• Login
  • Search Icon

Perspektief | Perspective Week 9 - 2018

01 Mar 2018

GRAAN SA JAARVERSLAG | ‘N ABSOLUTE REKORDJAAR VIR SOMERGRANE

 

Die 2016/2017 produksieseisoen van somergrane het aanvanklik wankelrig begin – veral in die meer westelike gedeeltes van die land waar daar aanvanklik beduidende windskade op die jong plante was en waar heelwat van die hektare oorgeplant moes word. Die vorige seisoen se uiters droë toestande, wat veroorsaak het dat ‘n groot persentasie van die lande in sekere areas nie aangeplant kon word nie, het daartoe gelei dat die grondbedekking betreklik yl was. Die produsente was dan boonop ook genoodsaak om die vee langer as normaal op die oesreste te laai wei, weens ‘n tekort aan natuurlike weiding. Om hierdie redes was stofstorms in die Vrystaat en Noordwes aan die orde van die dag en het produsente besef dat hul lande nie nog so ‘n jaar sal oorleef nie. Heelwat van die aanplantings vir die seisoen het eers laat in Desember werklik ‘n aanvang geneem en is daarom as laat aanplantings beskou. Die produsente was aanvanklik uiters skepties toe daar sprake begin ontstaan het van die moontlikheid van bogemiddelde opbrengste en ‘n groot oes wat vir die seisoen verwag kon word. Die produksie-omstandighede in die somersaaigebiede het egter met die verloop van die seisoen aansienlik verbeter en die afgelope seisoen sal nie net onthou word vir die bogemiddelde opbrengste nie, maar ook as die absolute rekordjaar waar goeie herstel plaasgevind het na die uiterste droë vorige seisoen. In die somersaaigebiede sal die seisoen onthou word vir die oorvloed seëninge wat ontvang is in terme van die opbrengs en produksie van die meeste somergrane.

 

Klik hier vir 'n kopie van die 2017 Jaarverslag

 

 

 


DIE NUUSTE IN GRONDBIOLOGIE EN GRONDVRUGBAARHEID

 

Graanprodusente word op 15 Maart 2018uitgenooi na die 3de jaarlikse Ficksburg boeredag, waar die nuutste presisieboerdery tegnologie en tendense op die agenda sal wees. Daarbenewens sal kundiges die nuutste kennis oor grondbiologie, grondvrugbaarheid, waterkaarte en geskikte kultivars vir spesifieke grondsoorte bespreek. Sprekers sluit in Johan Habig (Agri Technovation) sal die rol van grondmikrobiologie in grondgesondheid bespreek,  Leon van Rensburg (UOFS) sal presiesebestuur van grondwater in droëlande bespreek en Kobus Steenekamp (Monsanto) sal praat oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika.

 

 


FAKTORE OM IN GEDAGTE TE HOU DIE KOMENDE SEISOEN
Luan van der Walt, Ekonoom 

 

Die aanplantings vir die nuwe seisoen het aanvanklik baie wisselvallig plaasgevind, met reën wat in groot gedeeltes van die land weggebly en of eenvoudig net te laat gekom het, vir optimale aanplantings om plaas te vind. Die aanplantings was oor die algemeen met meeste van die gewasse redelik laat gewees en het nie in die optimale planttyd plaasgevind nie. Daar het egter goeie reën voorgekom oor groot gedeeltes van die land se saai gebiede wat gunstig is vir die produksie toestande en dus lyk die gesaaides aansienlik beter as ʼn paar weke gelede in meeste gedeeltes van die land. Die koue nader aan die einde van die seisoen is nog een van die risiko’s wat dopgehou sal word in die plaaslike mark tot en met strooptyd. Met die laat aanplantings kan vroeë koue steeds moontlik ʼn negatiewe impak op die opbrengs hê in van die gebiede waar die mielies laat aangeplant is. Ander gewasse, veral sonneblomme is ook laat aangeplant aangesien produsente in groot produksiegebiede gewag het vir genoeg vog om te plant en mielie-aanplantings wou finaliseer voor hul oorbeweeg na sonneblom.

