• Login
  • Search Icon

Verseker dat die toepaslike dekking in plek is

May 2013

ANDRIES WIESE, MUTUAL & FEDERAL

Daar is sommige dinge in die lewe wat jy nie met ‘n haelgeweer of sweep kan uitsorteer nie. Dit maak nie regtig saak of jy êrens in ‘n voorstad woon, ‘n besigheid bestuur of boer nie, jy is blootgestel aan vele risiko’s wat jou finansieel kan kelder.

Die probleem lê juis daarin dat ons dikwels glo slegte dinge gebeur net met ander. Só ‘n volstruisuitkyk is half gerieflik in die kort termyn, maar is baie kortsigtig. Die beskerming van jou bates en produksiemiddele behoort ‘n integrale deel van jou bestuurspraktyke en finansiële beplanning te wees. Daarsonder kan die spreekwoordelike gans wat die goue eiers lê se nek dalk net omgedraai word en jou turf sit!

Produsente is onkant gevang tydens die afgelope maande se arbeidsonrus toe ongelukkige werkers skade aan eiendom aangerig het. Pakskure is afgebrand, wingerde brandgesteek, voertuie bestook en hele gemeenskappe ontwrig.

In sommige gevalle is skade aan infrastruktuur aangerig en het oproeriges hele gemeenskappe en plaaslike ekonomieë lamgelê. Dit is duidelik dat elke grondeienaar, sakeman, produsent en privaat individu die werklikheid in die oë moet kyk en besef dat hierdie tipe voorvalle meer en meer voorkom.

Die vraag is nou of daar enige manier is waarop jy jouself kan beskerm teen hierdie optrede en, indien wel, wat staan ‘n mens te doen om dit reg te kry? Die kort antwoord is ja, ‘n mens kan jouself beskerm teen hierdie tipe gebeure. Die meeste produsente sal ‘n basiese korttermynversekeringspolis hê wat onderskryf word deur ‘n algemene versekeraar. Dit is jou vertrekpunt.

Oproerdekking binne die grense van die land word egter pertinent uitgesluit aangesien SASRIA die eksklusiewe reg het om hierdie tipe dekking te bied. Dit beteken maar net dat jou gewone polis nie enige skade sal dek wat die direkte gevolg is van oproer nie.

Jy het nodig om ‘n SASRIA polis hiervoor uit te neem. Miskien sal dit duideliker wees as ek dit aan die hand van ‘n voorbeeld verduidelik: Jou laerskoolseun en sy vriend steek jou voerskuur aan die brand terwyl hulle lig probeer maak met vuurhoutjies. Jou skuur is in terme van jou basiese polis gedek teen brand en so ook die inhoud. Jou versekeraar sal die eis betaal.

Hierteenoor is daar ‘n loongeskil op jou buurman se plaas en sy werkers kom in opstand en oproer breek uit. Terwyl hulle protesteer, steek een van die belhamels jou buurman se voerskuur aan die brand om sy misnoeë te kenne te gee. Buurman se basiese polis dek ook sy voerskuur en dié se inhoud. Sy versekeraar sal egter nie die eis betaal nie, aangesien die oorsaak van die brand die oproer was. As Buurman wel SASRIA dekking uitgeneem het, sal SASRIA die eis hanteer.

SASRIA is ‘n spesialisversekeraar wat spesifiek voorsiening maak vir dekking teen oproerverwante skade of wat daardeur veroorsaak is. Wat egter belangrik is, is om te weet dat (behalwe vir motorvoertuie) daar ‘n onderliggende polis moet wees wat die verlies sou dek indien dit nie ‘n oproereis was nie. Jou buurman hierbo kon dalk ‘n SASRIA polis uitgeneem het op sy voerskuur, maar het nagelaat om die dekking op sy onderliggende polis uit te neem. Sy eis sal nie deur SASRIA betaal word nie aangesien daar nie ‘n onderliggende polis is wat dieselfde gevaar dek nie.

Die les hierin is dat jy moet sorg dat jou basiese polis al jou bates en produksiemiddele dek wat jy nie self kan vervang nie. Dit sluit ook jou oesversekering in. Kry dit in plek en dan maak jy seker dat daar SASRIA dekking vir dieselfde bates in plek is.

SASRIA bied polisse aan wat die onderliggende polis “volg”. Dieselfde bates wat in die onderliggende polis gedek is, sal dan in die SASRI polis gedek wees teen oproer. Motorvoertuie kan egter losstaande SASRIA dekking verkry.

