• Login
  • Search Icon

Was dié loop toe nou die moeite werd!

June 2013

image

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Nog ‘n NAMPO Oesdag, aangebied deur Graan SA, is agter die rug, met baie mense wat voetseer geloop en brandarm gekoop is. Soos verwag, het NAMPO weer eens aan die verwagtinge van baie kopers en besoekers voldoen. Produsente was nogmaals verras met die nuwe en verbeterde tegnologie wat uitgestal is.

Dit was opmerklik waarop daar hierdie seisoen gefokus is. In die afgelope jaar het die landbouprodusent se wêreld baie verander. Met hierdie as agtergrond, het baie produsente na nuwe tegnologie en geleenthede kom soek om hul werk makliker, vinniger, meer effektief en goedkoper te kan doen.

Waardetoevoeging

Tog is daar nie net gefokus op besparings nie, maar ook om die produksie per eenheid te verhoog. Waardetoevoeging kan ‘n belangrike rol begin speel en talle produsente het ook op hierdie gedeelte begin fokus. Sonder inligting sou NAMPO niks gewees het nie. Hier was ook baie geleenthede om meer te leer en te sien.

Meganisering

Sekerlik die enigste manier om hoër arbeidskoste te versag, is om die produksie per arbeider te verhoog. Dit gaan ongelukkig gepaard met meganisering en produsente moet fokus op groter en beter toerusting.

Om hierdie rede het produsente hul visier ingestel op groot trekkers en groot implemente wat al te mooi uitgestal is en soms ‘n groot geraas gemaak het. Deur bestaande trekkers en toerusting te vervang met groteres, kan dieselde werk met minder arbeid gedoen word. Ongelukkig is groot trekkers en implemente duur en daarom het produsente ook na ander toerusting en praktyke gekyk om die effektiwiteit van die arbeid te verhoog.

Bewaringslandbou

Direkte plant en bewaringsbewerkingstelsels se benodigde implemente het ook baie belangstelling getrek. Verskeie direkte plant-planters is uitgestal.

In Suid-Afrika word ook ‘n paar direkte plant-planters gebou wat spesifiek vir Suid-Afrikaanse omstandighede en behoeftes vervaardig word. Verskeie uitstallers het ook hul spesialiste daar gehad om die direkte plant-stelsels te bespreek en meer inligting hieroor uit te dra.

Dié spesialiste het dan ook tydens NAMPO bont gestaan. Vrae was baie en die antwoorde kon daartoe lei dat implemente verkoop word. Gepaardgaande met hierdie direkte plant-implemente, moes produsente hulself ook vergewis van ander implemente wat by hierdie stelsel aanpas. Kunsmiswaens is ‘n hulpmiddel wat gebruik word om die plantproses te versnel. Verskeie metodes om losmaatkunsmis in die waens te kry, is gedemonstreer.

Plant

Dit is algemeen bekend dat reg gespasieerde en geplaasde mieliepitte tot hoër opbrengste lei. Op hierdie gebied kon produsente verskeie meganismes bekyk en navraag doen oor hul werking.

Daar was ook ‘n uitstaller wat voorsiening maak om ouer planters se plantestand te verbeter. Vele monitors wat seker maak dat die planters wel plant, is ook gedemonstreer. Met dié soort tegnologie kan produsente daarop staatmaak dat hul effektiwiteit verhoog.

Spuit

Die tweede belangrikste implement in die direkte plant-stelsel, is die spuit. Talle selfloopspuite is ten toon gestel en ook op hierdie gebied het die Suid-Afrikaners hul staal gewys – ‘n plaaslik vervaardigde selfaangedrewe asook sleep-tipe spuite is ten toon gestel.

‘n Meganisme wat die spuit aktiveer om net groen onkruid te spuit, is van die nuwe tegnologie wat by NAMPO te sien was. Hierdie tegnologie help om so min as moontlik aan onkruiddoders te spandeer.

