• Login
  • Search Icon

Voorkoms van aarskroei in Suid-Afrika

September 2012

CATHY DE VILLIERS, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT, BETHLEHEM

Aarskroei is een van die belangrikste siektes op koring onder besproeiing. Die siekte kom ook voor op gars, hawer en mielies en veroorsaak ‘n afname in opbrengs en kwaliteit. Hiermee saam produseer die swam mikotoksiene wat nadelig vir mens en dier kan wees.

Gewasrotasie met koring-mielies lei tot opbou van inokulum in die grond, wat kan veroorsaak dat daar ‘n uitbraak van aarskroei in die daaropvolgende seisoen kan wees. Tans is daar verskeie spesies van die swam wat aarskroei veroorsaak en daar is ook geen kultivars wat bestand is daarteen nie. Daar is tans ook geen swamdoders in Suid-Afrika geregistreer om hierdie siekte te beheer nie.

Simptome

Aarskroei kan uitgeken word aan ‘n donkerbruin letsel wat op besmette kaffies net ná blom voorkom. Gewoonlik word die besmette kaffies strooikleurig, terwyl die res van die kaffies nog groen vertoon. Die besmette kaffies se baard buig afwaarts.

Soms kan daar ook ‘n pienk tot oranje verkleuring aan die buitekant van die kaffies waargeneem word. Die besmette korrels is verkrimp en lig in kleur, terwyl swamgroei soms ook op die korrels waargeneem word.

Aarskroei-simptome kan maklik met dié van vrotpootjie verwar word. Vrotpootjie-besmette plante waar die wortels van die plant aangetas is, kan maklik uit die grond getrek word, want die wortels is bros en breek maklik, terwyl dit by aarskroei nie gebeur nie.

Verkorting van vrotpootjie-besmette plante vind plaas deurdat die opname van voedingstowwe beperk word, terwyl aarskroei net in die kaffies op are voorkom en die plante verder normaal vertoon.

Besmetting

Verkrimpte korrels word maklik deur die stroper uitgewaai en só veroorsaak dit die opbou van inokulum op ‘n land. Omdat mielies ook deur dieselfde swam aangeval word, kan dit ook die mielies infekteer indien die mielies direk ná die stroop van die koring aangeplant word.

By mielies veroorsaak die swam en gewasrotasie tussen mielies en koring word dus nie aanbeveel nie. Besmette sade kan ook skadelike mikotoksiene bevat en moet verkieslik nie vir veevoer gebruik word nie omdat dit kan lei tot verlaging in voortplanting, afhangend van die toksienvlakke.

Wanneer besmette garssaad gebruik word om bier te produseer, kan die mikotoksiene veroorsaak dat die bier onbeheers sal skuim, wat in Engels gushing of beer genoem word. Verskeie spesies wat aarskroei-infeksie veroorsaak, kan in verskillende gebiede aangetref word.

Dit is belangrik om te onthou, dat alhoewel die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) nie die terughou van saad aanmoedig nie, klein en verkrimpte sade (Foto 1) verwyder moet word voor opberging en dat die saad in ‘n koel, droë plek, weg van sonlig en insekte opgeberg moet word om te verhoed dat ontkieming kan afneem.

image

Indien saad nie korrek opgeberg word nie, kan die swam op die saad groei en hoër vlakke van mikotoksiene kan voorkom. Wanneer besmette saad weer geplant word, is daar ‘n moontlikheid dat die ontkieming van die saad beïnvloed kan word.

Saadbehandeling van koring kan die kiemkragtigheid van die saad verhoog, maar in meeste gevalle sal saadbehandeling geen effek op die are van die plant hê nie, omdat die saadbehandeling die plant net vir ‘n kort
periode beskerm. Wanneer die are later in die seisoen verskyn, het die saadbehandeling reeds uitgewerk en beskerm dit nie die are tydens blom wanneer die are vatbaar is vir aarskroei-besmetting nie.

Beheer

In Suid-Afrika is daar geen chemiese middels geregistreer vir die beheer van aarskroei nie. Selfs al word middels toegedien, is die tyd van toediening, die hoeveelheid van die swamdoder en ‘n opvolgbespuiting nie altyd effektief nie en is dit baie moeilik om met sukses uit te voer, omdat al die plante (al is daar net een kultivar geplant) nie op dieselfde tyd blom nie.

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye doen tans navorsing op die chemiese beheer van aarskroei met behulp van swamdoders, wat moontlik kan lei tot die registrasie van sulke chemiese middels. Tans is die beste beheermetode, om die hoeveelheid inokulum wat op die land teenwoordig is, te verminder, omdat die swam op dooie plantmateriaal oorleef. Dooie plantmateriaal, soos stoppels, kan ingeploeg en/of verbrand word om die voorkoms van die inokulum wat die siekte veroorsaak, te verminder. Onthou dat die verbranding van stoppels kan lei tot erosie, lae stikstofvlakke en die verlies aan grondvog en dit is ook nie altyd ekonomies nie.

Op die oomblik is die LNR-KGI besig om aarskroei-weerstandsbronne te identifiseer en weerstandbiedende lyne sal dan in ‘n teeltprogram gebruik word, aangesien meeste van ons Suid-Afrikaanse koringkultivars vatbaar is vir aarskroei (Tabel 1). Die verskillende vlakke van vatbaarheid vir die kultivars word in Tabel 1 aangedui.

image

Indien jy enige aarskroei-simptome opmerk, kan jy gerus vir Cathy de Villiers skakel by (058) 307-3452 of e-pos na devilliersc@arc.agric.za. Alle navrae sal hanteer word.

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search