• Login
  • Search Icon

Waar is al die koringprodusente heen?

October 2013

CHRISSIE MILES, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT, BETHLEHEM

Met die afskaffing van die destydse Koringraad het daar vrystellingsnorme van broodkoring vir Suid-Afrika ontstaan, eerstens om die gehalte van Suid-Afrikaanse broodkoring te verbeter en tweedens om die groot verskille wat vroeër jare tussen die beste en die swakste grade bestaan het, te verklein en sodoende meulenaars en bakkers te bemagtig om ‘n deurlopende gehalte produk aan die verbruiker te lewer.

Die kwaliteit het ook die bakkers in staat gestel om met minder moeite ‘n groot broodbakaanleg ekonomies te kan bedryf met min onderbrekings in die produksiestroom.

Die enigste voordeel wat dit vir produsente ingehou het, is dat hul ‘n direkte mark vir hul produk het, aangesien die uitvoer van hul produk nie ekonomies lewensvatbaar is nie, omrede Suid-Afrika ‘n netto invoerder van koring is vir plaaslike gebruik.

Verder is die koringprodusente verplig om slegs koringkultivars wat op die aanbevole lys van die meulenaars en bakkers verskyn, te plant. Met globalisering het dit vir plaaslike koringprodusente baie moeilik geraak om aanvaarbare broodbakkwaliteitkoring mededingend te produseer teen lande waar koringproduksie gesubsidieer word en broodbakkwaliteit baie laer is, om dit vir die koringprodusente die moeite werd te maak om voedselsekerheid te bevorder in die betrokke lande en om ook aan die wêreldvraag te voorsien.

Om ‘n volhoubare koringproduksie in Suid-Afrika te vestig en om so weer koringprodusente aan te spoor om die gewas te plant, sal koringtelers indringend na opbrengs moet kyk. Ongelukkig staan opbrengs geneties direk teenoor broodbakkwaliteit. Dus, om koringproduksie in Suid-Afrika in die toekoms te bevorder om sodoende voedselsekerheid in die hand te werk, sal beide die produsente en bedryf na ‘n wen-wen situasie moet kyk om opbrengs en kwaliteit te balanseer tot voordeel van elke skakel in die koringbedryf.

Koringtelers sal moet poog om kultivars te produseer wat aansienlik hoër opbrengste kan lewer met redelik aanvaarbare kwaliteit ten einde koringprodusente weer na die bedryf toe terug te wen.

Navorsing is moontlik gemaak deur die finansiële bystand van die Wintergraantrust en die LNR.

Publication: October 2013

Section: Input Overview

Search