• Login
  • Search Icon

Watter opbrengs kan behaal word met besproeiingsgrondbone?

February 2016

KOBUS COETZEE en JOHAN VILJOEN, Omnia Kunsmis en JOGGIE OTTO, Golden Peanut & Tree Nut SA

‘n Maksimum opbrengsproef is gedurende die 2014/2015- produksieseisoen op grondbone onder besproeiing in die Bultfontein-gebied uitgevoer. Die doelwit van die proef was om seker te maak of die omgewing se potensiaal optimaal benut word. ‘n Geleentheid is geïdentifiseer en die proef is uitgevoer deur die bemestingsprogram te verfyn en aan te pas.

Die 2014/2015-seisoen was gunstig vir grondbone onder besproeiing. Met hoë hitte-eenhede in Desember, Januarie en Februarie, het die boontjies vinnig gegroei waar genoegsame water toegedien is. Die seisoen vergelyk redelik goed met die 2013/2014-seisoen, met die uitsondering van hoër hitte-eenhede in Februarie.

Wat hierdie seisoen wel benadeel het, was ryp op 1 April wat die groeiseisoen verkort het. Na die ryp is die proefaanplanting dadelik uitgehaal. Ongelukkig is die groeiperiode met twee weke teenoor die 2013/2014-seisoen verkort. Plantdatums tussen die 2013/2014- en 2014/2015-seisoene verskil met agt dae. Dieselfde kultivar is geplant en daarom kan die twee seisoene se resultate met mekaar vergelyk word.

Metode

Area
Spilpunt 1: 2,2 ha
Spilpunt 2: 7,07 ha

Algemene praktyke
Algemene praktyke wat gevolg is, word in Tabel 1 weergegee.

Watter opbrengs kan behaal word met besproeiingsgrondbone?

Plantvoeding
Plantvoeding is deur Omnia Kunsmis aanbeveel.

2 ton dolomitiese kalk met ‘n ploegaksie daarna.

  • Met die toediening van kalk vooraf op lae pH-gronde word groot voordeel verkry deur suurversadiging (aluminium en waterstof) te neutraliseer en ook ander plantvoedingstowwe meer plantbeskikbaar te maak).
  • ‘n Verdere voordeel is die kalsium- en magnesiumvoeding wat met dolomitiese kalk toegevoeg word. Magnesium maak ‘n groot deel uit van die chlorofilmolekules wat fotosintese aandryf.

‘n Omnia-mengsel met stikstof (N), fosfaat (P), kalium (K), sink (Zn), swael (S) en boor (B) is tydens plant toegedien.

  • Die produk is ‘n enkelkorrelkunsmis (elke korrel bevat al die nodige voedingstowwe in die regte verhouding).
  • ‘n Plantmengsel met boor is die voorkeurproduk as gevolg van die grondboonplant se gevoeligheid vir boortekorte en dit is algemeen bekend dat boorvoorsiening aan plante in die sanderige gronde van die Wes-Vrystaat laag is. Goeie reaksie is dus verkry deur boor addisioneel met plant toe te dien.

‘n Latere topbemesting met stikstof, fosfaat en kalium is toegedien.

  • Die fosfaatbron wat gebruik is, is ‘n stadigvrystellende fosfaatbron, wat energie vir die lang blom- en peulvormingsperiode van die grondboonplant verskaf.
  • Die kunsmis bevat ook sink, swael, kalsium, magnesium en ‘n bietjie stikstof. Swael is uiters belangrik vir enige oliesaadgewas, weens die belangrike rol wat die element in proteïensintese speel. Dus word nog kritiese elemente op ‘n latere stadium bygevoeg om die plant se behoeftes verder aan te vul.
  • Die ekstra stikstof, wat breedwerpig toegedien word, is dan ‘n aanvulling tydens proteïensintese tydens peulvorming.
  • Bykomende kalium is baie belangrik vir die beweging en regulering van voedingstowwe tydens die reproduktiewe fase van die plant.

Gips word ook in blomtyd uitgestrooi en die 60 cm lasry word met ‘n vlerkskaarbewerking na gipstoediening opgehef.

  • Gips bevat kalsium en swael wat baie belangrik vir die grondboontjie se groei en ontwikkeling is.
  • Kalsium is uiters belangrik vir goeie gehalte pitte, siekteweerstand, selstruktuur en die algemene groei van die plant.

Opsommend
Met die bogenoemde voedingspraktyke word al die noodsaaklike elemente in tyd en teen die korrekte peil toegedien. Elkeen van die produkte bevat swael en die meeste bevat kalsium.

Bespuitingsprogram

Die bespuitingsprogram is deur Golden Peanut & Tree Nut SA aanbeveel.

Na plant: Metagan Gold en Strongarm.
Middel Januarie: Restore en CropCandy asook Amistar Top.
Middel Februarie: Amistar Top asook CropCandy en melasse.
Begin Maart: Amistar Top, Carbo Zink en Carbo Calmag.

Proefuitleg
2014

  • Plant met ‘n NPK-mengsel wat Zn, Ca, Mg, en S bevat.
  • Topbemes met gips.

2015 standaardbehandeling

  • Plant met ‘n NPK-mengsel wat Zn, S en B bevat.
  • Topbemes gips en bykomende kunsmis.

2015 bykomende behandeling

  • Plant met ‘n NPK-mengsel wat Zn, S en B bevat.
  • Topbemes gips, bykomende kunsmis met dubbel die hoeveelheid fosfaat.

Resultate
Uit Tabel 2 en Tabel 3, asook Grafiek 1 kan afgelei word hoe die opbrengste met tydige toediening van die korrekte plant voe dingstowwe verhoog het.

Watter opbrengs kan behaal word met besproeiingsgrondbone?

Watter opbrengs kan behaal word met besproeiingsgrondbone?

Finansies

Vaste produksiekoste van grondbone
Die vaste produksiekoste van grondbone en gemiddelde totale inkomste word in Tabel 4 en Tabel 5 weergegee.

Watter opbrengs kan behaal word met besproeiingsgrondbone?

Watter opbrengs kan behaal word met besproeiingsgrondbone?

Wins
Die netto wins per hektaar is R57 255 - R10 432 = R46 823/ha.

Kunsmis

Daar hoef slegs 0,24 t/ha ekstra grondbone gestroop te word om die bemestingkostes te regverdig.

Bykomende inkomste met ekstra toediening van fosfaat op Spilpunt 1
Die bykomende koste van die ekstra fosfaat beloop R437,68/ha, maar die verhoging in inkomste was R3 145/ha. Dus word die inset meer as sewe keer teruggekry. Sien ook Tabel 6.

Gevolgtrekking
‘n Noemenswaardige opbrengs en kapitale verhoging is deur die toevoeging van bykomende kunsmis verkry. Die strewe na meer winsgewende en volhoubare grondboonproduksie is daarom moontlik deur oordeelkundige bemestingbestuur.

Toekomstige proewe

  • Vergelyking van 2013/2014- en 2014/2015-praktyke in een seisoen.
  • Toediening van bykomende kunsmis as topbemesting tot die ekonomiese draaipunt verkry word.

Kontak gerus vir Kobus Coetzee by 079 187 0842 of Johan Viljoen by 083 289 4977 vir enige verdere navrae.

Publication: February 2016

Section: Focus on

Search