• Login
  • Search Icon

Waaraan moet kunsmismengsels volgens Wet Nr. 36 van 1947 voldoen?

July 2014

WILLIAM DEALE en ANDRÉ NEL, LNR-Instituut vir Graangewasse

Niemand wil ‘n produk koop om dan later agter te kom dat dit nie aan die veronderstelde kwaliteitsvereistes voldoen nie. Kunsmis is nie ‘n uitsondering op dié reël nie.

Die voedingselemente in kunsmis mag egter tot ‘n beperkte mate van die gespesifiseerde inhoud op die sak afwyk. Die toelaatbare afwyking word duidelik deur Wet Nr. 36 van 1947 voorgeskryf.

Om te bepaal of ‘n besending kunsmis aan die wet voldoen, moet ‘n monster op ‘n voorgeskrewe wyse geneem word en by ‘n laboratorium wat deur die Registrateur van Misstowwe goedgekeur is, ontleed word. Die resultate word dan aan die hand van die voorskrif in die kunsmiswet beoordeel.

Die eerste vereiste vir mengsels is dat die gesamentlike element-inhoud nie met meer as 1,4% van die gespesifiseerde inhoud mag afwyk nie. Die gespesifiseerde gesamentlike element-inhoud van ‘n tipiese mengsel soos 3:2:1 (25) is 250 g (N + P + K) per kg kunsmis. Om dus nog aanvaarbaar te wees, moet die mengsel minstens 246,5 g (N + P + K) per kg kunsmis bevat.

Indien die kunsmis aan bogenoemde vereiste voldoen, word die verskillende elemente N, P en K vervolgens afsonderlik beoordeel. ‘n Enkele maatstaf geld vir die drie makro-elemente en die toelaatbare afwyking word op ‘n glyskaal beoordeel.

Hoe hoër die inhoud van ‘n bepaalde element in ‘n mengsel, hoe kleiner die relatiewe toelaatbare afwyking. Indien ‘n mengsel dus byvoorbeeld 125 g N per kg kunsmis bevat, is die toelaatbare afwyking 7,9 g N per kg kunsmis wat ‘n afwyking van 6,3% is. Indien die N inhoud 50 g per kg kunsmis is, is die toelaatbare afwyking 4,4 g N per kg kunsmis, wat ‘n afwyking van 8,8% is.

‘n Mikro-element soos sink, word tipies in ‘n klein hoeveelheid van 0,5% by sommige mengsels gevoeg. Die toelaatbare afwyking vir sulke klein hoeveelhede is relatief hoog. Vir ‘n inhoud van 5 000 mg Zn per kg kunsmis (0,5%), is die toelaatbare af wyking 1 335 mg. Sou ‘n kuns mismengsel dus nog 3 665 mg (0,37%) of meer Zn bevat, is dit steeds aanvaarbaar.

Publication: July 2014

Section: Focus on

Search