• Login
  • Search Icon

Vooruitsigte vir die somerreënvalgebiede

September 2017

Cobus Olivier, wetenskaplike: Voorspellingsnavorsing, Suid-Afrikaanse Weerdiens

Soos die winter tot ‘n einde kom, skuif die fokus in terme van reënval en temperatuur weg vanaf die suid-westelike winterreënvalgebiede na die lente- (meestal suidelike en oostelike kusgebiede) en somer- (noord-oostelike binneland) reënvalgebiede. Voorspellings strek tans tot en met Desember hierdie jaar en daarom kan ons nog nie ‘n aanduiding gee van wat aan die einde van die somerseisoen (Januarie/ Februarie/ Maart) verwag kan word nie.

Vir die lentereënvalgebiede (meestal Oos-Kaap en KwaZulu-Natal) word ondernormale reënval verwag met gepaardgaande warmer temperature. Soos ons die einde van lente en die begin van somer nader, word verwag dat gedeeltes van KwaZulu-Natal wel bo­normale reënval kan kry, met Oos-Kaapse areas wat nog steeds onder­normale reënval kan verwag.

Vir die suid-oostelike binneland, die tradisionele somerreënval­gebied, is daar ‘n aanduiding dat daar gedeeltes is wat gedurende die lente bonormale reënval kan ontvang. Ongelukkig word ondernormale reënval grootliks gedurende die begin van die somer verwag. Soos reeds genoem, weet ons nog nie wat om te verwag vir die einde van die somer nie en die lesers word aangeraai om in die volgende paar maande die seisoenale voorspelling dop te hou. Meestal warmer temperature word gedurende die lente en die begin van die somer in die somerreënvalgebiede verwag.

Die El Niño Suidelike Ossilasie (ENSO) is tans in ‘n neutrale fase en daar word verwag dat dit gedurende die lente en volle somerseisoen in ‘n neutrale fase sal bly. Hierdie stelsel is egter in ‘n warm fase en die verwagting van neutraliteit kan nog gedurende die komende maande verander. Ons verwag tans nie enige impak op die somer­reënvalgebiede as gevolg van hierdie stelsel nie.

Ongelukkig beteken ‘n normale fase van ENSO ook dat ons voor­spellings minder betroubaar is en daar word voorgestel dat dit in enige beplanning in ag geneem sal word.

Publication: September 2017

Section: Relevant

Search