• Login
  • Search Icon

Waarheen met LNR-KGI se navorsing?

October 2016

ANNELIE BARNARD, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

Terwyl die ryp dik in Bethlehem gelê het en 'n wit sneeukombers oor die nabygeleë Maluti-berge getrek was (Foto 1a en Foto 1b), het rolspelers in die koringbedryf vanuit verskillende dele in die land byeengekom om die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) se jaarlikse beplanningsvergadering by te woon.

Hierdie vergadering word jaarliks gehou om almal 'n geleentheid te gee om nuwe navorsingsbehoeftes wat gedurende die afgelope jaar ontstaan het, te identifiseer en om die huidige navorsing wat by die LNR-KGI gedoen word, te koördineer. Sodoende wil ons verseker dat ons navorsing relevant is en dat al die behoeftes van die bedryf aangespreek word.

Verteenwoordigers van Graan SA, die Wintergraantrust, verskeie universiteite, die nasionale en provinsiale Departement van Landbou, die Landbounavorsingsraad (LNR), sowel as kommersiële koring produsente, het die vergadering op 28 Julie vanjaar op Bethlehem bygewoon om die navorsingsaktiwiteite van die LNR-KGI te bespreek. Die hooftema wat reg deur die vergadering ter sprake gekom het, is dat navorsing spesifiek daarop gefokus moet wees om opbrengste te verhoog. Dr Hendrik Smith (bewaringsbewerkingfasiliteerder: Graan SA), het die dag afgeskop met 'n baie insiggewende praatjie oor bewaringsbewerking en hoe dit kan bydra om opbrengste oor die lang termyn te verhoog, terwyl volhoubare produksie nagestreef word.

Mnr Barend Wentzel (kwaliteitsnavorser: LNR-KGI) het onlangs 'n vergadering van die Wheat Initiative in Frankryk bygewoon. Die Wheat Initiative is 'n internasionale liggaam wat gestig is om koringopbrengste wêreldwyd te verhoog ten einde die doelwit van 'n 60%-verhoging in wêreldvoorraad teen 2050 te bereik.

Wentzel het in sy praatjie inligting verskaf oor hierdie projek wat daarop gemik is om gapings in koringnavorsing te identifiseer en wêreldwyd te prioritiseer. Tans is Suid-Afrika nog nie 'n amptelike lid nie, maar drie navorsers is reeds betrokke by spesialiswerksgroepe, naamlik gewasbeskerming (dr Vicki Tolmay), kwaliteit (Wentzel) en akkerbou (mnr Willem Kilian).

Die vier navorsingsbestuurders van die onderskeie programme by die instituut het die geleentheid gehad om die vordering wat die afgelope jaar in die onderskeie navorsingsprojekte gemaak is, aan die vergadering voor te hou. Die groot hoeveelheid werk en die wetenskaplike manier waarop dit uitgevoer is, het baie positiewe kommentaar van afgevaardigdes ontlok.

'n Groot hoeveelheid nuwe projekte met nuwe navorsingsfunksies is aan die vergadering voorgelê. Die meeste van hierdie projekte fokus op die opbrengsverhoging van koring. Aspekte soos droogteverdraagsaamheid, die gebruik van molekulêre merkers om kultivars met verhoogde opbrengs te identifiseer, die invloed van gewasrotasie op grondeienskappe en onkruidbeheer – veral in die Wes-Kaap waar weerstandbiedende raaigras 'n groot kopseer is, is maar 'n paar van die temas wat geïdentifiseer is. Hierdie projekte sal binnekort aan verskeie organisasies voorgelê word vir befondsing.

Daar is tans geweldig baie veranderinge en uitdagings in die koringbedryf – nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal. Klimaats omstandighede is besig om reg oor die wêreld te verander, voedselsekerheid is 'n bron van kommer, ekonomieë verswak en polities is die hele wêreld sommer deurmekaar. Hierdie veranderinge is 'n realiteit en ons moet hulle op 'n proaktiewe en positiewe manier hanteer.

Van navorsing se kant af sal ons steeds ons koringprodusente ondersteun ten einde hul effektiwiteit te verhoog en ons plaaslike koringproduksie te stabiliseer.

Graanfamilie se tuiste in Pretoria

Publication: October 2016

Section: Relevant

Search