• Login
  • Search Icon

Wat behels die gevreesde perdesiekte?

March 2014

JAN DU PREEZ, besturende direkteur, Instituut vir Suiweltegnologie

image

Etlike duisende perde het al in Suid-Afrika en Afrika gevrek weens die gevreesde perdesiekte. Die enting van perde met Onderstepoort se perdesiekte-entstof is die belangrikste voorkomingsmaatreël teen die siekte. Onderstepoort kan die immuunstatus van perde teen perdesiekte bepaal.

Perdesiekte is ‘n erge (perakute) tot matige infeksiesiekte van die perdefamilie, wat nie aansteeklik is nie. Dit word veroorsaak deur ‘n virus (orbivirus). Daar is nege verskillende virusstamme (serotipes) wat perdesiekte veroorsaak.

In 1944 het Onderstepoort se Veeartseny kunde-instituut bewys dat die oordrag (vektor) van perdesiekte en bloutongvirusse deur klein, bloedsuiende muggies gedoen word. Perde is baie vatbaar vir perdesiekte en vrektes van tot 95% kan voorkom by ongeënte perde.

Donkies en muile is meer weerstandbiedend teen perdesiekte en die siekte se verloop by hulle is gewoonlik matiger. Perdesiekte kom gereeld in die meeste lande suid van die Sahara in Afrika voor. Honde wat besmette vleis eet van perde wat aan perdesiekte gevrek het, kan siek word en vrek. Honde speel egter blykbaar nie ‘n rol in die verspreiding van perdesiekte nie.

image Hoe kry perde die siekte?

Die virus word na die perd oorgedra deur klein, bloedsuiende muggies (ook genoem brandassies) met die naam Culicoides spp. Die belangrikste spesie is C. imicola. Die siekte kom hoofsaaklik in die laatsomer en herfs voor wanneer muggies volop is. Warm, vogtige klimaatstoestande begunstig die uitbroei van die insekte, wat skemeraande en snags aktief is en in groot getalle in laagliggende dele in vleie en rondom panne en damme waargeneem word.

Gedurende die winter, vernaamlik in gebiede waar strawwe koue en ryp voorkom, verdwyn die muggies en gevolglik kom gevalle van perdesiekte nie voor nie, totdat klimaatstoestande wat dit begunstig, die volgende somer weer intree.

Siektetekens

Perdesiekte kom in vier verskillende vorms voor, naamlik: Perde siektekoors, dunkopperdesiekte, dikkopperdesiekte of ‘n kombinasie van die twee vorms. Perdesiektekoors is ‘n matige vorm van die siekte en word gekenmerk deur ‘n koors wat vir een tot ses dae duur.

Hierdie perde se weerstand verlaag en hulle is meer vatbaar vir ‘n opvlamming (terugval) van galkoors. So ‘n toestand kan foutiewelik gediagnoseer word as ‘n terugval van perdesiekte tydens die hersteltydperk gedurende perdesiekte.

Dunkopperdesiekte tas hoofsaaklik die longe aan en word gekenmerk deur hoë koors, moeilike asemhaling, skuim uit die neusgate en ‘n kort verloop met dood as gevolg van versmoring. By die dikkopvorm is onderhuidse swelsels, veral bokant die oë, die ooglede, die lippe, tussen die onderkaak en die onderdeel van die nek, bors en pens kenmerkend. Die dood tree gewoonlik in as gevolg van hartversaking. Die gemengde (kombinasie) vorm van perdesiekte, het siektetekens van beide die dunkop- en dikkopperdesiekte.

Nege verskillende virustipes

Daar is nege bekende tipes perdesiektevirusse in die natuur. Hierdie virustipes is immunologies verskillend en beskerm nie onderling teen mekaar nie. Dit beteken dat perde telkemale perdesiekte kan opdoen en ten spyte van die gebruik van polivalente entstof, is doeltreffende immunisering nie altyd moontlik nie.

Gevriesdroogde perdesiekte-entstof

Onderstepoort se perdesiekte-entstof word as twee aparte inspuitings met verskillende perdesiekte-virustipes aangebied. Dien eers kombinasie I toe en minstens drie weke later kombinasie II. Beskerming van die ingeënte perde teen perdesiekte word verkry drie tot vier weke ná die volledige inenting. Perde moet verkieslik jaarliks gedurende die lente of vroeë somer teen perdesiekte ingeënt word.

