• Login
  • Search Icon

VIR PRODUSENTE; DEUR PRODUSENTE - 'n halfeeu van Oesdaggeskiedenis

April 2016

Johan Smit, besturende redakteur: SA Graan/Grain

Wat in 1967 begin is as ‘n geleentheid vir mielieprodusente om meganisasietoerusting op ‘n nie-mededingende basis op een plek teen mekaar op te weeg, het gegroei tot ‘n gediversifiseerde landbouhandelskou van internasionale formaat. Na 50 jaar word Graan SA se NAMPO Oesdag vandag steeds gereken as die toonaangewende vertoonvenster van landbou in Suider-Afrika.

Die Oesdag het sy ontstaan te danke aan die inisiatief van drie produsente uit die Bloemfontein-distrik, naamlik mnre Moos Haddad, Hannes van Wyk en George Stegmann – destyds al drie lede van die Suid-Afrikaanse Mielieprodusenteinstituut (SAMPI). Hul drome is in dade omgesit en op 7 en 8 Junie 1967 is die eerste SAMPI Oesdag op Donkerhoek – die plaas van Hannes van Wyk – naby Bloemfontein gehou.

“Ons het die Oesdag begin omdat ons boere en masjinerievervaardigers by mekaar wou uitbring. Die sestigerjare was die oorgangstyd na grootskaalse meganisasie en dit was van die allergrootste belang vir die mieliebedryf om insetverskaffers en landbouers by mekaar te bring. Daar was ‘n wesenlike behoefte om trekkers en implemente op ‘n groter skaal te sien as wanneer slegs een maatskappy sy produkte op jou plaas demonstreer,” het Van Wyk aan Mielies/Maize (voorganger van SA Graan/Grain) in die April 1989-uitgawe gesê.

Die aanvanklike fokus was uitsluitlik op mielieproduksie; veral die meganisasie-aspek daarvan. Aangesien Suid- Afrikaanse kommersiële boerderye ter wille van volhoubare winsgewendheid toenemend ‘n geïntegreerde sakemodel begin aanneem het, het die Oesdagkomitee se keuse van uitstallers en die fasiliteite van die Oesdagterrein oor die afgelope 50 jaar dinamies in pas gebly met nuwe ontwikkelings en die nuutste boerderytegnologie.

“Ons uitgangspunt is dat as daar primêr op landbou gefokus word; dit tuis hoort by die NAMPO Oesdag. Deurlopende fokus op die behoeftes van landbouprodusente en op landbou- en landbouverwante uitstallers van gehalte, is ‘n beproefde resep,” het mnr Vic Mouton, Oesdagvoorsitter, in 2004 gesê.

Selfs nie die winde van verandering in georganiseerde landbou oor die jare het die karakter van die handelstentoonstelling verander nie. SAMPI is in 1966 gestig deur mielieprodusente wat ontevrede was met die feit dat diegene wat die mieliebedryf hanteer het, nie bona fidemielieboere was nie én hulle verkeerde hantering van die ekonomiese sake van die bedryf. Dit was, om die minste te sê, ‘n opdraande stryd om as wegbreekfaksie die sogenaamde groot mieliestryd teen die regeringsgesteunde mielie-spesialiteitsorganisasie (SAMSO) te stry en om genoegsame steun van uitstallers en die landboupubliek te wen om die SAMPI Oesdag te laat beslag kry.

Na intervensie deur die destydse Minister van Landbou, mnr Hendrik Schoeman, is eenheid in die mieliebedryf uiteindelik bewerkstellig. SAMPI en SAMSO is ontbind en het op 3 Oktober 1980 plek gemaak vir die Nasionale Mielieprodusente Organisasie (NAMPO) se totstandkoming. Die Oesdag – as ‘n prominente deel van SAMPI se bruid - skat – is gevolglik tot die NAMPO Oesdag herdoop.

Gedurende die bykans 20 jaar wat gevolg het, het die NAMPO Oesdag in elke opsig van krag tot krag gegaan. Wat aanvanklik ‘n mieliegefokusde handelskou was, is gediversifiseer en uitgebrei om die Suid-Afrikaanse landboubedryf in geheel te akkommodeer. Dit het ontwikkel tot een van die bekendste plaaslike landbouhandelsmerke en spog selfs met ‘n sterk bewustheid in die internasionale landbou-arena.

