09/06/17

KLIK HIER VIR DIE AFRIKAANSE WEEGAWE CLICK HERE FOR ENGLISH VERSION

DROOGTEHULP UIT OORVLOED

Met die knellende droogte van veral skaapboere in die Noord- en Wes-Kaap, en meer spesifiek in Namakwaland en Boesmanland, het Graan SA op 1 Junie 'n droogtehulpprojek geloods onder al sy graanprodusente. Dit volg nadat 'n groep boere in die Hoopstad-omgewing reeds aksies van stapel gestuur het om mielieskenkings in te samel en na boere in nood aan te ry.

“Dit is vir ons baie belangrik dat alle boere in nood gehelp moet word, ongeag ras, geslag of lidmaatskap van georganiseerde landbou” het Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA gesê. “Ons gaan poog om ten minste 15 000 ton wit- en/of geelmielies in te samel en dit oor so drie tot vier maande te versprei. Ons het laas jaar die droogte in sy felheid beleef en wil nou graag uit ons oorvloed ander seën.” het De Villiers gesê.

Graan SA het, in samewerking met verskillende landboubesighede, toegewysde leweringsnommers geregistreer om skenkings te ontvang. Die deelnemende landboubesighede het die skenkings van opberging- en hanteringskoste vrygestel. Agri Noord-Kaap neem die verantwoordelikheid om die mielies te vervoer en te versprei. Die landboubesighede wat alreeds deel hiervan uitmaak is Senwes, AFGRI, NWK, GWK, Suidwes, OVK en TWK. Daar is ook alreeds heelwat vervoermaatskappye wat hulp kom aanbied het om die mielies te vervoer. Die Noord-Kaap regering het ook fondse bewillig om vir die vervoerkoste in te staan. Bykomend hiertoe, het Agri SA van die laaste fondse uit die 2016 Droogtehulp-rekening vir vervoerkoste bewillig. Die eerste 300ton mielies is alreeds afgelewer en dit is so bemoedigend as almal saamwerk!

De Villiers het alle rolspelers bedank vir hul gesindheid. Die probleem gaan nog ‘n wyle met ons wees, maar waar daar ‘n wil is, is ‘n weg. Indien daar ander rolspelers is wat nog wil deel vorm van die projek, kan hulle gerus met Graan SA of Agri Noord-Kaap skakel.

Einde

Uitgereik deur:
Graan SA Kommunikasie

Verdere navrae:
Jannie de Villiers, HUB, Graan SA
086 004 7246 | pretoria@grainsa.co.za | www.grainsa.co.za  

GRAAN SA GRAIN SA
Posbus 74087 PO Box 74087
Lynnwood Ridge 0040
+27 (012) 816 8034 www.grainsa.co.za
+27 (086) 724 2764 alzena@grainsa.co.za