• Login
  • Search Icon

VKB spits hul toe op waardetoevoeging

October 2011

ANELIE SWEMMER, SKAKELBEAMPTE, VKB

VKB was nog altyd ‘n trotse produsentebesigheid wat deur sy produsente besit word en omsien na die belange van sy produsente. Op 1 April 2011 is VKB van ‘n koöperasie in ‘n publieke maatskappy, VKB Landbou Beperk, omskep, maar sal voortaan steeds as VKB bekend staan.

Die huidige ekonomiese klimaat in Suid-Afrika verg nuwe denke en aanpassings in ‘n dinamiese besigheidsomgewing. VKB se direksie het sekere strategiese rigtingveranderings daargestel om aan te pas by die hedendaagse uitdagings en veranderende omgewing.

image

Die volgende kapitaalprojekte is tans in proses:

Braaikuikens

In die wêreld en in Suid-Afrika is daar ‘n duidelike verskuiwing in eetgewoontes vanaf koolhidrate na proteïene. Soos wat lewensomstandighede verbeter, begin al meer Suid-Afrikaners om proteïene te eet.

Navorsing toon dat die per capita verbruik van braaikuikens vanaf 2000 gestyg het van 19,7 kg per persoon per jaar na 32,96 kg per persoon in 2010. Daar word verwag dat hierdie tendens sal voortduur en dat die per capita verbruik in 2019 nagenoeg 47 kg per persoon kan wees. Uit ‘n makro-ekonomiese perspektief, skep dit dus geleenthede in die braaikuikenbedryf.

Die Oos-Vrystaat produseer groot volumes geelmielies wat op hierdie stadium sonder enige waardetoevoeging aan industrieë in ander provinsies verkoop word. Geelmielies vorm die basis van hoendervoer en daarom maak dit ekonomies sin om verder in die waardeketting te integreer deur ‘n veevoeraanleg op te rig wat die mielies omskep in vee voer wat dan weer deur kontrakgroeiers in braaikuikens omgesit word.

Dit, tesame met die oprigting van ‘n hoenderslagpale in vennootskap met die Industrial Development Corporation (IDC), verseker dat maksimum waardetoevoeging binne die gebied plaasvind. Die projek gee voortaan aan VKB die geleentheid om kwaliteitskontrole deur die hele ketting te verseker – vanaf die mielie tot by die verwerkte hoenderproduk – “from the field to the fork”. Vandaar die handelsmerk Grainfield Chickens.

Braaikuikenproduksie sal ook die volhoubaarheid van VKB se produsente verbeter deurdat dit vir hulle ‘n alternatief en stabiliteit in onseker marktoestande en weersomstandighede skep. Normaalweg dien die braaikuikenbedryf as verskanser vir die graanbedryf – as die graanpryse laag is, maak dit die braaikuikenbedryf meer winsgewend; as die graanpryse hoog is, is die braaikuikenbedryf minder winsgewend.

In hierdie projek werk VKB nou saam met die provinsiale en nasionale regering in die daarstelling van ‘n volhoubare swart bemagtigingsprojek. Gedurende die eerste fase van die projek is ses hokke geallokeer vir opkomende produsente.

Stroom-af sal die projek lei tot ‘n verhoogde vraag na mielies in die VKB produksiegebied.

Veevoerfabriek en sonneblom- en oliepers

Die veevoerfabriek sal op sy beurt ‘n mark skep vir onder andere sojaoliekoek.

Sojabone is die gewas met die vinnigste groeikurwe in die Oos-Vrystaat – produksie in dié gebied het die afgelope vyf jaar verdriedubbel as gevolg van die wisselbouvoordele van die gewas.

Uit ‘n makro-ekonomiese perspektief maak dit ook sin om sojaproduksie in Suid-Afrika te stimuleer. Daar word tans jaarliks bykans ‘n miljoen ton soja-oliekoek na Suid-Afrika ingevoer. Sojabone word suksesvol in Suid-Afrika geproduseer en die ingevoerde produk kan met plaaslik geproduseerde produk vervang word.

Verhoogde sojaproduksie sal mielieproduksie verminder en in die proses die mielieprys stimuleer aangesien Suid-Afrika normaalweg ‘n oorproduksie van mielies het en mielies gevolglik deurentyd naby uitvoerpariteit verhandel.

Hierdie oorwegings het VKB genoop om betrokke te raak by die oprigting en bedryf van ‘n sonneblom- en oliepers op Villiers, genaamd Free State Oil (Edms) Bpk, wat op ‘n tolpers-basis bedryf sal word.

Die ander aandeelhouers in hierdie projek is Sealake Industries en dr Chris van der Merwe.

Opsommend

Die waardetoevoegingsprojekte waarmee VKB tans besig is en die verwagte produksiedatum vir elkeen van die projekte word in Tabel 1 weergegee.

VKB het ‘n sterk siening dat hierdie projekte onontbeerlik is in die diversifikasie van landbou en landboubesighede en die daarstelling van volhoubare plattelandse ontwikkeling.

image

Publication: October 2011

Section: Other Articles

Search