Eenwording in die graan- en oliesadebedryf het bykans twee dekades later in 1999 gevolg ná die deregulering van landboubemarking in 1997. Spesialiteitsorganisasies wat produsente uit die mielie-, wintergraan-, sorghum- asook olie- en proteïensade-bedrywe verteenwoordig het, het gesamentlik die grootste landbouprodusente-organisasie in die land gestig. Die Oesdag was weer eens deel van die bruidskat wat NAMPO na die nuutgestigte spesialiteitsorganisasie gebring het.

Die organisasie se aanvanklike benaming, die Graanprodusente- organisasie (GPO), het op 8 Maart 2000 plek gemaak vir ‘n splinternuwe korporatiewe identiteit, toe “Graan SA” eenparig deur die jaarkongres goedgekeur is. As ‘n mens oor 50 jaar terugkyk, het Graan SA se NAMPO Oesdag ontwikkel tot ‘n integrerende deel van landbou in Suid-Afrika in geheel. Dit is ‘n wenresep wat bestaan uit:

  • Moderne, eie Oesdagfasiliteite;
  • Rigtinggewende landbou-leierskap;
  • Die toewyding van SAMPI-, NAMPO- en Graan SA-hoofbestuurslede en -personeel.
  • Volgehoue ondersteuning van plaaslike en internasionale insetverskaffers;
  • Dienswilligheid van vrywilligers oor baie jare heen; en
  • Groeiende jaarlikse bywoning deur produsente en die algemene publiek.

Hoewel die beheerde meganisasie-demonstrasies vir sowat 40 jaar ‘n belangrike komponent van die Oesdag was, het die Oesdagkomitee, na goedkeuring deur die Hoofbestuur van Graan SA, ingestem dat daar vanaf 2009 nie meer praktiese demonstrasies aangebied word nie. Die besluit is geneem om uitstallers van werktuie tegemoet te kom in hul poging om kostes – en meer spesifiek die vervoer van die werktuie – te beperk en om hul voortgesette deelname aan die Oesdag te verseker. Enkele vervaardigers doen steeds demonstrasies in die lande op versoek, maar die meeste uitstallers wend sedertdien rekenaartegnologie, elektroniese tentoonstellings en selfs gesimuleerde ervarings op hul standplase aan om hul statiese uitstallings te ondersteun.

Met ‘n trotse geskiedenis wat oor vyf dekades strek, is die Oesdag vandag ‘n kombinasie van die nuutste landboutegnologie, produkverskeidenheid, innovasie, gesprekvoering, ‘n mekka van netwerkgeleenthede en landbou-gasvryheid, wat sy reputasie gestand doen as Suider-Afrika se vertoonvenster van landbou.

Oesdag – só het dit ontwikkel

1967
1. Plaas Donkerhoek naby Bloemfontein

  • Die eerste SAMPI Oesdag is op 7 en 8 Junie 1967 op die plaas Donkerhoek van mnr Hannes van Wyk gehou.
  • Die SAMPI-distriksbestuur van Bloemfontein het die Oesdag begin. Mnre Moos Haddad, Hannes van Wyk en George Stegmann was die pioniers by wie die gedagte in 1966 posgevat het.
  • Die kernfokus was om trekkers en implemente op ‘n nie-mededingende basis prakties te demonstreer sodat produsente dit self kan vergelyk.

1968
2. Plaas Hopefield naby Bloemfontein

  • Vanaf 1968 is die Vrystaatse Oesdag aangebied op die plaas van Haddad.
  • Dr AJA Roux, voorsitter van die Raad op Atoomkrag, was die hoofspreker en Fanus Rautenbach, alombekende radioman, was die aankondiger.
  • Die Landman (voorganger van SA Graan/Grain) berig in Julie 1969 dat sowat 2 000 produsente oor die twee dae in 1969 op Hopefield teenwoordig was.

1968 - 1972
3. Buiten die Oesdag op Hopefield, is bykomende oesdae in die distrikte van Hendrina en Ottosdal gehou (1969 - 1972)

  • By Hendrina, op die plaas Uitgezocht van mnr Tienie Louw.
  • By Ottosdal, op die plaas Rietvlei van mev Annie Lombard.
  • Volgens Die Landman is die normale prosedure gevolg soos wanneer ‘n produsent self sy oes sou bewerk. Demonstrasies het ingesluit dié van stilstaande dorsmasjiene, daarna selfaangedrewe en trekdorsmasjiene, waarop die omploeg van geoeste lande gevolg het.
  • Planters in aksie is bygevoeg vanaf 1970.

