• Login
  • Search Icon

Vir elke plantluis is daar 'n tyd om te trek

June 2016

GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

Vir elke plantluis is daar 'n tyd om te trek

Dit is alreeds bekend dat die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) betrokke is by 'n projek in samewerking met die Universiteit van Pretoria en Aartappels Suid-Afrika by die monitering van plantluise wat plantvirussiektes kan oordra.

Die projek is daarop gemik om plantluisgetalle wat die garsgeeldwergvirus na koring en aartappelvirusse na aartappels kan oordra, te monitor. Die inligting word aan die produsente deurgegee sodat hulle 'n besluit oor die beheer van virusoordrag kan maak.

Aartappels Suid-Afrika monitor die plantluisgetalle met behulp van nege suigvalle, terwyl die LNR-KGI vier suigvalle tot die netwerk toegevoeg het. Aangesien sommige plantluisspesies op 'n wye reeks gasheerplante voed, is hulle in staat om virussiektes na beide gewasse oor te dra. Een van die heel bekendste plantluise wat dit kan doen, is hawerluise (Foto 1). Sedert die vorige artikel in SA Graan/Grain, het daar nog 'n jaar verloop waarin daar data ingesamel is.

Luisgetalle en droogte?

Gedurende 2015 het plantluisgetalle redelik sterk afgeplat in die meeste van die gebiede en 'n hele paar spesies het nie gedurende die tydperk in die gebiede voorgekom nie (Tabel 1). Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan droogtetoestande wat die beskikbaarheid van gasheerplante en dus die plantluispopulasiegroei beïnvloed het.

Vir elke plantluis is daar 'n tyd om te trek

'n Afleiding wat mens onmiddellik wil maak, is dat virusoordrag nie in droë jare belangrik is nie. Dit is egter nie waar nie, want sommige plantluisspesies kom dan juis reg in die middel van die koringseisoen voor.

Vlugpieke kan skuif

In die Brits-omgewing het die hawerluis gedurende 2015 in redelik gemiddelde getalle tussen Januarie en Maart voorgekom (Grafiek 1). 'n Tweede, groter piek het egter tussen Junie en Augustus voorgekom. Hierdie piek was reg in die middel van die groeiseisoen vir koring (Grafiek 1). Die voorkoms van sulke getalle kan baie gevaarlik wees, sou die hawerluise met die garsgeeldwergvirus besmet wees.

Vir elke plantluis is daar 'n tyd om te trek

Onbevestigde berigte van virusbesmettings in koringlande in die gebied het voorgekom. Hoewel die totale plantluisgetalle van die jaar minder was, was die ver spreiding van só 'n aard dat dit gevaarlik was (Grafiek 1). Ons kan dus nie uit die data die afleiding maak dat die virusprobleem in droër jare kleiner is nie.

Die voorkoms van garsgeeldwergvirus in gasheerplante waarvandaan die plantluise migreer het, was moontlik baie laag en het uitbraak beperk. Mielieplantluise het gedurende Januarie tot Maart in die Britsgebied in drasties hoër getalle voorgekom as die vorige jaar, maar was van geen gevaar in die koringseisoen nie (Grafiek 1).

In Winterton was die hawerluisgetalle laer as normaalweg, maar die pieke het ongeveer op dieselfde tyd voorgekom (Grafiek 2). Die bruinaarluise het egter in hoër getalle gedurende Mei en begin Junie voorgekom (Grafiek 2). Dit is net voor die koring opkom en kan gevaarlik wees as daar gras is waarop hierdie luise kan oorleef. Die mielieluis het gedurende 2014 in Februarie tot Maart 'n hoër piek gevorm, maar dit het geen gevaar ingehou nie (Grafiek 2).

Vir elke plantluis is daar 'n tyd om te trek

Watter afleidings kan ons maak?

Uit die data tot dusver beskikbaar, kan duidelike vlugpieke tussen verskillende plantluise en verskillende gebiede onderskei word. Vlugpieke kan ook tussen jare verskil en dit kan ook 'n beduidende invloed op virusbesmetting uitoefen. Indien 'n vlugpiek vroeër voorkom, kan dit beteken dat dit skuif na 'n periode waarin koring nog nie beskikbaar is nie. Dit kan egter ook beteken dat hierdie plantluise van 'n nie-skadelike na 'n skadelike tydperk skuif. Dit is dus belangrik om dit te monitor.

In Europa word die ontwikkelingsdrempelwaarde en ontwikkelingstyd van die plantluise, die vlugdata en die viruslading van die plantluise, alles saamgevoeg en gebruik in 'n model om die produsente te waarsku. Soos meer van hierdie inligting in Suid-Afrika bekend word, kan ons ook in hierdie rigting beweeg.

Vir verdere inligting kontak Goddy Prinsloo by Prinsloogj@arc.agric.za of 058 307 3435.

 

Hierdie navorsing is moontlik gemaak deur finansiële bystand van die Wintergraantrust en die LNR.

Publication: June 2016

Section: On farm level

Search