• Login
  • Search Icon

Verlos van die runderpes

January 2012

– Januarie 2012

image

Beste Grootneef,

Na ‘n maand van overdaad en feesdae lê hef aan nou weer voor. Daar is net eenvoudig nie ‘n kortpad Krismis toe nie. Twaalf maande skouer aan die wiel kêrels, want daar is steeds die Wet van Transvaal!

Dit laat my dink aan die staptog vir “ekonomiese vryheid” van Johannesburg tot by die Unie-gebou einde verlede jaar...Staptogte en nagwake ten spyt, dieselfde moeilikheid sit in die nuwe jaar steeds wit in die blom. Oor wat met ekonomiese vryheid bedoel word, het ‘n segsman sonder om ‘n oog te knip, in geradbraakte Brits laat wiel oor onteiening sonder vergoeding en nasionalisering van myne. Nie syne nie, myne...

Dit is waarskynlik die grootste uitdaging vir 2012 – die verwagting van arm mense met niks, dat nasionalisering van myne en onteiening van grond, hul lot sal verlig. Feit soos ‘n koei, ‘n myn sonder wins, is gougou net ‘n hoop klippe. En grond sonder wins daaruit, net ‘n hoop stof. Die hele Afrika lê vol grond – eers as dit wat daarop gedoen word wins bied vir die eienaar, raak dit iets werd. Grond sonder wins, is grond sonder hoop. Ou Neef, hoe verduidelik jy dit aan mense wat dink ‘n grondgrypery los oornag alle probleme op?

As ek nou kon werk uitdeel vroeg in die nuwe jaar, sou ek sêg dat onse landbouleiers hierdie waarheid hard en duidelik moet uitdra. Die boodskap is eenvoudig: daar is nie ‘n kortpad Krismis toe nie. Weet die hoogeres in die owerheid dit? Weet Jan Publiek dit? Feite, niemand gaan die boodskap van volhoubare landbou en voedselsekerheid dra as ons dit nie self doen nie. En as ons nie weet hoe om die boodskap in vandag se tyd te dra nie, kry iemand wat daardie binnewerke van praat op die regte manier verstaan om ons te help!

Dit raak nou laat in die nag. Ons moet nie eendag dikbek vir ons kinders sit en vertel hoe kwaad ons geword het nie. Ons moet kan vertel hoe kreatief ons deure van redelikheid kon oopkry met die regte boodskap!

Ou Neef, as ek deesdae in die volk se blad of die Sondagwaarheid lees van boere, is dit meestal vir die verkeerde redes. Onthou, die mense skryf graag oor ‘n geskietery op kinders wat visvang, of ‘n rusie met werkers wat hand uitruk. Ons moet ook hand in eie boesem slaan en sorg dat krom en skewe dinge nie op ons plase gebeur wat ‘n negatiewe beeld van ons boeregemeenskap uitstuur nie. Een afbrekende voorval vernietig jare se harde werk om vertroue te bou.

Maar genoeg hiervan. Goeie nuus is dat die runderpes uiteindelik uitgeroei is. Runderpes ry veeboere bloots vanuit die vroegste tye – die Romeine het al daaroor geskryf! Die pes het oral hongersnood gesaai as gevolg van massiewe beesvrektes waar die pes sy spoor gelaat het. Die Internasionale Diere Organisasie het laat weet dat al 198 lande waar runderpes voorgekom het, nou daarvan vry is. Sela.

Kom ons hoop dat 2012 die jaar is om van alle soorte runderpes om ons ontslae te raak. Dalk net is 2012 die jaar om die koring van die kaf te skei.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: January 2012

Section: E-mails

Search