1973
4. Eerste nasionale Oesdag tydelik gehou op Oesdagterrein te Ottosdal

  • Na aanleiding van die Sentrale Oesdagkomitee se besluit in 1972 om vanaf 1973 die drie onderskeie oesdae in “een massiewe aanbieding” te kombineer.

1974
5. Sedert 1974 gehou op die nuwe Oesdagplaas, Marthaville, geleë naby Bothaville in die Vrystaat

  • Die SAMPI Sentrale Oesdagkomitee, onder leiding van Van Wyk, het die plaas Marthaville aangeskaf en ontwikkel met die doel om dit “die jaarlikse middelpunt van landboumeganisasie in Suid-Afrika” te maak.
  • Bothaville/Viljoenskroon-distrik is deur die Sentrale Oesdagkomitee beskou as ‘n lokaliteit wat maklik bereikbaar is vir produsente van reg oor die land. Ongeveer 80% van die destydse mielieproduksiegebied was binne ‘n radius van 160 km vanaf Bothaville geleë. Marthaville grens ook aan ‘n teerpad, wat toeganklikheid en verkeer optimaliseer.
  • Twee restaurante en toiletgeriewe – die eerste geboue op die terrein – is in 1974 opgerig. ‘n Karavaanpark is op die terrein ingerig en Rondalia het mobiele kombuis- en eetwaens en mobiele toilet- en wasgeriewe vir die duur van die Oesdae by die karavaanpark beskikbaar gestel.
  • Die Landman (Februarie 1974) beskryf die ontwikkeling van die Oesdagplaas as “‘n skitterende voorbeeld van samewerking en spanwerk tussen SAMPI se Oesdagbestuur en ‘n aantal private maatskappye en koöperasies wat die dienstema van die Oesdae op die hart dra.”
  • Jaarliks het meer as 500 vrywilligers per dag bestaande uit lede van Graan SA en sy voorgangers en/of hul gesinne asook mense uit die gemeenskap, hul moue opgerol om eet- en drinkgoed voor te berei en aan Oesdaggangers te bedien. Alle aktiwiteite op die terrein is met behulp van ‘n komiteestelsel bedryf, onder leiding van die Oesdagkomitee.
  • Vir die afgelope sowat tien jaar is die restaurante en wegneemete-kiosks egter op tenderbasis aan instansies soos skole, kerke en boereverenigings toegeken.

6. Internasionale deelname goed gevestig oor jare

  • Globalisering het daartoe gelei dat internasionale deelname, naamlik afvaardigings én individuele of georganiseerde uitstallers, reeds sedert die tagtigerjare ‘n algemene gesig by die Oesdag geword het.
  • Die Oesdag bied ’n ideale geleentheid vir internasionale uitstallers om ondersoek te kom instel of daar ‘n mark vir hul produkte in Suid-Afrika is en om kontak te maak met plaaslike verspreidingsnetwerke.
  • Waar die tagtigerjare gekenmerk is deur enkele buitelandse uitstallers – soos dié vanaf Wes-Australië en Brasilië – asook besoekersgroepe, berig SA Graan/Grain-tydskrif deurlopend vanaf 2002 van individuele internasionale uitstallers asook georganiseerde uitstallersgroepe wat aan die Oesdag deelneem.
  • ‘n Afvaardiging van Argentinië het in 2008 die eerste keer aan die NAMPO Oesdag deelgeneem – wat intussen gegroei het tot ‘n Argentynse paviljoen.
  • ‘n Samewerkingsooreenkoms is in 2010 gesluit met Expoagro, ‘n opelug landboutentoonstelling soortgelyk aan die Oesdag, wat jaarliks in Argentinië plaasvind.
  • Die groeiende belangstelling deur oorsese uitstallers het in 2010 gesorg vir ‘n groot afvaardiging vanaf Argentinië, sowat vyf Amerikaanse uitstallers en nuwe produkte uit Australië wat uitgestal is.
  • Vanaf 2011 het besoekersgroepe uit Afrika begin posvat.
  • Teen 2012 het gekombineerde uitstallings vanuit Amerika en Argentinië deel gevorm van die oorsese uitstallers, met individuele uitstallers uit Pakistan, Brasilië, Italië en Denemarke.
  • Meer as 45 internasionale uitstallers was teen 2013 by die Oesdag betrokke.
  • Internasionale afvaardigings van die volgende lande is in 2014 geakkommodeer: Amerika, Argentinië, Brasilië, Denemarke, Frankryk, Hongarye, Italië, Israel, Indië, Kanada, Oekraïne, China en verskeie Afrikalande.
  • Nagenoeg 60 internasionale uitstallers uit nege lande het in 2015 aan die Oesdag deelgeneem.