Die oesskatting

Die NOK het Dinsdag hul eerste produksieskatting van somergrane vir die seisoen bekend gemaak en dit het heelwat verdere onsekerheid uit die mark gehaal. Volgens die eerste produksieskatting word die totale mielieproduksie op 12.2 miljoen ton geskat, waarvan beide wit- en geelmielieproduksie ongeveer 50/50 is en albei op ongeveer 6.1 miljoen ton geskat word. Vanjaar se produksie, met dié skatting sal die 4de grootste mielieoes die afgelope 10 jaar wees. Die 2017/18 seisoen se rekord produksie van 16.82 miljoen ton en die uitvoere wat nie volgens die verlangde tempo plaasgevind het nie, het veroorsaak meer as 4 miljoen ton se oordragvoorraad in die land sal wees aan die einde van die huidige bemarkingseisoen (einde-April). As ‘n gevolg, sal Suid-Afrika in die komende seisoen weereens in die internasionale konteks in terme van uitvoere moet meeding, wat die pryse nader aan die uitvoerpariteitsprys vir die seisoen sal hou. Die sojaboonaanplantings vir die seisoen van 775,300 hektaar is ʼn nuwe rekord vir oppervlakte aangeplant, terwyl die verwagte produksie van 1.375 miljoen ton ook ʼn nuwe rekord vir SA sal wees. Die sonneblomsaadaanplantings wat op 584,900 hektaar geskat word is minder as wat verwag was met die laat aanplantings wat steeds plaasgevind het. Die sonneblomsaadproduksie word op 731,505 ton geskat vir die seisoen.

Grafiek 1 toon die diepsee uitvoerbare surplus van mielies in die komende seisoen gegewe verskillende opbrengs scenario’s. Volgens die huidige NOK skatting is die gemiddelde mielie-opbrengs 5.35 ton per hektaar. Dus kan die diepsee uitvoerbare surplus vir die 2018/19 seisoen ongeveer 3.7 miljoen ton wees indien die gemiddelde plaaslike verbruik asook gemiddelde uitvoere na ander Afrika lande, reeds in ag geneem is.

Grafiek 1: Diepsee uitvoerbare surplus van mielies vir die 2018/19 seisoen gegewe verskillende opbrengs scenario’s
Bron: NOK, SAGIS, Graan SAA

Hou die volgende in gedagte vir die komende seisoen

  • Daar gaan groot oordragvoorraad wees aan die einde van die huidige bemarkingseisoen.
  • Nuwe seisoen produksie lyk goed en die huidige oesskatting dui dit ook so aan.
  • Daar gaan groot uitvoerbare surplusse van mielies wees in die komende seisoen en die prys gaan teen uitvoerpariteit moet verhandel vir uitvoere om plaas te vind.
  • Die wisselkoers en die internasionale mark gaan weereens die grootste drywer van plaaslike pryse wees.
  • Goeie oordeelkundige bemarkingsbesluite gaan geneem moet word hierdie seisoen – maak gebruik van prysgeleenthede in die mark wanneer daar geleenthede is.
  • Vermy onnodige groot risiko’s en beskerm kontantvloei posisies ten alle tye.

 

 


HOE OM LEË LANDBOU-CHEMIKALIEË HOUERS OP DIE PLAAS TE HANTEER
Corné Louw, Sr Ekonoom: Insette 

 

Die ophoop van leë landbou-chemikalieë houers bly ‘n probleem en skep ook risiko’s.

CropLife (die verteenwoordigende liggaam van landbou-chemiese maatskappye) het praktyke opgestel hoe om te werk te gaan met leë chemikalieë houers asook ‘n lys opgestel van maatskappye wat hierdie houers kan herwin. Hierdie belangrike inligting van op hulle webtuiste (www.avcasa.co.za)  afgelaai word of by die onderstaande skakels verkry word.

Plastiekverwerkers wat trippelgespoelde leë plaagdoderhouers kan verwerk

Instruksies vir die wegdoen van leë plastiek plaagdoderhouers

 

 


NUWE UITGAWE BINNEKORT IN DIE POS

 

Die Maart-uitgawe van SA Graan/Grain word volgende week aan produsente gepos. In dié tydskrif is ons gewilde fokus op saad waar jy onder andere meer kan lees oor:

  • Saadgrootte, kieming en groeikragtigheid van mielies;
  • Opberging van saad op die plaas;
  • Heffing sal sojaboonbedryf ʼn hulpstoot gee;
  • Wintergraansaadpryse vir die nuwe seisoen;
  • Saadkwaliteit en sertifisering; en
  • Saadmaatskappy gee produsente ook ʼn voorsmakie van hulle nuwe kultivars.

Leer ook meer oor ons Graan SA/Syngenta Graanprodusent en Graan SA/Absa/John Deere Finacial Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar se boerderye en bestuurspraktyke.

Lekker lees tot aanstaande maand!