Uitwerking van die entstof

Diere wat vir die eerste keer ingeënt word, kan moontlik ‘n effense reaksie toon tussen die sewende en veertiende dag. Vir hierdie tydperk en ‘n week daarna moet sulke diere nie harde werk doen nie. Perde wat voorheen teen perdesiekte ingeënt was, sal waarskynlik nie tekens ná inenting wys nie. Sulke perde kan normale werk verrig ná inenting, maar moenie oorwerk word nie. Perde wat traagheid ná inenting wys, moet onder geen omstandighede geforseer of gedryf word nie. Perde is redelik goed beskerm teen perdesiekte drie tot vier weke ná inenting. Omdat die perdesiekte-entstof beskerming gee teen verskeie perdesiekte-virustipes is die spektrum van immuniteit, veral in jong perde, ná ‘n enkele inenting (kombinasie I en II) nie altyd voldoende om die perd teen perdesiekte te beskerm nie.

Waarskuwing

Sommige jong vullens, wat vir die eerste keer geïmmuniseer word, kan dalk hewig reageer. Moenie die dier binne sewe dae ná inenting slag vir menslike gebruik nie.

Verpakking

Die entstof word in twee aparte botteltjies aangebied wat vir ‘n enkele inenting van ‘n perd is. Dragtige merries moet verkieslik nie in die eerste drie maande van dragtigheid ingeënt word nie. Inenting in die laat stadium van dragtigheid is veilig en word algemeen aanbeveel omdat dit ‘n goeie passiewe biesmelk-immuniteit in die vul tot gevolg het.

Sebra is ‘n draer

Onderstepoort se Veeartsenykunde-instituut het onlangs bewys dat die sebra ‘n draer is van die perdesiekte-virus.

Gebruiksaanwysings van perdesiekteentstof

Die aktiewe bestanddeel van die entstof is in die vorm van ‘n poeier of klont in ‘n klein botteltjie. Koppel een van die ingeslote naalde aan een van die spuite met verdunningsvloeistof en spuit die inhoud in botteltjie nommer 1. Skud die botteltjie tot die inhoud opgelos is en onttrek weer met die spuit. Die entstof is nou gereed vir gebruik en moet dadelik ingespuit word.

Vermy blootstelling aan hoë temperature en direkte sonlig gedurende inenting. Bewaar die res van die verpakking by 4°C tot 8°C vir toediening minstens drie weke later. ‘n Skraagdosis-entstof teen perdesiekte word jaarliks aanbeveel.

Dosis

Die dosis entstof wat toegedien moet word, is 2 ml onderhuids ongeag die ouderdom of massa van die perd.

Voorkoming en beheer van perdesiekte

  • Perde moet jaarliks ingeënt word. Die entstof sal nie noodwendig volledige immuniteit (beskerming) in alle perde teweegbring nie en dit is noodsaaklik om ook ander bykomstige maatreëls te neem om perde teen perdesiekte te beskerm gedurende die tyd van die jaar wanneer die risiko van oordraging van besmetting deur die bytende Culicoides muggie die hoogste is.
  • Perde moet weggehou word van laagliggende dele van die plaas, soos vleie, naby riviere, damme en panne omdat die bytende muggies wat perdesiekte oordra, daar baie aktief is.
  • Perde moet laatmiddag, snags en vroeg soggens op stal gehou word. Die Culicoides muggies is nagtelike insekte en is nie geneig om geboue binne te gaan nie.
  • Die aanwend van insekweerders en die gebruik van insekdoders op die huid van die perd sal die Culicoides muggies ontmoedig om op die perd te voed (bloedmaal te neem) en so die perd met virusse te besmet.
  • Moenie sebras wat as ‘n bron van besmetting (reservoir) van perdesiekte-virus kan dien naby perde aanhou nie.
  • Teel liefs net met ingeënte merries sodat verseker kan word dat die vul ‘n goeie immuniteit deur die kolostrum (biesmelk) van die merrie kry om hom die eerste ses maande van sy lewe te beskerm. Vullens moet verkieslik twee keer gedurende hulle eerste en tweede lewensjaar ingeënt word en daarna net een keer jaarliks.
  • Die teelseisoen moet liefs so gereël word dat die vullens nie die ouderdom van ses maande bereik gedurende die tyd (somermaande) wanneer die muggies aktief is nie. Op ses maande moet die vullens van ingeënte merries die eerste keer ingeënt word, want dan beskerm die immuniteit van die merries nie meer die vullens nie.
  • Hou perde indien moontlik in perdesiekte-vrye areas aan.
  • Raadpleeg die veearts vir verdere inligting aangaande immunisering en voorkomingsmaatreëls teen perdesiekte.

Publication: March 2014

Section: Other Articles

Search