7. Insetverskaffers bewys steun en vertroue

  • Talle nuwe geboue is in 1982 deur uitstallers ingewy:
    • NAMPO Shell-inligtingskompleks (kantoorgeriewe, persgeriewe en ‘n polisiestasie)
    • Malcomess se moderne gebou op hul standplaas
    • Ford se opleidingsentrum vir werknemers op hul standplaas
    • International Harvester
    • Natuurgroei
    • Mobil museum (huisves trekkers en implemente wat tot 1917 terugdateer)
    • Bayer SA
    • Vetsak
  • Hallo daar...Mielie/Maize (voorganger van SA Graan/Grain) berig in April 1982 dat telefoongeriewe by 15 standplase beskikbaar gestel is. Na ‘n tydelike selfoontoring in 1996 gesorg het vir selfoonverbindings, het MTN en Vodacom in 1997 ‘n permanente toring op die terrein opgerig.
  • Demonstrasie-proefwerk van verskeie instansies en maatskappye is vanaf 1983 op die terrein gevestig.
  • Die Trek-toegangshekke is in 1983 in gebruik geneem. Die hekke het verseker dat besoekers vinnig die terrein kon betree. Die hekke word vandag nog deur Engen geborg en beman.
  • Teen 1983 is permanente uitstalruimtes op standplase van meer as R1,5 miljoen opgerig en nuwe gebou ter waarde van R500 000 is jaarliks tot die terrein toegevoeg.
  • Die immergewilde Graan SA/Omnia Boerepatentekompetisie is in 1988 begin en word vandag steeds op Omnia se standplaas aangebied.
  • In 1996 is die Roodebank Saadkompleks ingewy. Nuwe geboue is ook opgerig deur Staalmeester, Interlov, Sanvet, Pumpmaker en Mercedes-Benz.
  • Vooraf verkope van toegangskaartjies is sedert 2006 ingestel. Dit was tot 2014 beskikbaar deur uitgesoekte Engen-depots en Senwes-handelswinkels, totdat daar in 2015 na ‘n aanlyn elektroniese kaartjiestelsel met behulp van TicketPro oorgeskakel is.
  • Die landboubesighede NWK, Senwes en Suidwes – al drie jarelange uitstallers – het elk hul 100ste bestaansjaar tydens die Oesdag in 2009 gevier.
  • Graan SA Radio, ‘n radiostasie wat uitsaai tydens die duur van die Oesdag, het in 2012 die lig gesien. Dit word bedryf deur OFM Stereo en hou luisteraars op hoogte van verkeersvloei, gebeure op NAMPO Park, handelsnuus en aktuele landboukundige inligting.
  • ‘n Ploegkompetisie (as deel van die Wêreld Ploegkompetisie) is vanaf 2013 - 2015 deur Graan SA in samewerking met Tubestone aangebied.
  • Verskeie saadmaatskappye neem deel aan saadplotte wat in 2015 op die nuwe deel van die terrein gevestig is. Die toevoeging gee Oesdaggangers die geleentheid om verskaffers se kultivars in praktiese produksieomstandighede te bekyk en te vergelyk.

