word, moet ten minste 20% van fondse vir ontwikkeling gaan.

Die heffingvoorstel vir sojabone beloop tans 1,2% van die sojaboonprys. Vir die eerste jaar is aansoek gedoen vir R65/ton (1,2% van 2015/2016-bemarkingseisoen se Safex-prys) terwyl vir ʼn bedrag van R80/ton (1,2% van 2016/2017-bemarkingseisoen) vir die tweede jaar aansoek gedoen is. Die inisiatief sal tot gevolg hê dat tegnologie eienaars nuwe tegnologie na Suid-Afrika bring binne die sojaboonbedryf. Die tegnologie is grootliks nodig om by die internasionale mededingers te hou, maar ook om produsente die geleentheid te bied om te kan diversifiseer en beter risikobestuur toe te pas. Die produsente het dit ondersteun en sien uit daarna om nuwe tegnologie te sien.

Grondgedraagde siektes
Dr Sandra Lamprecht van die LNR-PPRI het ‘n voorlegging gedoen oor ‘n projek wat sy en ‘n kollega gedoen het waarin hulle grondgedraagde siektes wat sojabone beïnvloed, geïdentifiseer het. Dr Lamprecht het ook resultate gewys rakende sekere middels.

Kwaliteit van Rhizobium
Louw het die wegbreeksessie toegelig oor kwaliteit van Rhizobium. Hy noem dat hulle met die ondersoek by Dr Stoppies Staphorst (voorheen van die LNR-PPRI op Roodeplaat) uitgekom het, wat bevestig het dat WB74 die beste stam is om in Suid-Afrika te gebruik. Dr Staphorst het ook die Sonneblom- en Sojaboonwerkgroep van Graan SA besoek en ‘n hele paar wenke oor Rhizobium aan die werkgroep verskaf.

Verder is daar ook bevestig dat ‘n indikator op verpakkings slegs as ‘n instrument gebruik kan word om te weet hoe die verpakking hanteer word, maar dit bevestig nie die kwaliteit daarvan nie.

Statutêre produkinligting
Hy lig die sessie in dat oliesadeprodukinligting vanaf April 2017 deur die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) gepubliseer gaan word nadat goedkeuring vir die statutêre insameling daarvan einde verlede jaar verkry is. Hierdie stap word as ‘n deurbraak in die deursigtigheid van inligting in die oliesadebedryf beskou.

Sonneblom en sorghum

Mnr Willem Groothof (voorsitter: Sorghumwerkgroep) het as voorsitter opgetree.

Rol van saailingsiektes
Dr Sandra Lamprecht het ‘n voorlegging oor die rol van saailingsiektes in swak vestiging by sonneblom gedoen. Sy lig onder meer die verskil tussen behandelde en onbehandelde saad uit.

Haar grafieke toon dat die vlakke van patogeen-infestasie hoër by onbehandelde saad as by behandelde saad is en lê klem daarop dat produsente hul saad vir beter beheer teen saailingsiektes moet behandel.

Siektes op sonneblom
Me Petru Fourie (navorsingskoördineer en produksiekoste-analis, Graan SA) meld dat dié seisoen se natter klimaatsomstandighede ideaal is vir sonneblomsiektes en dat Graan SA twee navorsers van die Universiteit van Pretoria, prof Terry Aveling en dr Godfrey Kgatle, genader het om meer inligting oor die kwessie aan produsente deur te gee.

Kultivarevaluasie
Fourie gee agtergrond oor die ontstaan van die strookproefsorghumkultivarevaluasieprojek wat deur Graan SA hanteer word. Die doel van die projek is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie te bevorder deur die aanpasbaarste kultivar vir elkeen van die produksiegebiede te identifiseer.

Omdraaistrategie van sorghum
Die voorsitter bespreek die huidige stand van die sorghumbedryf en meld dat ‘n omdraaistrategie dringend nodig is om die bedryf te laat groei. Hy meld dat ondersoek ingestel moet word na die moontlikheid van ‘n invoertarief om die plaaslike mark te beskerm.

Grondbone

Mnr Frans Minnaar, wat sy uittrede as voorsitter van die Grondbone-spesialiswerkgroep aangekondig het, het die laaste keer as voorsitter van die sessie opgetree.

Grondboonmark
Dr Charl van der Merwe van Tiger Brands het ‘n voorlegging oor verbruikersvoorkeure rakende olies en vette, asook die wisselende prystendense van verskeie voedselsoorte die afgelope paar jaar gegee. Die prys van grondboonbotter het nie so skerp gestyg as dié van ander vette en voedselsoorte nie. Hy stel in die vooruitsig dat verbruik van grondboonbotter kan toeneem namate verbruikers se inkomste styg en gesonder voedselsoorte oorweeg word.

Gradering
Mnr Neels Wegner, van die Uitvoerbeheerraad vir Bederfbare Produkte (PPECB), verduidelik die noodsaaklikheid van die gradering van grondbone weens die hoë voginhoud wat aflatoksienbesmetting veroorsaak. Grondbone moet ‘n voginhoud van minder as 10% hê alvorens daar met gradering begin kan word. Wegner meld dat die natgraderingsnavorsingsprojek wat reeds deur die Oliesade Advieskomitee goedgekeur is, goed vorder. Daar word aanvaar dat ʼn voginhoud van sowat 7% die geskikste is. Hy dui aan dat daar nou  ook gekyk word na bykomende vergoeding vir uitsonderlike gehalte produkte deur middel van byvoegings tot huidige graderings.

Produksie/Insette
Kultivarevaluasie
Me Loureine Muller, van LNR-Graangewasse, gee agtergrondinligting oor die nasionale grondboon-kultivarevaluasieprojekte wat op die oomblik aan die gang is. Sy noem dat ingevoerde kultivars onder plaaslike omstandighede van 2012 tot 2016 getoets is om vas te stel hoe hierdie kultivars vaar. Dit word befonds deur die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT).

Grondboonprysmodel
Mnr Luan van der Walt (landbou-ekonoom, Graan SA) verduidelik aan die vergadering die grondboonprysmodel wat by die Grondboonspesialiswerkgroep se vergadering in Februarie bespreek is. Aan die hand hiervan besluit die sessie dat hulle tevrede is met die voorstelle en dat die prysmodel ‘n goeie verwysingsraamwerk vir produsente kan wees.

Publication: April 2017

Section: Grain SA

Search