Sou jy dus die noodlot wil tart, kan jy net SASRIA uitneem op jou bakkie sonder om hom andersins te verseker. Onthou net dat SASRIA nie gaan betaal vir die skade wat aangerig is deur die boom waarin jy vasgery het nie! Dit is duidelik dat risikobestuur al hoe meer ingewikkeld en noodsaaklik raak vir vandag se produsent.

In die lig van die voorafgaande inligting, is dit nodig om ‘n tree of wat terug te gee en net weer ‘n slag te gaan kyk na jou basiese versekering.

Hoe benader jy dit? Soos reeds gesê, behoort die beplanning van en aankoop van korttermynversekering deel van jou finansiële bestuurspraktyke te wees. Omdat elke produsent en sy werf verskil van enige ander produsent, is dit haas onmoontlik om resepmatig ‘n enkele oplossing vir almal te bied.

Om die oplossing te vind vir jou besondere omstandighede, het ‘n mens nodig om die saak logies te benader. Daar is ook ‘n paar basiese beginsels en begrippe waarmee jy vertroud moet wees om die ding reg te bestuur.

Die goeie nuus is dat kundige advies wel geredelik beskikbaar is deur jou versekeringsmakelaar en ook jou versekeraar. Maak egter seker dat jy met ‘n makelaar besigheid doen wat gelisensieer is deur die FSB/ FDR en wat sy of haar regulatoriese eksamens geslaag het – anders dobbel jy met jou bates.

Jou blootstelling aan risiko gebeur op ‘n paar vlakke:

  • Voertuie (dit sluit alles in met wiele)
  • Vaste bates (store en skure)
  • Roerende bates (gereedskap, masjinerie en voorraad, soos saad en kunsmis)
  • Mense (jy, jou gesin en jou werknemers)
  • Aanspreeklikhede (wanneer ander mense skade ly deur jou bewuste of onbewuste toedoen – dit sluit goed in soos aanjaag van vee en brandverspreiding)

Dit is nodig dat jy ‘n analise van jou eie omstandighede doen en dan die regte dekkings in plek kry. Die maklikste is om by jou bateregister te begin en van meet af aan eerlik te wees met jouself oor wat jou boerdery self kan dra en wat ‘n spelskuiwer vir die boerdery gaan wees indien jy dit verloor.

Daar is werklik soveel alternatiewe wyses waarop ‘n mens dekking vir verskillende goed kan kombineer, dat dit ‘n vakkundige sal verg om die regte en volledige advies te lewer, pasgemaak vir elke kliënt.

Gaan kry ‘n vennoot, ‘n makelaar wat jou belange op die hart dra en voldoen aan die nodige kriteria. Hierdie persoon speel ‘n ongelooflik belangrike rol in die korrekte samestelling van dekkings en sal seker maak dat jou hele risikoprofiel en bates geïntegreerd is om sodoende te verseker dat die toepaslike dekking in plek is.

Die gebeure in die Wes-Kaap het duidelik gewys dat skade nie net beperk word tot die direkte materiële nie, ook die nadraai hou implikasies in vir die produsent sowel as die gemeenskap en groter ekonomie.

Dink jou hierdie scenario in: Jou oes is afgebrand, jou stoor met die trekkers in ook en vir die volgende klompie maande het jy geen vooruitsig op ‘n inkomste nie…

Indien jy tydig en korrek verseker word, sal jy ten minste die gemoedsrus hê dat jou skade gedek word, jou inkomste vervang word en jy sal kan voortboer. Dit is haas onmoontlik om werklik volledig na die saak te kyk binne die bestek van ‘n artikel en jy word ten sterkste aangeraai om ‘n indringende gesprek met jou versekeringsmakelaar te voer.

Daar is definitief maniere om jouself te beskerm teen die onvoorsiene en ondenkbare. Deur jou kop in die sand te begrawe, gaan jy niks bereik nie. Om te baklei, te skiet en te slaan ook nie. Gebruik die middele tot jou beskikking en beplan deeglik sodat jou risiko op verantwoordelike en finansieel verantwoordbare wyse bestuur word.

  • Gebruik ‘n gekwalifiseerde makelaar;
  • Maak seker jou onderliggende polis is in plek en reg; en
  • Kry SASRIA vir die oproerigheid.

Publication: May 2013

Section: Input Overview

Search