8. Oesdagterrein se fasiliteite is deurlopend ontwikkel om tred te hou

  • Die Fanie Ferreira-saal (vernoem na die eerste voorsitter van NAMPO) met bedieningsruimte vir meer as 1 000 mense op ‘n spesifieke tydstip, is danksy ‘n borgskap van Total, in 1983 in gebruik geneem.
  • ‘n Veekompleks, wat verskeie groot- en kleinveerasse én perde insluit, is in 1983 gevestig. Die vee-uitstalling het oor die jare ontwikkel in ‘n verteenwoordigende blik op meer as 90% van rasse of veegenootskappe.
  • Vanaf 1983 is voedsel ook by ander punte op die terrein voorsien.
  • Wegneemetes is vanaf 1984 op ‘n groter skaal ingestel.
  • ‘n Aanloopbaan vir ligte vliegtuie en helikopters – met ‘n bemande beheertoring tydens die Oesdagweek – is vanaf 1999 op die terrein gevestig.
  • ‘n Ligte vliegtuig word al vir ‘n hele aantal jare ingespan om die verkeer te monitor en verkeersverslae beskikbaar te stel.
  • Elektrisiteit word sedert 2000 grootmaat vanaf Eskom aangekoop en verspreiding op NAMPO Park word self gedoen. Watertoevoer en -verspreiding, riolering en vullisverwydering word ook self hanteer. Die Oesdagterrein funksioneer dus soos ‘n dorpie op sy eie.
  • ‘n 4x4-hindernisbaan is in 2000 op die terrein ontwikkel. Verskeie fabrikate 4x4-voertuie word onder praktiese toestande vertoon. Die baan is weer in 2008 opgegradeer.
  • Die NAMPO Elite bul- en ramveiling is vanaf 2001 in die veilingskompleks aangebied, maar is in 2006 gestaak aangesien dit nooit die standaard bereik het wat kenmerkend aan die Oesdag is nie.
  • Water-afleivore is in 2002 aangebring om die afvloei van water te verbeter en om van die standplase met dreineringspype droog te lê.
  • ‘n BBP-ontvangslokaal is betyds voltooi vir die Oesdag van 2002.
  • Die eerste fase van die 8 000 m2-uitbreiding van uitstalruimtes by die suidelike parkeerarea – asook die skep van ‘n nuwe parkeerarea aan die suidekant van die terrein – is gedurende die Oesdag van 2013 in gebruik geneem.
  • ‘n Ledelokaal vir uitsluitlike gebruik van Graan SA se volopbetaalde lede, is in 2006 op die terrein ingerig. Die lokaal is in 2014 na die ou Klub 200-gebou verskuif aangesien dit nader aan die lede-parkeerarea geleë is en beter fasiliteite bied om gaste te ontvang.
  • ‘n Gratis trekker-en-waentjie-vervoerstelsel met vasgestelde roetes op die Oesdagterrein is in 2015 ingestel om vervoer dwarsoor die terrein te vergemaklik.
  • Tans beslaan die beskikbare onderdak-uitstalruimte 17 060 m2 en die buite-uitstalruimtes trek die skaal op 170 630 m2.

9. NAMPO Park ‘n gewilde venue
Die tuiste van Graan SA se NAMPO Oesdag, sedert 2003 bekend as NAMPO Park, is ‘n gewilde bestemming reg deur die jaar vir konferensies, kongresse, bekendstellings en ander geleenthede. Graan SA se kongres word jaarliks hier gehou. Akkommodasie is ook op die terrein beskikbaar.

In hulle eie woorde
“Om die eerste Oesdag te organiseer het bloedsweet gekos. Trekker- en implementvervaardigers moes oorreed word om tog deel te neem. Uiteindelik het ses of sewe trekkermaatskappye ingestem, asook nog twee of drie ander uitstallers waarvan Lister een was. Eindelik het Lister die kragopwekker vir krag op die Oesdag voorsien.” – Hannes van Wyk, een van die Oesdag-pioniers.

“Ek vertrou dat die Oesdag nog eendag wêreldberoemd sal raak soos die blommefees van Holland, die Rynfeeste van Duitsland en Windhoek se karnaval.” – Die eertydse direkteur van SAMPI, dr Willie Kotze, in 1967 na afloop van die heel eerste Oesdag.

“Wanneer jy aan mense terugdink, is dit altyd moeilik om iemand spesifiek uit te sonder. Dit is egter onmoontlik om nie die drie musketiers van Bloemfontein, Moos Haddad, Hannes van Wyk, George Stegmann en hul gades, te vermeld nie. Hulle was dié met die groot idee (van ‘n Oesdag) in 1966.“ – Dennis von Abo, Oesdagdirekteur; 1983.

“Verskeie aansoeke van uitstallers vir die oprigting van permanente geboue is ontvang. Dit beklemtoon die neiging van ‘n meer permanente aard van uitstallings op die terrein.” – Callie van Wyk, Oesdagvoorsitter; 1983.

“Die Oesdag is een van daardie gebeurtenisse wat ‘n mens nie durf misloop nie, want oor drie dae is dit waar alles op die gebied van die landbou gebeur.” – Japie Grobler, voorsitter van NAMPO; 1996.

“Dit is veral vir ons insetverskaffers en vertoners waarvoor ek baie dankie wil sê. Hulle is jaar na jaar die lewensbloed van die Oesdag. Groot uitgawes word deur hulle aangegaan om miljoene rande se landboutoerusting en diere na die Oesdag te bring.” – Bully Botma, Oesdagvoorsitter; 1996.