Sonder goeie spuit punte kan ‘n spuit ook nie werk nie en gevolglik het die vervaardigers van spuitpunte ook heelwat aandag gekry met hul aanbieding van ‘n verskeidenheid van spuitpunte wat in baie omstandighede aangewend kan word.

Presisieboerdery

Produsente kon hulself ook vergewis van die nuutste toerusting op hierdie gebied, wat doeltreffendheid en effektiwiteit verhoog. Die meeste van hierdie presisieboerderytoerusting kan ook op meer as een trekker of masjien geïnstalleer word – wat weer die koste per eenheid verlaag.

Brandstofbesparing

Produsente besef dat om op die plaas rond te beweeg, kos geld. Ten einde hierdie probleem aan te spreek, was daar ook verskeie ligte, alleterrein vierwielvoertuie te sien wat maklik ‘n bakkie gedeeltelik op ‘n plaas sal kan vervang. By verskeie van hierdie voertuie kan daar twee persone vervoer word en daar’s steeds ‘n lekker laaibak waarop ‘n ligte vrag sal pas. Hierdie voertuie het ook die vermoë om lig met brandstof om te gaan. Voorwaar ‘n metode om op die plaas te bespaar.

Balers

Ten einde die effektiwiteit en die doeltreffendheid op die hele plaas te verhoog, het produsente voorts baie tyd aan nuwe tegnologie spandeer. Verskeie nuwe hooibalers is uitgestal. Hier het die balers wat die hooi in nette toedraai, tonne aandag getrek. Nie net word die baal beter toegemaak nie, maar word dit ook vinniger gedoen, wat weer op die ou end tyd en koste spaar.

Spilpunte

Besproeiingsprodusente weet van ‘n spilpunt wat vassit en van die gemors wat dit veroorsaak. Een uitstaller het ‘n soort “eendvoet” gedemonstreer wat hierdie probleem taamlik in toom sal hou. Hierdie eendvoet is van ‘n tipe plastiek gemaak wat ook nie maklik sal roes of breek nie. As jy weet van vassit en soek na trekkerkruipbande, behoort dit jou aandag te trek. (Ons weet die nat jare lê voor – so maak ‘n plan!)

Opberging

Wanneer die graan klaar geproduseer is, moet dit mos geberg en verwerk word. Verskeie metodes van graanberging kon by NAMPO besigtig word.

Vee

Vir veeprodusente is daar toerusting ten toon gestel om die graan mee te verwerk sodat dit tot beter veeprestasie kan lei. So gepraat van vee, daar was ook volop nuwe veehanteringstoerusting om na te kyk. Hiersonder sal dit maar moeilik gaan om met vee te werk as arbeid min is.

Inligting

NAMPO was ‘n sterk platform vir die verspreiding van inligting. Brosjures en kaartjies was oral beskikbaar en soos gebruiklik het die Landbounavorsingsraad (LNR) hul kant gebring met die nuwe MIG asook die nuutste Koringproduksiehandleidings wat weer eens tydens NAMPO beskikbaar gestel is.

Produsente kon hulself ook verlustig in die nuwe tegnologie van die LNR en professionele personeel het oud en jonk se vrae met entoesiasme beantwoord. Uit die mond van die jongelinge sal jy die waarheid hoor en dié woorde tussen twee dogters: “Ek wil ook eendag ‘n navorser by die LNR word,” bevestig dat dié organisasie hul goed van hul taak kwyt.

Skoon terrein

NAMPO badkamers en netjiese terrein is – voorwaar iets waarop die organiseerders baie trots kan wees.

‘n Algemene blik op die 2013 NAMPO Oesdag bring ‘n mens tot die gevolgtrekking dat dit ‘n luidende sukses was. Genoeg te eet en te drink en met genoeg tyd om vrae te vra – en dit alles in ‘n aangename omgewing. Voorwaar iets wat lekker was om by te woon!

Publication: June 2013

Section: Other Articles

Search