• Login
  • Search Icon

Wat het van ons land geword?

July 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek sit nou die aand in die nuusateljee in Pretoria en wag vir die nuusleser in Johannesburg se onderhoud met my. Die hoofnuus gaan oor ons president se behuising en die koste daaraan verbonde en wie daarvoor moet betaal.

Daarna volg die storie van vermoedelike omkoopgeld wat Suid-Afrika betaal het om die gasheer vir die 2010 Sokker Wêreldbeker te wees en dieselfde dag word die persoon wat die loodskomitee gelei het, tot burgemeester van die Nelson Mandela Metropool verkies.

Toe kom ek aan die woord: “Mnr De Villiers, dit is vandag Wêreld Hongerdag, hoe vaar Suid-Afrika in hierdie verband?” Ek wou op daardie oomblik dit uitskreeu dat ons die geld waarvan hulle so pas gepraat het, eerder vir arm mense kon gee om die hongersnood in ons land teen te werk. Wat het van ons land geword?

Die positiewe is egter dat die hoeveelheid arm mense in ons land nominaal en proporsioneel aan die verminder is. Suid-Afrika het alreeds die Verenigde Nasies se millenniumdoelwit bereik deur die hoeveelheid mense wat van minder as US per dag lewe, te halveer.

Inteendeel, ons het ook die hoeveelheid mense wat teen minder as US,50 per dag lewe, binne dié tydsraamwerk gehalveer. Dit is inderdaad goeie nuus. ‘n Mens se gedagtes kan maar net wyd loop as jy dink wat ons sou kon vermag het as daar nie soveel korrupsie was nie.

Dit is hierdie jaar moeilike tye in die graanbedryf. Die manne in die noorde bly aan die stropers se monitors klap om te kyk of dit nie gaan staan het nie en die manne in die suide hou die weer dop. Met die skryf van hierdie artikel, het die Kaap nog nie reën gekry nie, so die jaar begin inderdaad ook droog daar. Soos dinge nou staan, is klimaatsverandering se skerp kant op ons. Hierdie gebeure noodsaak produsente om weer en weer te besin oor bewaringsbewerking en oorlaatstelsels. Volhoubare graanproduksie het voorwaar baie aspekte om te oorweeg.

Die sogenaamde streep in die sand wat Graan SA tydens die NAMPO Oesdag oor die minister se grondhervormingsplanne getrek het, het toe wel vuur getrek. Oom Fanie het altyd gesê: “As die jakkals tjank, was die skoot raak!” Die minister het van die rolspelers bymekaar geroep om te hoor waarom ons hom so in die openbaar kritiseer.

Die gesprek was goed en die openlikheid en eerlikheid daarvan het my moed gegee dat daar tog ‘n onderhandelde oplossing iewers kan wees. Dit bly maar moeilike sake en daar is uiteenlopende doelwitte tussen die verskillende partye. Saamstaan is nou mos maar een maal ons Achilles heel.

Elke party speel vir ‘n ander pawiljoen. Geduld raak op en frustrasievlakke raak baie hoog. Ons geloof word ook getoets en dit is elke keer vir my ‘n wonderwerk as sulke gesprekke nie die land in chaos laat nie.

Laastens wil ek ook vanaf Graan SA se kant die nuwe span wat by Agri SA aangestel is, gelukwens en sterkte toewens. Vir my was dit ‘n baie duidelike boodskap dat georganiseerde landbou besig is om versterkings in te bring en nie terug te deins vir die huidige uitdagings nie.

Graan SA sien daarna uit om saam met julle te werk in die soeke na nuwe oplossings. Dit was lekker om vir Omri van Zyl en Thabi Nkosi by NAMPO as gaste te ontvang en hulle ‘n eersteklasvoor smakie van die graanbedryf te gee.

Publication: July 2015

Section: Features

Search