• Login
  • Search Icon

Wees op die uitkyk vir insekte wat mieliesaailinge aanval

October 2015

ANNEMIE ERASMUS, LNR-Instituut vir Graangewasse

Die grondinsekplae wat mielies aanval tydens die saailingstadium kan jaarliks ongesiens enorme skade aanrig indien daar nie voorkomend opgetree word nie. ‘n Skielike afname in die plantdigtheid van saailinge dui op die “bedrywighede” van grondinsekplae.

Wat saailinginsekplae so belangrik maak, is dat vanaf die oomblik dat die saailing beskadig is, dit ‘n direkte effek op die opbrengs het. Indien hierdie insekte skade aanrig aan saailinge, kan dit soms lyk of ‘n hele ry saailinge verdwyn het.

Produsente word in sulke ekstreme gevalle genoodsaak om soms oor te plant. Dit kan selfs gebeur dat die produsent ‘n tweede keer moet oorplant, soos in die geval van erge besmetting van snywurms, swartmieliekewers, draadwurms of doodhouertjies.

Met die aanloop na die seisoen wat om die draai is, is dit dus belangrik om weer kennis te dra van die mees belangrike saailingplae aangesien sommige van die skadesimptome met mekaar verwar kan word.

Die snywurm (Foto 1) is algemeen aan produsente bekend en word ‘n probleem wanneer motte eiers gelê het gedurende die herfs en winter, wat dan oorsprong gee aan larwes gedurende die begin van ‘n seisoen. Larwes gebruik onkruide en wintergewasse as ‘n bron van voedsel om te oorleef. Net voor planttyd word die oorwinterende larwes papies in papieselle in die grond.

Hierdie stadium duur ongeveer twee weke. Dié papies gee oorsprong aan die eerste motte van die seisoen. Dit is hierdie motte wat ‘n bedreiging inhou vir gewasse; hulle vlieg tydens die nag en lê eiers op die blare van onkruid en opslag wat in die lande voorkom.

Ná ongeveer ‘n week broei die larwes uit en voed op die blare van onkruide. Ná die larwes se tweede vervelling sal die larwes in die grond inkruip en slegs in die nag uitkom om te vreet. Snywurmskade kan onderskei word van die res van die grondinsekte wat mieliesaailinge aanval deurdat die vreetskade ‘n netjiese, skoon gat in die stammetjie is, in vergelyking met die swartmieliekewer en die draadwurms wat ‘n uitgerafelde voorkoms het.

In die gevalle waar die hele saailing afgevreet is, kan die hele plantjie onder die grond ingetrek word om aan te vreet. Op hierdie manier kan een larf dus ‘n groot aantal saailinge per nag opvreet.

Die swartmieliekewer (Foto 2) se larf is ‘n tipiese miswurm (Foto 3). Laasgenoemde is wit met ‘n bruin kop en is gewoonlik C-vormig gekrul. Die derminhoud van die larf gee aan die punt van die agterlyf ‘n kenmerkende blougrys kleur.

Hulle volwasse kewers is blinkswart van kleur en sowat 12 cm - 15 cm lank. Kewers het dieselfde voorkoms as miskruiers. Die swartmieliekewer het slegs een generasie per jaar. Kewers kom gewoonlik te voorskyn vanaf middel-Januarie tot middel-Februarie om gedurende laat April of begin Mei in die grond te oorwinter.

In die lente begin voeding, paring en eierlegging van kewers. Dit is ook hierdie oorwinterende kewers wat skade aanrig aan mieliesaailinge. Larwes rig geen skade aan nie en voed op organiese materiaal in die grond. Kewers beskadig saailinge deur uitgerafelde gate in die ondergrondse stamme te vreet. Gedurende die herfs kan die stamme van ouer plante bo die grondoppervlak uitgerafel en die stutwortels afgevreet word.

Grootvalsdraadwurms se kewers ontpop uit papies wat in papieselle onder die grondoppervlak voorkom. Kewers is tipiese toktokkies, grys-swart, met ‘n duidelike afgebakende kop, bors en agterlyf en hulle rig geen skade aan nie. Wyfiekewers lê eiers onder onkruid en mieliereste, ongeveer 5 mm - 10 mm onder die grond. Die eiers neem tussen agt tot 16 dae om uit te broei.

Hierdie grootvalsdraadwurms kom byna die hele jaar lank as larwes in die grond voor. Valsdraadwurmlarwes (Foto 4) is tot 32 mm lank en 4 mm dik. Larwes is roomwit en die kop vertoon rooibruin. Hulle beskadig saailinge in die nuwe groeiseisoen deur gate in die ondergrondse stammetjie van mieliesaailinge te vreet. Hierdie gate het ‘n duidelike uitgerafelde voorkoms.

Die doodhouertjies (Foto 5) is klein, lig tot donkerkleurig en vlerkloos. In vergelyking met ander snuitkewers het die doodhouertjie betreklik kort snuite. Verskeie spesies van hierdie plaaggroep kom voor. Die eiers word aan die begin van Desember in die grond gelê. Die larwes wat uit die eiers broei, voed op die wortels van grasse en ander veldplante. Die kewers verskyn laat in Februarie en skuil gedurende die winter in die grond.

Doodhouertjies kom veral soms in nuwe lande voor. Skade aan mieliesaailinge word aan die begin van die seisoen deur die kewers aangerig. Die kewer voed snags en val die blare van die saailinge aan wat so tot groot skade kan lei.

Grondinsekplae

Voorkomende beheer

image Die beste manier om grondinsekte soos hierbo genoem te beheer, is om voorkomend op te tree. Dus is chemiese beheer met saadbehandelings of bespuitings tydens plant die algemeenste manier van beheer.

In bewaringsboerdery is daar ook predatoriese kewers teenwoordig wat goeie biologiese beheer agente kan wees. Die belangrikste voorkomende maatreël is om landerye skoon te hou van onkruid en opslag wat vir hierdie plae ‘n bron van voedsel kan wees om te oorleef totdat die gewas geplant is om sodoende dan die gewas aan te val.

Publication: October 2015

Section: On farm level

Search