• Login
  • Search Icon

Waar is die Ruiter in Swart?

July 2012

– Julie 2012

image

Beste Grootneef,

In my oorle jong dae was daar sulke swart en wit fotoboekies met byskrifte. Een daarvan was die “Ruiter in Swart”, met so woeste ou met ‘n masker oor die oë getrek. Hy het ‘n swart perd met ‘n wit bles gery, met ‘n rollie op die heup vasgegespe. Aan die saal was ‘n opgerolde sweep geknoop. Die Ruiter in Swart het weduwees en wese beskerm en skelms gevang. Al die boekies is afgesluit met ‘n foto waar die slegte ouens hensop en gedwee weggelei word om klippe te kap...

Die Ruiter was ook nie enige hierjy nie hoor. Hy was ‘n ZARP* en die sterretjie aan die onderkant van die bladsy het verklap dit staan vir “Zuid-Afrikaanse Republiek Polisie”. Weet nou nie of die man van die Transvaalse of Vrystaatse kant was nie, maar hy het nie nonsens gevat nie.

Ou Neef, dié week het ek behoorlik gewens ek kon op die oud ZARP se nommer druk. Sien, ons had ‘n voorval van ‘n deur wat oopforseer is. Niks weg nie, net ‘n beslommernis om deure te herstel. Die swerkaters is seker betyds deur die honde verwilder.

Soos ‘n goeie burger wou ek die saak by die polisie aanmeld om die ding te ondersoek en so aan. Sou ook algar die skrik op die lyf jag as die polisie op die werf uitslaan. Maar wat wou, wat ‘n gesukkel om die blou span in te lig van my moeilikheid.

Met die nommer vir die klagkantoor uit die Telkom boek geskakel, sê ‘n blikstem vir my “the number does not exist...” Jy kom nie ver om met so ‘n blikstem te baklei nie en die enigste raad was om die buurstasie te bel om my stasie se nommer in die hande te kry. Jy sal nie glo watse konstipasie dít veroorsaak het nie. Almal moes by almal vra vir die regte nommer. Nietemin, ten einde laaste gewapen met die regte nommer, takel ek weer die lyn na die naaste stasie.

Met die groetslag het dit nie sleg gegaan nie. “Allo” werk oral. Ek was net nie seker of ek dalk by SPAR uitgekom het nie. Die probleem het ontstaan met die verduideliking van wat gebeur het. Ná my beste poging in Brits 101, is ek beantwoord met ‘n langerige stilte en toe ‘n plotselinge “What?” in my linkeroor. Ou Neef, ek antwoord toe maar met ‘n “What, what”, net om die gesprek aan die gang te hou.

Dit smaak toe of die Konstabel Abel aan die anderkant nie na ‘n snars van my lang relaas geluister het nie. Dalk het die man sit en brekfis eet. Daarna kos dit my weer die hele storie van vooraf herhaal. Konstabel Abel blaf toe ‘n nuwe nommer wat ek moet bel, wat ek ook toe terstond doen. Dié nommer vat my toe sommer kortpad na ‘n geheel ander distrik, heel uit my geweste uit, waar ‘n geïrriteerde lid my beduie om die regte klagkantoor te kontak.

Nou kyk Neef, lankmoedigheid is net só lank en die gort was al amper gaar tussen my twee ore. Sê nou dit was ‘n noodsituasie en die klomp tjommel so om ‘n klag te boekstaaf? Terug by Konstabel “What” het ek sommer in goeie Afrikaans my saak gestel. Wil jy glo, die lig breek toe deur en uiteindelik verstaan hy my moeilikheid. Jy kan maar sê dit was ‘n helder oomblik...

Die poeliesbakkie het wel later by ons uitgeslaan. Die manne in blou het effens rondgekyk, maar weer vinnig laat spat. Nie sprake van ‘n baasspeurder Faber wat vingerafdrukke neem of verdagtes ondervra nie. Eintlik is ons maar net so gelos.

Dit laat my dink aan Jannie du Toit se lied oor “de kleine man”, oftewel die onvermoë van die enkeling as dit kom by die staat se masjinerie.

My tuinman nader my gister met ‘n ernstige probleem. Sien, verduidelik hy, “sy budget het gebreek”. Dié ding verstaan ek goed. Myne is heeltyd aan flarde. Diesulkes kan maar die banke nasionaliseer, ek skenk graag my “oortrek” vir wie ook al...Nietemin, terug by my tuinman. Hy verduidelik hoe hy op pad huis toe beroof is van sy maand se geld. Hulle het tot die putty gevat waarmee hy sy venster wou regmaak. Darem net gedreig met ‘n mes, nie gesteek nie. “Die polisie?” vra ek hom. “Nee wat”, beduie hy, “hulle sal nie help nie...”

Jy sien Ou Neef, maak nie saak waar nie, ons is maar ‘n “kleine man” as dit kom by staatsgoed.

Dit laat my nou sommer weer besef, anderkant die plaashek kan ons min op ons eie uitrig. Daar het ons ‘n Graan SA nodig om ons sake te dryf, want as enkeling is jy net ‘n “kleine man”.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: July 2012

Section: E-mails

Search