“Ons sal daarteen moet waak om nie toe te laat dat die Oesdag in ‘n vlooimark ontaard nie. Die doel van die Oesdag is om aan insetverskaffers die geleentheid te gee om op ‘n persoonlike basis met ons boere kontak te maak en sodoende die jongste tegnologie op die gebied van landbou aan hulle oor te dra.” – Giel van Zyl, hoofbestuurder van NAMPO; 1996.

“Vanjaar – en in die toekoms – sal die klem egter steeds val op landbou- en landbouverwante uitstallers. U is ook reeds bewus van ons uitgangspunt dat ons nie getalle, hetsy besoekers of uitstallers, najaag nie. Die NAMPO Oesdag is en bly ‘n besigheidsgeleentheid, waar ‘n platform geskep word vir insetverskaffers en produsente ten einde ingeligte produksie- en aankoopbesluite te neem.“ – Vic Mouton, Oesdagvoorsitter, tydens ‘n perskonferensie in 2002.

“Die algemene terugvoer van uitstallers is dat die volume besigheid gedoen bo verwagting is en in baie gevalle selfs die vorige jare se syfers oortref. Eweneens is die terugvoer van besoekers spontaan positief oor die hoë standaard van uitstallings en van die terrein.” – Jub Jubelius, Oesdagvoorsitter; 2006.

“Graan SA se NAMPO Oesdag maak ‘n ander wêreld vir ‘n mens oop. ‘n Produsent se behoefte en fokus op sy plaas is elke jaar anders en onder hierdie groot Oesdag-sambreel is daar iets om elke produsent se spesifieke behoefte jaarliks te bevredig.” – Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter; 2012.

“Graan SA skep deur die Oesdag ‘n baie goeie netwerkgeleentheid vir alle rolspelers in landbou. Dit bied ook die ideale kans om landbou se storie aan die publiek en nielandboukenners te vertel. Die innovasie en nuwe tegnologie wat in samewerking met insetverskaffers op een terrein ten toon gestel word, is ‘n pluspunt. As jy dus tegnologies wil bybly, is Graan SA se NAMPO Oesdag die plek om te wees.” – Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA; 2012.

“NAMPO is ‘n voorloper in die transformasie van landbou in ons land. Ek het nog nooit so baie swart boere gesien wat ‘n verhaal van verandering vertel nie.” – ‘n Twiet deur Prof Jonathan Jansen, rektor van die Vrystaatse Universiteit, na sy eerste besoek aan die Oesdag; 2012.

“Die tafel is nou gedek vir aktiewe dialoogvoering by die NAMPO Oesdag. Ek vertrou dat die Nasie in Gesprek-forum, soos wat Senwes, Graan SA en vennote tydens NAMPO 2013 aangebied het asook ander gesprekvoering oor tegniese aspekte, vorentoe selfs meer waarde tot die landbou gaan toevoeg.” – Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA; 2013.

“Die infrastruktuur op NAMPO Park is oor jare geskep en uitgebrei om ‘n groot getal besoekers met gemak te hanteer en om uitstalgeriewe van ‘n hoë standaard aan uitstallers te kan bied. Selfs die aanloopbaan kon vanjaar ‘n totaal van 365 vliegtuie en helikopters oor die vier dae gemaklik hanteer. Graan SA is gerat om aanstaande jaar die 50ste NAMPO Oesdag met trots aan te bied.” – Cobus van Coller,  Oesdagvoorsitter; 2015.

“Buiten dat die NAMPO Oesdag wêreldwyd vir Suid- Afrika ongelooflike goeie reklame meebring, is dit ‘n absolute noodsaaklike gebeurtenis vir enige kommersiële boer. Dit is die plek waar jy alles bymekaar op een plek sien en aankoops besluite kan neem. Hier is ook ongelooflike netwerk geleenthede. Dit is die plek om te wees as jy in landbou is.” – Johan Loxton, bestuurder: Kommersiële Dienste van Graan SA; 2015.

“Minister Zokwana se teenwoordigheid was ‘n pluimpie vir Graan SA en vir landbou in die breë. Hy is waarskynlik die eerste landbouminister sedert 1994 om die Oesdag te besoek. Dit beklemtoon die NAMPO Oesdag as ‘n gesaghebbende platform vir dialoog, gesprekvoering en netwerking.” – Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA, na die besoek van Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, aan die Oesdag in 2015.

Publication: April 2016

Section: NAMPO

Search