• Login
  • Search Icon

Vraag-en-aanbodscenario’s gebaseer op die voorneme om te plant

December 2017


LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom, Graan SA

Volgens die Nasionale Oesskat­tings­komitee (NOK) se voorneme om te plant-verslag wat einde Oktober bekend gemaak is, word die verwagte mielie-aanplantings vir die seisoen op 2,47 miljoen ha geskat – wat slegs ‘n 6% daling is, gemeet teen die huidige seisoen se oppervlakte aangeplant. 

Sojaboonaanplantings word op 720 000 ha vir die seisoen geskat, terwyl dié van sonneblom op 665 500 ha geskat word. Die grondbone- en sorghumoppervlakte word verwag om met 17% en 3,2% onderskeidelik toe te neem. 

Vraag-en-aanbodscenario’s
Tabel 1 tot Tabel 3 toon die verkorte vraag-en-aanbodscenario’s, wat moontlik die komende seisoen gesien kan word, gegewe die huidige voorneme om te plant en aannames vir moontlike opbrengssituasies. Die vraag-en-aanbodscenario’s is saam­-
ge­stel vir die drie grootste somergrane, naamlik mielies, sojabone en sonneblom­saad en die volgende aannames is met die opstel van die scenario’s gemaak:

  •    Verbruik = drie jaar gemiddeld 
  •    Opbrengste gebruik in die scenario’s
    • Scenario 1: Laagste opbrengs oor die afgelope vyf jaar
    • Scenario 2: Gemiddelde opbrengs oor die afgelope vyf jaar
    • Scenario 3: Rekordopbrengs

Tabel 1 toon die vraag-en-aanbodmoont­likhede van mielies vir die 2018/2019-seisoen – sou die huidige voorneme om te plant realiseer, terwyl Grafiek 1 ‘n grafiese voorstelling van die mielieproduksie, uitvoerbare surplus en uitvoerbare surplus is – as ‘n persentasie van die plaaslike verbruik. 

Dit is duidelik uit Tabel 1 dat indien scenario 1 (sien opbrengsaannames bo) sou plaasvind, die totale uitvoerbare surplus in die mark in die komende seisoen ongeveer 1,45 miljoen ton sal beloop. Dit beteken dat die produksie, tesame met die seisoen se oordragvoorraad, heelwat nader aan ‘n gelykbreekoes sal wees, met slegs ‘n klein uitvoerbare surplus.

Indien scenario 2 sou realiseer, sal die produksie plus oordragvoorraad die land met ‘n uitvoerbare surplus van ongeveer 3,85 miljoen ton laat – wat minder is as die huidige seisoen, maar steeds ‘n groot uitvoerbare surplus is en wat sal beteken dat die pryse weer vir ‘n geruime tyd teen uitvoerpariteit sal verhandel. 

As scenario 3 sou plaasvind, kan die land in die volgende seisoen moontlik weer ‘n produksie van oor die 15 miljoen ton hê, wat sal beteken dat Suid-Afrika, saam met die huidige seisoen se oordragvoorraad, ‘n uFFitvoerbare surplus van amper 8 miljoen 
ton sal hê. 
Grafiek 1 toon dat die uitvoerbare surplus as ‘n persentasie van die plaaslike verbruik ongeveer 14% kan wees indien ‘n lae opbrengssituasie sou voorkom en dat dit kan toeneem tot en met 77% indien rekordopbrengste weer sou realiseer. Teen gemiddelde opbrengste kan die uitvoerbare surplus ongeveer 37% van die plaaslike verbruik vir mielies in totaal beloop. 

Tabel 2 toon die moontlike vraag-en-aan­­bodscenario’s van sojabone vir die 2018/2019-seisoen. Dit is duidelik dat die oordragvoorraad van sojabone vir die hui­dige seisoen effens hoër behoort te wees as wat aanvanklik verwag is. 

Verwerking van sojabone vir olie- en olie­koekproduksie vir die 2017/2018-seisoen het teen ‘n stadiger tempo plaasgevind as wat verwag is. Dit kan aan verskeie faktore toegeskryf word, waaronder die feit dat van die aanlegte gedurende die seisoen tegniese uitdagings ervaar het. 
In die sojaboonscenario’s is die perssyfer as die balanserende syfer vir die seisoen gebruik om aan te dui hoeveel sojabone gepers sal moet word indien die onderskeie produksieskattings vir die seisoen sou realiseer. Dit is duidelik dat indien die sojaboonopbrengs vir die seisoen aan die ondergemiddelde tot gemiddelde kant is, die jaarlikse verwerking gemiddeld tot net bogemiddeld moet wees om te verhoed dat daar groot oordragvoorraad aan die einde van die 2018/2019-bemarkingseisoen is. 
Indien daar weer vanjaar, soos verlede jaar, rekordopbrengste verkry word, is dit duidelik dat die hoeveelheid sojabone wat vir olie en oliekoek gepers word, kan toeneem tot en met 1,5 miljoen ton vir die seisoen – wat haalbaar is met die huidige beskikbare perskapasiteit. 

Tabel 3 toon die moontlike vraag-en-aan­bodscenario’s van sonneblomsaad vir die 2018/2019-seisoen. Uit Tabel 3 is dit duide­lik dat indien die sonneblomopbrengs in die 2018/2019-seisoen ondergemiddeld tot gemiddeld sal wees, die voorrade tot ‘n groot mate teen gemiddelde (760 000 ton) tot effens bogemiddelde verwerkingsvlakke weggewerk sal kan word. 

Indien die opbrengs rekordvlakke bereik (scenario 3), sal die hoeveelheid sonneblom wat in die 2018/2019-seisoen ge­pers moet word, moet toeneem tot 850 000 ton – wat min of meer die boonste vlak van hoeveelheid verwerk in die land verteenwoordig. 

Die verbruik van sonneblomoliekoek in die land is aansienlik meer beperk as dié van sojabone en daarom is die hoeveelheid sonneblomsaad wat gepers word vir olie en oliekoek redelik beperk tot ‘n maksimum van 850 000 ton. Dit is egter nie te sê daar kan nie meer as dit gepers word nie, maar dit verteenwoordig die vlak waar die mark min of meer versadig met sonneblom­oliekoek behoort te wees.
 
Ten slotte
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die berekeninge wat gedoen is, gegewe die huidige voorneme om te plant vir die 2018/2019-seisoen en dat die werklike syfers steeds kan verander met die vordering van die seisoen en veranderinge in die werklike aanplantings. 

Die scenario’s is wel ‘n goeie aanduiding van wat moontlik in die mark vir die komende seisoen verwag kan word en daarom moet produsente gebruik maak van die inligting om hul te ondersteun in hul besluitnemingsprosesse vir die komende seisoen. 

In kort toon die syfers dat indien die opbrengste gemiddeld tot bogemiddeld vir die seisoen sal wees daar steeds groot uitvoerbare surplusse van mielies sal wees in die 2018/2019-seisoen terwyl onder ge­middelde opbrengste die mark nader aan ‘n balans kan bring, met ‘n kleiner uitvoerbare surplus.

Vir die oliesade sal gemiddeld tot bogemiddelde opbrengste tot groter voorraad­vlakke lei en sal die verwerkings veral in 
die sojaboonmark teen ‘n vinniger tempo moet plaasvind as die huidige seisoen, terwyl die gemiddelde verwerkingstempo voldoende sal wees om die plaaslike voorrade te verwerk indien onder gemiddelde opbrengste realiseer.

Publication: December 2017

Section: On farm level

Search